Sensors val by Magersfontein... (Rapport, 1990-01-07)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Die boek Magersfontein, O Magersfontein! (CNA-Prys 1976, Hertzogprys 1979) het tot die val van Suid-Afrika se destydse sensuurhoof en sensuurstelsel gelei.
Maar dit is ook bekend dat daardie ingryp van die owerheid deur sy werk te verbied, vir Etienne Leroux 'n knou was waarvan hy nooit heeltemal herstel het nie. Hy kon die skok van die verbod nie verwerk nie. Dit het 'n moegheid oor hom gebring wat hom tot die einde van sy lewe bygebly het. Soos 'n vriend nog hierdie week opgemerk het: "Wat dit aan Stephen gedoen het, wys dat dit nooit weer aan 'n skrywer gedoen mag word nie."
Die verbod op die bekroonde boek van Afrikaans se voorste internasionale romanskrywer het soveel verontwaardiging ontlok, dat die destydse Regering onder druk moes swig en die sensuurstelsel hervorm en van regter Lammie Snyman as hoofsensor ontslae moes raak.
Die eintlike aksie teen die boek het sy ontstaan gehad uit die stilte van 'n Verwoerdburgse woonhuis wat sou gewaak het oor die sedes van Suid-Afrika. Maar daaroor later.
Die verloop was kortliks só:
1. Regter Lammie Snyman, Voorsitter van die Appèlraad vir sensuur, wys aan 'n joernalisbesoeker in sy kantoor 'n eksemplaar van Magersfontein en sê: "Dis 'n vieslike boek; ons gaan dit verbied." (Die boek was toe pas met die CNA-Prys bekroon. By uitsondering was die drie beoordelaars, d.i. Merwe Scholtz, André Brink en Coenie Slabber, onbewus van mekaar, hierdie keer eenparig met die aanwys van die wenner.
2. 'n Sensuurkomitee met Merwe Scholtz as voorsitter bevind in September 1977 dat die boek nie ongewens is nie.
3. Dr. Connie Mulder, Minister van Binnelandse Sake, in beheer van sensuur, sê die Appèlraad moet die beslissing van die komitee heroorweeg.
4. Die Appèlraad verbied Magersfontein in November 1977.
5. 'n Duur appèlsaak volg en regter W.G. Boshoff bevind op 8 Junie 1978 in die hooggeregshof in Pretoria dat die Appèlraad reg was om die boek te verbied.
6. Die boek bly twee en 'n halwe jaar verbied totdat 'n nuwe sensuurliggaam ingestel en die verbod opgehef word.
Die Verwoerdburgse woonhuis waar die veldtog teen Magersfontein ontstaan het, was die tuiste van Aksie Morele Standaarde. Rapport het op 27 November 1977 só oor dié plek berig:
Hiervandaan stroom maandeliks onder meer 15 000 lyfblaaie aan die land se kerk- en kultuurleiers, boere, onderwysers, sakemanne en huisvroue. Dit betig, spoor aan, wys uit en veroordeel oor alle sake wat die sedelike norme raak - van wat in die bioskoop vertoon word tot wat op die boekrak staan en in die koerant gepubliseer word.
Die vader van die organisasie is 'n blonde middeljarige prediker wat hom aanvanklik veral op die geestelike bearbeiding van verpleegsters toegespits het: mnr. Frans Grim, stigter van die Christelike Hospitaalbond.
Saam met hom dien twee manne: dr. Louw Alberts, direkteur-generaal van die Instituut vir Metallurgie, en dr. J.C. (Bokkie) van der Spuy, hartchirurg van Pretoria. Ander prominente bedrywiges is dr. Hennie Grové, direkteur van hospitaaldienste en brig. Lothar Neethling van die Polisie.
In sy November-nuusbrief het Aksie Morele Standaarde die boek onder die aandag van meer as 2 000 predikante en kultuurleiers gebring. Dit het 'n massiewe protes aan dr. Connie Mulder ten gevolg gehad, sê die Nuusbrief, waarna dr. Mulder die boek vir heroorweging aan die Publikasie-appèlraad voorgelê het.
Hoeveel van die protesteerders ooit self die boek gelees het, word nie vermeld nie.
Só het Aksie Morele Standaarde die aanval geloods wat aanleiding gegee het tot so 'n geweldige "spontane" reaksie teen Magersfontein. Aan die woord is mnr. Eddie van Zyl, oud-sendingwerker en die man uit wie se huis die briewe en inligtingstukke daagliks in hul duisende stroom.
Die boek het vir die eerste keer onder die aandag van mnr. Van Zyl gekom nadat dit reeds die CNA-Prys ontvang het.
Op grond van die klagtes het hy die boek drie maal gelees. Hy "kon dit nie verstaan nie", maar wat hom opgeval het, was "die oormatige gebruik van die Here se naam en die verderflike aksent" van die boek...