Profeet... of Aap van God? (Die Suid-Afrikaan, 1990-02-01)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Dr Charles Malan, hoof van EKUS (Eietydse Kultuurstudie by die RGN) gee sy persoonlike indrukke oor Etienne Leroux op grond van navorsing vir 'n biografie oor die skrywer waaraan hy werk.
--
Wie was hy eintlik, hierdie boorling van die Tweelingsterregroep? Waar lê die eintlike middelpunt van die self waarna hy sy lewe lank gesoek het? By die skrywer Etienne Leroux of die mens Stephen le Roux? By die boheemse magusfiguur of by die stoere boere-Boer? By die profeet en boodskapper van die gode, Hermes, of by die konkelaar en Aap van God?
In Oktober verlede jaar het ek kernaspekte van hierdie vrae kort voor sy laaste siekte met die skrywer bespreek. Dit was met die oog op 'n literêre biografie oor hom waarin ek hom probeer "lees" - die skrywer as teks. Hoewel hy van 'n tipering van homself weggeskram het, was hy geboei deur bepaalde paradokse wat na vore kom. Miskien, doen hy aan die hand, kan hy 'n bydrae lewer deur bepaalde stukke dialoog met homself te voer?
Hy sou dit nie self sê nie, maar 'n mens kon die tekens sien: die geding met God, met sy Afrikanervolkie en met homself het hom mank in die heup gelaat. 'n Skrywer betaal 'n duur prys vir sy hubris, het hy lankal gewaarsku.
Aan die einde van sy groot negedelige siklus laat hy sy knolskrywer in Na'va vra: "As professionele waarnemer besef ek die skaakmat tussen mens en God. Hoe kan ek myself losmaak van die tweespalt? Hoe kan ek my losmaak van God? Hoe kan ek Sy sonnige ook ontsnap?" Hy besef maar te goed "die oorkoepelende waarheid kan nie deur 'n knolskrywer saamgevat word nie as selfs groot skrywers slegs 'n aspek van die malaise kan aandui terwyl hulle met die menslike hubris dit waag om soos 'n Aap van God... die ewige waarheid te stotter".
Aspekte van die "malaise" het Leroux wel aangedui soos niemand voor hom nie. Hy het sy volk ongenadig gegesel en hom die Swart Jan in sy eie siel getoon. Deurentyd het hy hardkoppig 'n afstand tussen hom en sy gemeenskap probeer bewaar. In 1967 sê hy: "Ek sien myself nie as dienaar van die staat of die gemeenskap nie. Ek wil die wêreld nie verbeter nie. Ek skik my na geen bleddie groep nie."
Ten spyte hiervan kon hy nie sy deernis met en bekommernis oor die Afrikaner wegsteek nie. Tydens die onderhoud met my beklemtoon dat die Afrikaner 'n groot fout maak deur nie met die verlede te breek nie en te probeer om dit wat dood is, te laat herleef. Soos die moedergodin Demeter wil ons die verlore dogter uit die onderwêreld van Hades laat terugkeer. In hierdie onderwêreld skuil daar volgens Leroux ook by die Afrikaner die vrees vir die swartes wat gaan oorneem en dit dra by tot 'n onvermoë om die onvermydelike te aanvaar. Hy begryp egter hoekom hulle nie die sekuriteit van die verlede wil prysgee nie.
Waaroor dit ten diepste gaan, by die volk, by die skrywer, is die doodsvrees waaroor Leroux altyd geskryf en gepraat het: "Met verlies, met toenemende ouderdom, word jy bang vir die dood." Hy self het jare gelde gesê dat sy belangrikste tema vrees en die beswering van vrees is.
Oor die jare heen het hy die dood se angel met die mag van die woord probeer uittrek, met die beskrywing en belewing van oeroue rituele van hergeboorte soos die by Eleusis wat uit Demeter se smart ontwikkel het. Maar die laaste dekade van sy lewe het hy al moeiliker geskryf.
Tydens die onderhoud lyk dit dikwels asof hy vasgekeer voel, nie werklik in staat om die probleem van verlies, dood en die aanvaarding van die nuwe na sy onvoltooide roman te herlei nie, soos hy wel beplan het. Dit laat 'n mens dink aan 'n ander opsomming van die skrywer se posisie: "In hierdie snelverandering sien ek die romanskrywer, die basies konserwatiewe vader op die gebied van die skeppende kunste, 'n hulpelose ou man wat een oomblik in sy onmag te veel verstaan en te min gewaar, en die volgende oomblik te veel gewaar en te min verstaan."
Maar die onmag kom net in enkele, hortende sinne na vore. Dan is hy weer die ewige jong Turk wat met groot lof van die skrywers se Watervalberaad met die ANC praat, waar daar volgens hom wel met die verlede gebreek is. Hy sien dit as 'n uiters belangrike simboliese daad, hoewel hyself as gevolg van sy weersin in organisasie dit nie sou bywoon nie.
Van die begin van sy skrywersloopbaan af hou hy hom besig met die temas van verlies, prysgawe en dood. Vir hergeboorte is dit noodsaaklik dat die oue moet sterf en dat die dood aanvaar moet word. Met pynlike geduld en geloof herhaal Leroux soos 'n alchemis in een trilogie na die ander sy pogings om verganklikheid te besweer. Die god of die held moet sterf om die gemeenskap te red; volgens dieselfde patroon moet die skrywer ook simbolies sterf, soos met die "kruisiging" van die knolskrywer in 18-44 gebeur.
Leroux bly gefassineer met die rituele van dood en begrafnis. Hy vermoor sy karakters deur middel van deurboring met 'n dennetak, pes, steniging gevolg deur 'n pistoolskoot, verbranding, 'n haelgeweer en 'n vloed.
