Tussen Leroux en Theroux word die feite manjifieke fiksie (Die Burger, 2005-08-23)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Daniël Hugo, Flapteks
SKRYWERS lieg die waarheid, sê sommige wat glo in die morele meerderwaardigheid van die letterkunde. Maar daar is mense wat sinieser oordeel en beweer dat skrywers leuens na die waarheid laat lyk. Die letterkunde is vir hulle een groot blufspel. Maar dié blufspel kan natuurlik baie vernuftig gespeel word en baie plesier verskaf aan lesers met 'n aanvoeling vir intelligente vermaak.
'n Meester van dié literêre gegoël met die werklikheid is Paul Theroux. Wat hom so 'n boeiende skrywer maak, is dat hy dit in sy "outobiografiese" boeke (soos My secret history en Sir Vidia's shadow ) én in sy "verbeeldingswerk" doen. Ek kan maar net vertrou dat hy dit nie ook in sy reisboeke, soos Riding the iron rooster (oor China) en Dark star safari (oor Afrika), doen nie.
Ek het onlangs op 'n kortverhaal van Theroux afgekom waarin 'n mens kan sien hoe dié Amerikaanse skrywer dit regkry om "leuens" as die waarheid voor te hou. Die verhaal is "An African story" uit sy bundel The stranger at the Palazzo d'Oro . Theroux sal dalk die meeste van sy aanhangers wêreldwyd 'n rat voor die oë kan draai en laat glo dat dit 'n feitelike verhaal is, maar die ingeligte Afrikaanse leser sal hom nie laat mislei nie.
Die verteller in "An African story" -klaarblyklik Theroux self -- vertel hoedat hy 'n Afrikaanse skrywer met die naam Lourens Prinsloo by Etienne Leroux op Koffiefontein ontmoet het. Wat hy omtrent Leroux meedeel, is kontroleerbaar korrek: "I would never have been aware of him were it not for Etienne Leroux, my near namesake, author of many novels in Afrikaans, some of them translated into English, such as Seven days at the Silbersteins and The third eye. Leroux, a farmer in Koffiefontein, in the Orange Free State, was introduced to me by Graham Greene. Greene put some aspects of Leroux's farm life into The human factor , on the basis of several visits."
Enige agterdogtige leser kan dié gegewens nagaan -- dit klop met die werklikheid. Leroux se Silberstein-trilogie het inderdaad in 'n Engelse vertaling onder die oorkoepelende titel To a dubious salvation in 1972 by Penguin Books verskyn. Ek herinner my dat Leroux in die tagtigerjare vertel het hoedat sy en sy "near namesake" Theroux (wat ook by Penguin uitgee) se outeurstjeks 'n keer of wat deurmekaar geraak het -- sekerlik tot voordeel van die Koffiefonteinse skrywer!
Theroux gaan dan voort en sê dat Leroux hom in die jare sewentig in London opgesoek het en hom toe genooi het om hom in Suid-Afrika te besoek: "I did so, many years later, when I was traveling from Johannesburg to Cape Town, after South Africa's political transformation." En dit is net hier dat die Afrikaanse leser lont ruik. Met "South Africa's politcal transformation" kan Theroux 1990 of 1994 bedoel -- maar Leroux is al in 1989 oorlede.
En nou weet dieselfde leser ook wat om met die volgende informasie te doen: "Lourens Prinsloo was Leroux's house guest." Lourens Prinsloo bestaan dus net so min soos Theroux se besoek in die jare negentig aan Leroux op Koffiefontein, selfs al beweer die verteller dat Prinsloo as skrywer "well known" en "widely read" in Suid-Afrika was. Maar die buitelandse leser sal ewe maklik in die fiktiewe Prinsloo glo as in die werklike Leroux. Die verteller besef dit maar alte goed en kom met die volgende alibi vir sy literêre skepsel vorendag: "Prinsloo does not exist in the United States -- untranslated, unpublished, not spoken of."
Om die werklikheidsillusie te versterk, vertel Theroux dan dat hy 'n Engelse vertaling van Prinsloo se verhale by Leroux te lese gekry het, en hy doen uitvoerig verslag daaroor. Dit dien alles as aanloop om Prinsloo se eie verhaal, soos hy dit vir Theroux vertel het, weer te gee. En weer kom Theroux met 'n perfekte alibi. Prinsloo het nooit so ver gekom om sy eie storie op te skryf nie.
Ek gaan nie die leser se plesier bederf en dié storie -- wat ten opsigte van die Suid-Afrikaanse sosiale werklikheid hier en daar haper -- oorvertel nie. Dit eindig wel tragies: "He died alone, unknown, unmourned." Inderwaarheid weerspreek dié woorde die opmerking aan die begin van die verhaal dat Prinsloo "well known" en "widely read" was. Wat met die eerste oogopslag na 'n vertellersfout lyk, is eintlik 'n erkenning dat Prinsloo 'n fiktiewe karakter is. Dié onopvallende moment van selfdekonstruering bewys dat Theroux wel deeglik rekening gehou het met die ingeligte Afrikaanse leser.
Ten laaste iets oor die naam "Lourens Prinsloo". Dié verbeelde skrywersfiguur toon beslis geen ooreenkoms met Koos Prinsloo nie. Ook nie met Laurens van der Post nie, hoewel Van der Post tog op 'n baie slinkse manier betrek word. Theroux sê: "Leroux called him Louwtjie, pronounced 'low-key'." In die voorwoord tot J.D.F. Jones se Storyteller -- The many lives of Laurens van der Post (John Murray, 2001) staan die volgende: "I have referred to my subject as 'Laurens' . . . He had been christened in the Afrikaans and German style 'Lourens' -- abbreviated by his family as 'Louwtjie'."
Theroux hou nie op om my te boei en te verbaas nie. In "An African story" gaan hy op 'n pikareske safari deur die SuidAfrikaanse literatuur. Ek haal my sonhelm vir hom af.