Privaat korrespondensie aan Nico Schoombie (Privaat Korrespondensie, 1967-09-05)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Posbus 60
Koffiefontein
5/9/67

Beste Mnr Schoombie,

Dankie vir jou brief.

Ek was ook soveel jare gelede student in die regte op Stellenbosch en op daardie stadium was dit net regte, meisies, kaart, dans en intervarsities. Ek het eers nadat ek my LLB gekry het, en eers nadat ek 'n jaar in 'n prokureurskantoor gewerk het, begin lees en in alle erns begin skryf. Tussein het ek wel vir die studenteblad geskryf (en was héél teen die einde op die redaksie) maar niks ernstig nie. As ek nou terugdink, dan is ek nie seker of dit maar alles vir die beste was nie. Om 'n kursus in die regte te volg was dissipline nodig. Lewensprobleme en toekomsprobleme is gedurende maanlignagte, tot selfs vroeg in die oggend, naïef miskien met maats (beide geslagte) bespreek. Die wêreld het intussen seker verander. Ek weet nie. Dis nog 'n ope vraag of jy die eerste twintig jaar van jou lewe nie liewers die wêreld sonder tussengangers moet ervaar nie. (Ek bedoel met tussengangers beroemde skrywers en filosowe.)

Hel, die lewe is só gespesialiseerd, en daar is soveel onderafdelings van besondere studie, dat ek dink dit krimineel sal wees om jou vroeë jeug op te offer. Ek weet nie of jy dit weet nie, maar volgens sielkundiges besit jy op die oomblik die hoogste retensievermoë; liggaamlik het jy nou die beste herstelvermoë; jy het 'n waarnemingsvermoë wat jy nooit in jou latere jare sal ewenaar nie. Is dit nie miskien nou die beste tyd om die lewe "rou" te ervaar nie? Verder: weet jy dat ek in al my boeke steeds teer op die eerste twintig jaar van waarneming? Alles wat mens later skryf is in 'n sekere sin 'n verwerking van daardie materiaal.

Klink dit miskien asof ek probeer wegskram van jou "tienervraag"? Ek hoop nie so nie. Ek weet net dit: regte is so 'n allemagtige kursus; as jy deeglik in daardie rigting werk (en ek bedoel nie net lesings memoriseer nie) dan kry jy alreeds 'n soort agtergrond wat van onskatbare waarde sal wees vir verdere studie (in watter rigting ookal) later. Jy ontwikkel 'n vermoë om korrels van die kaf te onderskei - en dit dikwels meer as wat baie van jou vroegryp vriende met al hulle "with-it-ness" van vandag later sal regkry. Die sogenaamde "regsbrein" (as mens so 'n woord mag gebruik) het sy voordele wat die res van jou lewe by jou sal bly: 'n sekere helderheid, selfs wanneer jy later met die esoteriese vlakke te doen het. En dis iets wat sommige mense mee gebore word, wat die regsstudent ontwikikel en wat niemand later present kry nie.

My formule is dus: Dém Heidiger, Jaspers, Rilke et alia. (Lees hulle gerus op hierdie stadium, maar moet nie 'n taak daarvan maak nie.) Werk in jou vak (regte) om jou "brein" te slyp. Lewe uitbundig (sonder om in die moeilikheid te kom), gryp elke oomblik, ontwikkel 'n geslepenheid, bring jou instrumente in orde, versamel materiaal. Ek sien jy praat van kwalitatief kontemporêr. Ek sou op hierdie stadium nie té veel nadruk lê op die kwalitatiewe aspek nie; op die kontemporêre wel. As jy wil skryf, sal die tegniek later kom. Die materiaal kom nie so maklik nie. Die materiaal moet jy noú kry.

As jy later baie wil lees: kies 'n sekere rigting; volg die verwysings op, en met die nodige dissipline, wat 'n regskursus jou gee, het jy 'n begrip van die besondere denkrigting.

My towerformule, dus: beperk verspeelde geleenthede van lewe tot 'n minimum. "Take the road, young man..." (Joan Baez op haar gitaar). En "take the road" beteken nie net bloot om rond te reis nie.

Ek is jammer, Mnr Schoombie, maar dis al raad wat ek jou kan gee. Goed en kwaad, dié keuse kan niemand behalwe jyself doen nie. Dis die angs waarvan Sartre praat.

Beste groete,

ETIENNE LEROUX

Persoonlike gereedskap