Siener met die donker bril (De Kat, 1987-08-01)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
IRNA VAN ZYL
Etienne Leroux, een van die grootste - straks dié grootste Afrikaanse prosa-skrywer, het op 13 Junie 65 geword. Maar hy is nog glad nie uitgeskryf nie en selfs wat die boerdery betref hou hy nog 'n wakende oog op die plaas.
--
Nadat 'n skrywer 'n hele dag moes aanhoor hoe sy werk bespreek, ontleed en verteoretiseer word, sal 'n mens dink dat hy nie nog lus het om met 'n joernalis te gesels oor sy lewe en sy skryfwerk nie.
Maar nie Etienne Leroux nie. "Nee, eintlik doen so 'n dag my goed. Dit is sommer onsin dat 'n skrywer nie kritici nodig het nie. Wat jy sê, sê jy in 'n roman. Jy interpreteer nie - dis vir húlle om te interpreteer.
"Ek steek natuurlik goed weg in my romans en die lekkerte van so 'n dag is dat die boek nie ná die eerste of tweede uitgawe doodgegaan het nie."
Waarna hy verwys, is 'n seminaardag, aangebied deur die departemente van Afrikaans en Nederlands van die Vrystaatse Universiteit en die Potchefstroomse Universiteit (vir CHO) in samewerking met die Etienne Leroux-navorsingsprojek aan die UOVS ter ere van die skrywer se 65ste verjaardag.
Dit is ook niks minder as reg dat ons grootste Afrikaanse prosaskrywer op dié manier vereer word nie. Hy is immers die wenner van die Hertzogprys (twee keer), die C.N.A.-prys (ook twee keer) en die Perskorprys. Leroux het in 1978 'n ere-doktoraat in die letterkunde van die Universiteit van Natal ontvang. Hy is ook die skrywer wie se Sewe dae by die Silbersteins ná sy verskyning in 1962 onder die aandag van die Publikasieraad gebring is en wie se Magersfontein, o Magersfontein! ná sy verskyning in 1976 verbied is. Ironies genoeg het juis dié twee boeke die Hertzogprys vir die skrywer verower.
Etienne Leroux, of liewer Stephen le Roux soos sy regte naam lui, het die grootste deel van sy 65ste verjaardag stil en aandagtig in 'n lesinglokaal deurgebring, met 'n pakkie sigarette die hele tyd amper krampagtig in sy hande vasgeklem en die bekende donker bril óók die hele tyd op.
Hy wou nie sê hoeveel sigarette hy daagliks rook nie - "dan sal my assuransie nie uitbetaal nie". Maar hy beduie na 'n vol pakkie Benson & Hedges. "Dit het ek gerook toe ek die Hertzogprys gewen het" en die ander, beduimelde, leë pakkies wat hy saamdra, is sy lucky charms - dit, en ek mag nie die handelsnaam sien nie, het hy ook gerook toe hy pryse gewen het. "Dis my fetisjisme."
En sy donker bril? (Wat amper soos sy swart klere 'n Leroux-image geword het.) "Ek moes 'n bril kry omdat ek bysiende is en weens die Vrystaatse wit lig het ek lig-getinte lense gekies. Maar my oë sit baie naby aan mekaar en toe het ek regtig cock-eyed gelyk." Daarom het hy 'n donkerder bril begin dra en toe hy eers agterkom dat hy 'n gevoel van vryheid het ("want mense kon nie my oë sien nie") het dié bril gekom om te bly. (En vir diegene wat nie weet nie, sy lense is nog steeds getoets.)
Die boer van Koffiefontein in die Vrystaat - naby die slagveld Magersfontein - sê hy lyk nie soos 'n boer nie. Hy dra altyd swart klere. Maar na verneem word, is hy 'n baie goeie boer. Ook een wat bekommerd is oor die droogte en sê sy kommer oor die droogte beïnvloed soms sy skryfwerk, wat saans ná nege begin. En dit is deels die rede waarom hy tans 'n stadige werker is.
Maar 'n roman oor die Wes-Vrystaatse boer wat naby 'n klein dorpie woon, sal nie maklik uit sy pen kom nie. "Daar is altyd die ding van laster wanneer mense hulself herken. En dan het ander dit natuurlik al gedoen - 'n satire oor 'n klein dorpie geskryf."
Bowendien pas dit hom om op Koffiefontein te woon. "Ek kan glad nie skryf wanneer ek omring is deur intellektuele nie, hoewel ek by geleentheid prikkelende vriende nodig het. As 'n mens te lank geïsoleer is, begin jy in die rondte dink. Maar as ek te lank in die stad is, begin ek die goed uit my praat. En dit neem die vonk uit die werk weg."
Hy meen ook hy lees baie beter en deegliker op die plaas as in die stad. "Selfs 'n koerant of literêre tydskrif lees ek met groter intensiteit as in die stad."