Dood is telkens nodig om die swart nulpunt, die donkerte van die onbewuste, te bereik. Daarna kan daar met lewegewende simbole na die lig teruggekeer word. Wanneer Demeter se dogter, Perspephone, uit die onderwêreld terugkeer, bring sy die lente en vreugde. Ook Leroux raak telkens baldadig wanneer hy sy stotterende speurders, vloekende bomgooiers en raserige smouse op die volk loslaat. 'n Mens hoor sy maaglaggie elke keer wanneer hy van LUK's, voorsitters van boereverenigings, spietkops en tycoons kraters maak.
Die Afrikaner is uit die aard van die saak die een wat die meeste onder die skerp satire deurloop. Dit is asof Leroux 'n doelbewuste afstand tussen hom en die volk wil skep deur die beeld van die mitiese, boheemse skrywer uit te bou met behulp van 'n donkerbril, kleredrag en gewoontes. Hy bly egter skryf vanuit die hart van die volk, as lid van 'n plattelandse en boeregemeenskap.
Ten spyte van sy vernietigende kritiek het hy hom nooit van die Afrikaner gedistansieer nie. Maar die Verwoerds van hierdie wêreld vra natuurlik nie of verset lojaal is nie en Leroux is deur invloedryke verteenwoordigers van kerk, staat en kultuur tot volksvyand verklaar. Net sy kennisse kon agterkom hoe diep hierdie verguising hom geraak het.
Die Afrikaner, wat nie die dood en verlies van sy eie mites en heroïese verlede kon aanvaar nie, het 'n sondebok in Leroux gekry. Hulle het dit amper reggekry om hom te stenig met hulle slegsêery, sensuur, briewe, aanklagte en klagte en emosies. Hy kon 'n lang ruk ná die verbod op Magersfontein, o Magersfontein! nie weer skryf nie.
Ek onthou die uitdrukking van ongeloof op sy gesig toe ek hom die eerste keer die ses bladsye uittreksels uit die roman wys wat deur Aksie Morele Standaarde saamgestel en landwyd versprei is. "Lovey," het hy vir sy vrou Elizabeth gevra, "het ek wragtag al die goed geskryf wat hier staan?" Ja, hy het al die goed geskryf, maar nie sóós hulle daar staan nie.
Ná ses jaar van stilswye het hy die simboliese dood van apartheid in Onse Hymie beskryf. Die roman waarin hy wou aandag gee aan die Afrikaner se onvermoë om dood en verlies te aanvaar, Die kaping, kon hy egter nie voltooi nie.
Toe 'n bekende regse teoloog hom as 'n soort Antichris voorstel, het Stephen die professor verdedig - dit was die man se plig soos hy as herder dit gesien het. Altyd die basiese minsaamheid, die ouwêreldse sjarme, die warm belangstelling in alle soorte mense, die verboureerdheid oor argwaan en woede wat sy openbare beeld uitgelok het. Daar was die beeld van die rumoerige Swart Nar wat dood en duisternis trotseer het, ja. 'n Faust wat 'n verbintenis met die donker magte van die onderwêreld aangaan. Maar diegene wat hom geken het, wis dit was onse Hermes se skrywersmasker.
By dié van ons wie se lewens hy so ingrypend beïnvloed het, sal hy aanhou om in ons drome as die wyse ou man te verskyn. Ons sal altyd die tekens dra wat hy met die magie van sy intellek en die verbysterende insigte van sy derde oog gelaat het.
Maar ons sal hom ook altyd onthou waar hy onbeholpe deur 'n onbekende wêreld beweeg, asof hy nie deur die bril kon sien nie, vroetelend met sy twee pakkies sigarette, sy strepcils en sy wit sakdoek.
Hoe kon 'n mens die oorgange tussen werklikheid en fiksie in 'n biografie hanteer wanneer hulle so ineenvloei en op mekaar reageer? Hy het geesdriftig begin raak oor die moontlikhede om aspekte hiervan te verduidelik. Ons sal nog baie moet praat, sê hy in die onderhoud.
Toe gaan hy dood.
Selfs met sy dood het hy sy eie mite bevestig, hierdie man wat so met siekte en dood behep was dat hy soms spottend van ipekonders beskuldig is.
Tydens die huldigingsdinee wat sy sestigste verjaarsdag in 1982 praat hy weer daaroor. Ons luister glimlaggend na ons geliefde vriend se stotterende lesery:
"Three score and ten: dis die mens se lewensbestek indien jy nie aan hipertensie ly nie en gelukkig is. Wat beteken die jaar Sestig vir 'n skrywer? Ek dink dit gaan oor 'n doodsbesef, hierdie laaste tien jaar van sy lewe. Dis asof die Voorsienigheid vir hom sê: Jou hel, jy het nou tien jaar oor, sê nou jou sê. Dis aftree-ouderdom, maar nie vir 'n skrywer nie. Dis miskien die enigste beroep in die wêreld waar vir die werker gesê word: Jy het nou eers rypheid bereik. Ons verwag die beste van jou. Werk hard. En ek wou so graag televisie kyk en die mooi bene van meisies rustig betrag. Maar dis nie vir 'n skrywer beskore nie. Die oomblik as hy ophou skryf, gaan hy dood. Wanneer laas het hy 'n boek geskryf? Leef hy nog? Sy enigste antwoord is dan: Daar lê baie boeke in my kelders. En as hy die dag dood is, en almal deur die spinnerakke hulle weg in die grafkelders gebaan het, dan vind hulle die bleekwit zombie met 'n pen in sy hand. Daar is niks op die perkament geskryf nie. Doen die skrywer 'n guns en slaan 'n skerpgemaakte wilgerstok deur sy hart. Daar is altyd die moontlikheid dat hy eendag weer by julle gaan spook, en sy pen in julle bloed sal doop."