Vrye Weekblad: Leroux se laaste bly onduidelik

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Skrywer: Eduan Swanepoel
Publikasiedatum: 1990/10/19

DIE SUIWERSTE HUGENOOT IS JAN SCHOEMAN
Deur Etienne Leroux
Human & Rousseau (R69,99)

EDUAN SWANEPOEL

Die besondere verhouding tussen uitgewer en skrywer vind soms neerslag in die publikasie van 'n buitegewone boek. Hierdie soort huldeblyk dra nie alleen by tot die erkenning van die bydrae wat 'n skrywer maak in 'n gemeenskap nie, maar bevestig ook die uitgewer se ingesteldheid tot en verantwoordelikheid teenoor 'n breë kunstenaars- en lesersgroep.

Die publikasie van Etienne Leroux se laaste onvoltooide roman-manuskrip "Die Suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman" deur Human & Rousseau, wil so 'n huldeboek wees. Dit bestaan uit twee dele. Eerstens is daar die onvoltooide roman-manuskrip waarin vertel word van die reis wat die hoofkarakter onderneem na die 300-jarige herdenkingsfees van die Franse Hugenote se koms na Suid-Afrika. Dis 'n reis wat in baie opsigte skerp satiriese kommentaar lewer op Suid-Afrika in die tweede helfte van die 1980's. In die tweede deel vind die leser die aantekeninge wat die skrywer gemaak het tydens die skryf van die roman. Talle bronne word vermeld, verklarings gegee en aantekeninge oor sosiale en politieke aspekte opgeteken.

Wat opval in hierdie publikasie, is die formaat. Die oorspronklike manuskrip, gedruk op goeie papier, word in hardebanduitgawe in A4-grootte aangebied. Op die voorblad is 'n volbladafbeelding van Leroux se gesig. Die besonderhede herinner aan 'n ander huldeblyk wat jare gelede oor deur Human & Rousseau gepubliseer is.

D.J. Opperman se laaste voltooide digbundel "Komas uit 'n bamboesstok" is in soortgelyke "volksboek"-formaat gepubliseer. Dié vergelyking wat onwillekeurig ontstaan, bring 'n belangrike literêr-morele kwessie na vore: behoort die onvoltooide, onafgeronde werk van 'n skrywer sonder meer in glansformaat gepubliseer te word?

Opperman se huidige kopiereghouer het konstant geweier dat sy onvoltooide laaste manuskrip gepubliseer word omdat sy literêre integriteit daardeur aangetas sou word: onvoltooide manuskripte is nie literêre produkte nie en behoort daarom nie sonder meer gepubliseer te word nie.

Myns insiens sou die insluiting van 'n korrektief in die vorm van 'n literêr-teoretiese redaksionele hand die morele probleem hier kon uitskakel. Die ontstaans- en ontwikkelingsgeskiedenis van die manuskrip bly onduidelik. Dit wil voorkom asof die grootste deel van die skryfwerk in 1987 en aan die begin van 1988 gedoen is met die bedoeling dat die publikasie van die voltooide roman met die Hugenote-herdenkingsfees in 1988 sou saamval. Waarom Leroux die manuskrip nie toe en ook nie later (kon) voltooi nie, bly 'n kernvraag wat onbeantwoord gelaat is.

Wat Kannemeyer in "Die galeie van Jorik" gedoen het, nl. die verklaring van die totstandkoming van die Opperman-teks, sou die korrektief kon wees om dié Leroux-manuskrip in publikasievorm van literêre kuriositeitstatus te transformeer tot 'n literêr-akademiese gefundeerde publikasie.

--

Eduan Swanepoel doseer Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Natal in Durban.