Die nadeel van Koffiefontein is dat hy ver van 'n biblioteek is. En gevolglik moet hy sorg dat die boeke in sy studeerkamer is. Hy teken ook in op onder meer die Times Literary Supplement (wat deesdae 'n helse spul geld kos) en probeer so ver moontlik byhou by wat dwarsdeur die wêreld geskryf word. Daarom dalk dat sy boeke sy wyd vertaal is en daarom dalk dat hy wyd internasionale erkenning kry. Hy sê wel hy lees deesdae 'n bietjie te min na sy smaak en lees feitlik geen Afrikaanse prosa nie, maar tog noem hy bekende jong skrywers soos Etienne van Heerden, Alexander Strachan en M.C. Botha se name wanneer ons oor sy vroeëre bekommernis oor die roman praat (asof hy eintlik goed bekend is met hul werk). Hy lees wel Afrikaanse poësie, en is 'n groot liefhebber van Opperman. Hy het vroeër in Gesprekke met skrywers aan F.I.J. van Rensburg al gesê: "Opperman kan in die mikroskopie van 'n enkele woord die soort betekenisse vind waarin ek 'n aansluiting gevind het by die dinge wat ek teen 'n langsamer tempo probeer het in 'n mikroskopiese weergawe van gebeure op die gebied van prosa."
Maar Leroux is nie meer bekommerd oor die stand van die prosa en die roman nie - ondanks die koms van televisie. Daarom dat hy die jong skrywers se name genoem het. Hy wonder net hoeveel uiteindelik gelees word. En hoeveel van die jong skrywers in die wêreldletterkunde geakkommodeer kan word.
Op die vraag of hy nou op sy aftree-ouderdom daaraan dink om uit te tree, gee hy twee antwoorde. Wat die plaas betref; sy seun het nou begin boer en die grootste deel van die las uit sy hande geneem hoewel hy nog in 'n inspeksie-hoedanigheid optree.
En as skrywer? 'n Skrywer tree net af as hy nie meer kan skryf nie. En die moontlikheid om in 'n hoë ouderdom nog 'n boek te skryf, is baie goed. Maar dit gaan moeiliker, sê hy. En met 'n vonkel in die oog: "Die gevaar bestaan dat wanneer 'n ouer skrywer (seksueel) onnutsig word in sy werk die mense sal dink hy is besig om kinds te word."
Vroeër die aand op die dinee waar 'n huldigingsbundel met opstelle oor sy werk aan hom oorhandig is, het hy gesê 'n geleentheid soos diédag spoor hom aan om op 75 weer so vereer te word.
Leroux is dan ook besig met 'n volgende roman, hoewel hy nie nou al wil voorspel wanneer hy dit gaan voltooi nie. Soos sy jongste twee boeke, Magersfontein, o Magersfontein! en Onse Hymie, speel dié werk hom ook teen 'n spesifiek Suid-Afrikaanse agtergrond af. "Ek skryf mos in drieë." Dié boek gaan oor verlies en die invloed van verlies - dit kan ook 'n Jungiaanse verlies wees, sê hy. Maar 'n probleem wat hy tans het, is dat hy nie weet waar sy karakters oor 'n jaar gaan wees nie (met verwysing na veranderende omstandighede in die land). En dit pla hom - dat hy amper profeties moet skryf sodat alle sin nie op die ou einde verlore is waar raakpunte met die werklikheid voorkom nie.
In 'n onderhoud met Jean Sévry het die skrywer J.M. Coetzee juis hieroor geantwoord dat Leroux 'n skryfwyse kies wat verhinder dat hy nie in 'n spesifieke sosiale en historiese situasie vasval, sodat wanneer die geskiedenis 'n sentimeter skuif, die boek waardeloos sou word nie. (Vanweë die onbewuste, p. 109.)
"Dit is die probleem met satire. Ná 20, 30 of 40 jaar moet hy kan bybly. Dit lyk vir my asof 'n mens nie te veel van 'n oordeel moet uitspreek nie - nie te veel emosioneel betrokke moet raak nie."
Maar oor die politiek sê hy hy is eintlik a-polities. Destyds met sy eerste boeke het dit vir hom meer om 'n soeke na homself gegaan as wat hy bewus was van die gemeenskap en politiek op wie hy bedek kommentaar gelewer het. Tog kan hy vandag sekere dinge nie meer miskyk nie en slaan die kommentaar nou sterker deur in sy werk.
"Ek kan ook nie mooi besluit of dit nou erger is as in die Middeleeue met sy peste nie. Dit is net so skrikwekkend. En tog verwag 'n mens nie met vandag se tegnologie, kennis en insig in die menslike psige dat ons 'n soortgelyke toestand moet hê nie.
"Ek weet nie in watter mate die mens in die Middeleeue dieselfde angs en depressie gehad het nie. Maar in die 18de eeu nog was die mens veilig in sy godsdienstige, tribal gemeenskap - hy het meer sekuriteit gehad."
