Vanweë die onbewuste - besprekings van Etienne Leroux se romans (Tydskrif vir Letterkunde, 1989-05-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Hierdie bundel is as huldeblyk aan Etienne Leroux aangebied by geleentheid van sy vyf-en-sestigste verjaardag.

Daar kom uit die bundel uiteenlopende sienings omtrent die werk van Leroux na vore. Dit lyk bv. of daar nog geen ooreenstemming is oor die feit of Leroux geïnterpreteer moet word as oorwegend satiries, ironies of selfs "betrokke" in die sin van engagé nie - miskien ook nie vreemd in die lig van uitsprake wat die skrywer self oor sy werk gelewer het nie. In 'n onderhoud wat op 13 Nov. 1982 in Beeld gepubliseer is, het die skrywer na bewering gesê dat sy jongste roman Onse Hymie 'n "sterk sosiaal-politieke strekking" het, dat die satire in die boek sterker is as in sy vorige romans en dat die ironie eers teen die einde na vore tree.

In 'n onderhoud met H.P. van Coller, wat op 11 Junie 1982 in 'n SAUK-program uitgesaai is, sê hy: "Iemand wat satire skryf, is uiteraard 'n moralis. Hy wil 'n ding verander. Hy het 'n bepaalde morele uitgangspunt. Ek het in Magersfontein die ironie oorkoepelend gemaak, met die satire onder". Hy sê verder dat hy probeer het om met dié roman "'n boek van suiwer ironie" te skryf waar hy "buite die satire staan", maar dat hy dit na sy mening nie heeltemal reggekry het nie.

Ten opsigte van Onse Hymie sê (in die SAUK-program Leeskring, op 27 Jan. 1983 uitgesaai) t.o.v. die verskerpte satiriese aanslag in die boek dat hy nog "sukkel" met die ironiese.

In 'n bydrae getiteld "Die 'janee' van 'n jakkals - die kommunikasie van ironie in die romans van Etienne Leroux" diagnoseer Johann Johl "'n ironies-geaktiveerde betrokkenheid" in o.m. Magersfontein, o Magersfontein, en hy kom tot die gevolgtrekking dat Leroux m.b.t. ironie en ironisering in Onse Hymie by 'n kruispad gekom het. Hy meen dat die roman "die versnelde deurvoer van kosmiese ironie tot sy relatiwistiese konsekwensies, nl. pessimisme en nihilisme" bring (12). Hy benoem hierdie ironie as 'n post-modernistiese ironie en spreek self die vermoede uit dat die konsep ironie miskien aangetas word deur die uitskakeling van die "objektiverende afstandsblik" (13).

Ek meen Johl onderskei nie voldoende tussen ironie en satire nie. Dit hang saam met die feit dat hy - soos trouens alle skrywers oor die ironie - oënskynlik wegskram van 'n poging tot definiëring van die konsep om dit o.m. duidelik van die satire te onderskei.

Johl sluit in sy hantering van die ironie in groot mate aan by bekende skrywers oor die onderwerp soos Muecke, Amante e.a. geeneen van hulle slaag egter m.i. daarin om die bestaande verwarring uit die weg te ruim nie. So iets is m.i. slegs moontlik as konsekwent aangesluit word by die siening van skrywers soos Theresa Sandok, V. Jankélvitch, Cyrus Hoy, A.M. Roy e.a. Hulle wil weer die konsep van die ironie terugvoer na Sokrates en sien dit (in die woorde van Roy) as "an ironic approach to life, (...) with positive value attached", 'n benadering wat spruit uit 'n bewustheid van onoplosbare lewensteenstrydighede. Verwarring spruit m.i. ook uit die feit dat mettertyd, as gevolg van 'n metonimiese verskuiwing, die term ironie gebruik is om manifestasievorme van die suiwer ironie (die ironie as geesteshouding) te benoem. Hierdie houding word meestal op 'n indirekte wyse uitgedruk deur die gebruik van stilistiese tegnieke soos antifrase, dubbelsinnigheid en paradoks. Dit lei ook tot verwarring met die satire, wat van dieselfde stylmiddele gebruik maak.

'n Verskil in uitgangspunte lei daartoe dat ek met bepaalde stellings in Johl se bydrae nie kan saamstem nie. Ek verwys in die eerste plek na sy gebruik van die terme "teikengroep wat geïroniseer word" en van hierdie teikengroep as "ironiese slagoffers". Hoewel die ironikus vir 'n uitgesoekte gehoor skryf, is dit m.i. nie die doel van die ironikus om te mislei nie. Die ideale leser van die ironiese werk is m.i. juis dié leser wat die ambivalente siening en segging van die ironikus snap.