Wanneer hy so praat en verwys na blanke vrese wat volgens hom met twee faktore verbind is - die rasionele vrees, gekombineer met 'n argetipiese oervrees - wonder jy in watter mate hy aan die nuwe boek ook dink, maar uit respek durf 'n mens nie vra nie.
Leroux sê hy dink dikwels aan 'n "plot" vir 'n boek terwyl hy op sy plaas rondry. Dan sal hy aantekeninge maak en dit in 'n klein sakkie gooi vir latere gebruik. Sy boeke begin ook met hierdie aantekeninge. Wanneer hy begin skryf, blaai hy daardeur en soos wat hy iets gebruik, skrap hy daardie paragraaf. "Maar daar is geen vooraf beplanning nie. In 'n sekere stadium begin 'n boek vorm aanneem. Ek het slegs 'n vae idee in watter rigting die boek gaan. My romans is baie outonoom."
Sy daaglikse roetine verloop min of meer met 'n laatslapie soggens. Dan volg die inspeksie van die boerdery, waarna hy sy kantoor aandoen en die korrespondensie bekyk. Smiddae sal hy weer 'n uiltjie knip en in die somer selfs soms twee keer. Vroegaand kyk hy televisie en ná nege begin hy werk tot enige tyd van die nag.
Die korrespondensie is gewoonlik aan sy skrywersnaam gerig. 'n Naam waarvoor hy baie lief geword het, maar wat hy aanvanklik gekies het om sy pa, 'n Minister van Landbou, te beskerm. Etienne is die Frans vir Stephen en die Leroux was wat hy aanvanklik gemeen het die Franse spelling vir le Roux is, maar vandag sê hy is hy ook nie eens meer so doodseker dat hy reg gehad het daarmee nie.
Leroux kry ook baie briewe van mense wat sy werk gelees het. Hy het groot plesier daarin dat sy werk nog deur die jonger geslag waardeer word. Hy kry ook briewe van mense wat hul emosionele probleme met hom deel. En, les bes, mense wat bekommerd is oor sy geestelike welstand!
Dit is nie verbasend dat die skrywer jonger mense na hom toe aantrek nie. Op 'n musiek-keuseprogram van die Vrystaatse Radio Oranje, waaraan hy die dag ná sy verjaardag deelgeneem het, het sy musieksmaak so uiteenlopend geklink soos wat die Beatles van Debussy is, of die Age of Aquarius uit die musiekspel Hair van Gershwin se Rapsodie in Blou. En Leroux gebruik graag "slang" in sy spreektaal. ("Ek is 'n absolute fan van Gershwin.")
Oor sy taalgebruik wat soms (partykeer nogal heftig) aangeval word, sê Leroux hy het 'n gevoel vir die oordra van 'n sekere betekenis in die ritme van 'n sin - 'n sekere "flair" wat vir hom belangrik is, hoewel hy nie besware het wanneer 'n uitgewer 'n suiwerder Afrikaanse woord voorstel wat vir hom dieselfde betekenis het nie. "Dit is seker 'n fout dat ek nie suiwer Afrikaans skryf nie."
Oor die verbod op Magersfontein sê Leroux dat hy byna ses jaar met sy skryfwerk verloor het. Gewoonlik het hy twee jaar aan 'n boek gewerk, maar Magersfontein het feitlik vier jaar gelê voordat die verbod opgehef is. Daarna het hy nog twee jaar verloor. Wat die ergste was, is dat die verbod hom op 'n sekere manier "teruggeplaas het na 'n tydperk" toe hy net begin skryf het en geen uitgewer vir sy debuutroman, Die eerste lewe van Colet, kon vind nie. Dié boek is is uiteindelik deur 'n Nederlandse uitgewer uitgegee.
In 'n stadium was daar sterk sprake dat Silbersteins verfilm sou word. Die Britse regisseur Peter Brooke het daarin belang gestel en die skrywer Morris West het al die regte van die Silberstein-trilogie gekoop. Maar dit was teen die einde van die sestigerjare net toe televisie oorsee begin opgang gemaak het, en die film is nooit gemaak nie. Vandag voel Etienne Leroux dat 'n filmmaker heeltemal vry is om met sy boeke te doen wat hy wil. Die swembadtoneel uit Silbersteins is al deur 'n filmskool verfilm en daar is sprake dat die Baxter-teater in Kaapstad Silbersteins in 'n toneelstuk gaan verwerk.
Leroux se gunsteling-boek is steeds, soos hy in Gesprekke met skrywers (byna 17 jaar gelede) gesê het, 18-44. "Daarin het ek 'n tydsverloop reggekry wat 'n uitdaging vir enige skrywer is." Hy het ook baie van die omslagontwerp en die "hippie-kleure" gehou.
Beskou die mense op Koffiefontein hom as vreemd of "snaaks"? Nee, sê hy beslis. Hy het geen enkele vyand op die dorp nie. Hy het sy spesiale plek in die "pub" en die dorp bied hom ongelooflike vryhede. "Ek kan met my hande in die lug in die hoofstraat afloop en niemand sal dink dit is snaaks nie."