Ek vind dit ook jammer dat Johl nie duidelik motiveer waarom hy die satire as dominant beskou in die eerste siklus nie (vgl. 5). Dit is verder nie vir my duidelik wat bedoel word as hy sê dat die "toon" van die romans in die tweede siklus "satiries-ironies" bly nie. M.i. kan die vertelhouding in 'n roman wel afwisselend satiries en ironies wees, maar nooit 'n gelyktydige mengsel van die twee nie. Uit die konkrete skrywer se kommentaar, wil dit voorkom of hy ook so oor die saak voel. Johl beweer verder dat die ironie in Sewe dae by die Silbersteins dikwels "satiries-ironies" as "instrument" benut word (5). Ek glo nie die ironie kan ooit as instrument benut word nie. Dit wil my voorkom of Johl hier die semantiese inversie waarvan die satire dikwels gebruik maak as "ironie" beskou. Die ironie maak wel ook van semantiese inversie gebruik, maar by die satiriese vertelhouding is hierdie inversie satiries en nie ironies van aard nie. Muecke het alreeds gewys op die onversoenbare verskil tussen die satire en die ironie met sy stelling: "While the manners of men are the domain of the satirist, the morals of the universe are the preserve of the ironist".

Sonder om te diep op hierdie ingewikkelde saak in te gaan, kan ek slegs sê dat dit daarop neerkom dat my siening van die ironiese in bepaalde wesentlike opsigte verskil van dié van Johl. Dit is natuurlik in die domein van die ironie niks buitengewoons nie!

Ek vind die bydraes van Robert Berner interessant en leesbaar, ook omdat hy hom nie net beperk tot 'n narratologies-strukturele analise nie. In "Etienne Leroux: a Jungian introduction" maak hy dit duidelik dat "some knowledge of Jung is essential for an understanding of 18-44" (20), en hy verskaf hierdie agtergrond kort, bondig en verstaanbaar. Hy skram ook nie weg van die "basic critical question" van in watter mate 'n skrywer kennis van 'n "special system of though" van sy leser mag verwag nie (vgl. 20).

In sy bydrae "Apartheid en Leroux's 'Welgevonden' trilogy" wys hy op die onhoudbaarheid van bv. Nadine Gordimer se afwysing van Leroux bloot op grond van die feit dat sy hom nie as sosiaal-betrokke genoeg beskou nie. Hy spreek ook die mening uit dat Leroux se intensie in die Welgevonden-trilogie basies metafisies en nie satiries nie van aard is. In 'n ideologiese lesing plaas hy die roman duidelik in die humanistiese tradisie, "because the novel's real subject is the necessity for man to rise to his humanity by removing himself from God" (136). Ek kom verderaan weer hierby.

Na aanleiding van wat hy noem "(the) conjunction of Leroux's Jungian preoccupations and the doctrine of justification" trek hy 'n parallel tussen "the South African experience" en die nasionale geskiedenis van die Amerikaners t.o.v. die klem op "tribal identity" en "the exclusiveness of a 'chosen people'" (138). Hy werp ten slotte ook 'n interessante lig op die rol wat Leroux se werk in die Suid-Afrikaanse opset kan speel, 'n rol wat hy hoër skat as "a mere literature of 'social protest'" (139).

In "Etienne Leroux en de literatuur van de jaren tachtig" - nog 'n besonder leesbare bydrae - stel Hans Ester die vraag na die betekenis van die "Afrikaner letterkunde" as weerspieëling van die Suid-Afrikaanse samelewing en na die plek van Leroux binne die literêre ontwikkeling van die afgelope decennia aan die orde (vgl. 103). Hy bring dit in verband met 'n nuwe rigting in die literatuurwetenskap, die "sociale geschiedenis van de literatuur" (104).

Hy ondersoek o.m. die vraag waarom aan die boek so 'n besondere plek in die lewe van die Europese mens toegeken word en waarom die skrywer - volgens Ester nie heeltemal ten regte nie - as belangrikste seismograaf van sy tyd beskou word. Hy open hier interessante perspektiewe (vgl. pp. 104-105) wat gerus verder ondersoek kan word.

Die rol wat ideologie in die resepsie van o.m. Leroux se werk speel, word in hierdie bydrae ook duidelik uitgelig. Ester bring bv. André P. Brink se vroeër lof vir Leroux as satirikus en die feit dat hy Onse Hymie onder Leroux se mislukkings skaar in verband met die feit dat Brink lg. werk beskou as die skrywer se ontvlugting uit 'n onhanteerbare situasie (vgl. 109).

In "Kortpad na betrokkenheid" sê D.H. Steenberg interessante dinge omtrent o.m. die aard van ideologieë (vgl. 118 en elders). Hy stel in die vooruitsig dat hy gaan aantoon hoe die "politieke teenpole van apartheid en rewolusie" in Leroux-romans aangebied word. Die bydrae het my egter onbevredig gelaat, o.m. omdat Steenberg nalaat om aan te toon hoe die ironiese visie in die romans telkens (doelbewus?) die satire ontkrag. Dit geld ook die vermeende "betrokkenheid".

Heilna du Plooy onderneem 'n indringende (en ideologies-onskuldige) ondersoek na die narratologiese strukturering van 18-44. Haar gebruik van die terme storie en verhaal om te onderskei tussen die basiese en die gestruktureerde verhaal hinder. Vgl. haar teenstrydige gebruik van verhaal as "artistieke weergawe van die storie in die teks" - 26 met "verhaal en verhaallyne wat gerekonstrueer kan word uit die teks" (mu kursivering wat daarop dui dat sy hier eintlik "storie" bedoel) - 31.

Charles Malan se bydrae "Die krisis van die subjek in die soektog na betekenis" (ongelukkig met spel- en taal-(druk-?)foute soos "onvergangklikheid", "goddelikke", "ontkragtigde", "Osirus") sê, aan die hand van o.m. Derrida, interessante dinge omtrent die Leroux-ideologie. Dit wil voorkom of Malan ook 'n wesenlike anti-religieuse ideologie (vgl. hierbo) by Leroux aflei. Hy stel dit so: "Kortom: Leroux was die apologeet van die kerk se grootste vyand in ons tyd, nl. subjektiwiteit, en daarmee saam die gebrek aan absolute kennis. Watter gesag kan die teks, die woord en die Woord, hê indien die subjek en sy ervaring oppermagtig word?" (57) Hy kom tot die slotsom: "Dit is ironies dat Leroux met sy 'mislukte' ondersoek na die aard van Teenwoordigheid vanuit 'n postmodernistiese perspektief waarskynlik veel ontstellender dinge te sê het as dit waaroor die geestelikes i.v.m. Sewe dae begaan was. Die feit dat 18-44 nie deur die morele beswaarmakers negatief herskryf is nie, sê moontlik iets oor die geslepenheid wat Leroux en sy karakter Henry gemeen het" (70).

Afgesien daarvan dat die suggestie dat die tipiese Leroux-soektog na individuasie neerkom op 'n ontkenning van die bestaan van 'n metafisiese Teenwoordigheid m.i. bots met uitsprake van Jung t.o.v. die verband tussen die individuasieproses en die religieuse en t.o.v. sy bekende kwaterniteit as die voorstelling van die wyse waarop God hom in Sy skepping manifesteer (vgl. ook die redes vir sy breuk met Freud), lyk dit of Malan se interpretasie dat die "seepbel van Teenwoordigheid (...) in 18-44 geprik" word (67) deurdat daar aan die einde van hierdie roman geen "geheelde Self" is nie (70), bots met o.m. Berner se interpretasie. Hiervolgens het Y aan die einde van 18-44 wel op letterlike vlak die vier vroue in sy lewe verloor, maar die vier funksies wat hulle verteenwoordig, behou in die finale sintese wat hy bereik (vgl. 17). Berner sê ook: "(...) the final pages of 18-44 are a testament to the power of that art which is only the achievement of an integrated personality" (21). Malan se interpretasie van die knolskrywer se siening van homself was "aap van God" as syne "na-aper van God" (68) laat m.i. sowel die ironiese visie van die knolskrywer as die argetipiese begrip godesnar buite rekening.

Ook George Weideman se interpretasie van Onse Hymie as aggressiewe parodie (vgl. 78) en as middel tot 'n "eiesoortige engagement" (79) is m.i. bepaal deur sy eie anti-kapitalistiese ingesteldheid. Dit blyk miskien die duidelikste uit sy interpretasie van die tekenwaarde van Hymie se verkwanseling van o.o. plastiekartikels as die ontmaskering van 'n "beskawing" (Weideman se aanhalingstekens) se "bedenklike waardesisteem" wat aansluit by sy stelling: "die fondamente van die kapitalistiese stelsel is van plastiek" (78). Dit wil my verder voorkom of Weideman die term "parodieer" hier deurgaans gebruik waar "satiriseer" m.i. die aangewese term is. In 'n naskrif karakteriseer hy darem sy eie interpretasie as 'n vrysinnige en vrywel bevooroordeelde interpretasie" (82).

H.P. van Coller bekyk in "Narratiewe konvensies en Onse Hymie" o.m. die verteller in dié roman vanuit taalhandelingsperspektief. Ook hier kom foute voor soos "onderlegtheid", "Taalhandelinge" (telkens met hoofletter geskryf), "toenemend belangriker", "fassade" en die afwesigheid van Leroux 1980 (waarna in die "Aantekeninge" verwys word) uit die bronnelys.

Laaste maar nie die minste nie moet melding gemaak word van die bydraes van J.P. Smuts ("Slot en sleutels") en Elize Botha ("Die hart is in die fees - 'n aspek van intertekstualiteit in die romans van Etienne Leroux"), wat met hulle - soos gewoonlik - betroubare, teksgefundeerde besprekings hier ook interessante nuwe perspektiewe op Leroux se werk open.

Ek hoop dat dit uit hierdie bespreking duidelik is dat Vanweë die onbewuste 'n prikkelende bydrae tot die Leroux-korpus is, wat talle nuwe gesprekke oor die werk van hierdie belangrike skrywer behoort te open.