Onse Hymie

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Uitgegee 1982 deur Human & Rousseau Uitgewers. Stofomslag deur Willem Jordaan.




Flapteks voor:

Onse Hymie is Etienne Leroux se eerste boek in ses jaar, en daarmee sit hy die vernuwing voort wat sy vorige werk, Magersfontein, o Magersfontein!, ingelui het.

Onse Hymie, Kaptein Hymie Rabinowitz, alias Flash Gordon, die Blits van die Karoo, alias Hymie Marinkowitz, vaar saam met sy co-pilot Johannes Garries in sy kombi die diep-Karoo binne. Op pad Kaap toe, in 'n see van botterblomme of gousblomme of wat ook al, kom hulle af op die Vleispaleis, 'n spa sonder weerga.

Soos in die omstrede en bekroonde Magersfontein, O Magersfontein!, waarmee Leroux 'n stilswye van vier jaar verbreek het, bind hy hier 'n verskeidenheid van karakters saam in 'n vinnig vloeiende verhaal met 'n sterk satiries-filosofiese inslag. Onse Hymie se swerftog sal die leser tot by sy onafwendbare einde meevoer.




Flapteks agter:

Etienne Leroux word allerweë beskou as die belangrikste romanskrywer wat die Afrikaanse letterkunde nog opgelewer het. Sy romans word besonder hoog aangeslaan en daar bestaan reeds 'n magdom kritiese beskouings en evaluerings oor sy werk. Verskeie van sy romans is vertaal en het vir hom in die buiteland bekendheid verwerf.

Etienne Leroux het in 1955 gedebuteer met Die Eerste Lewe Van Colet, en dit in 1957 en 1959 opgevolg met onderskeidelik Hilaria en Die Mugu. Daarna het twee trilogieë uit sy pen verskyn - eerstens Sewe Dae by die Silbersteins (1962), waarvoor hy die Hertzogprys ontvang het, Een vir Azazel (1964) en Die Derde Oog (1966), en daarna [[18-44] (1967), Isis Isis Isis (1969) en Na'va (1972).

In 1976 het Magersfontein, O Magersfontein!, wat bestem was om die mees omstrede roman in Afrikaans te word, verskyn. Dit is in 1977 deur die Appèlraad oor Publikasies as ongewens verklaar en verbied. Die uitgewers, Human & Rousseau, het in die Hooggeregshof in Pretoria 'n hersiening van die beslissing aangevra, maar die Appèlraad se verbod is gehandhaaf.

Ondanks die feit dat die boek verbied was, is die Hertzogprys in 1979 daarvoor aan Leroux toegeken. In Januarie 1980 - nadat die Wet op Publikasies in 1979 gewysig is - is die boek hervoorgelê, maar 'n komitee van die Direktoraat van Publikasies het dit nog eens ongewens verklaar. Die uitgewers het weer geappelleer, dié keer suksesvol. Die verbod is in Maart 1980 opgehef en Magersfontein, O Magersfontein! kon weer vryelik versprei word. Dit het sedert sy eerste verskyningvyf herdrukke beleef.




Uittreksel: die Vleispaleis stort ineen

'n Lid van die Konserwatiewe Party beskou die hele situasie volgens sy konserwatiewe gedagtegang. Hy het verneem dat anderskleuriges in die Vleispaleis teenwoordig is, 'n sekere aanduiding dat integrasie sy voet in die deur gesit het. Daar moet nou voet aan wal gesit word. Daar moet aan alle bevolkingsgroepe reg geskied. Die baan van die Here se Wil is bane en strale van 'n goddelike apartheid. In die middel is God, die middelpunt van die sirkel, en dan straal hy sy sonlig apart met 'n onverstaanbare verfyndheid. [...] Hy sien die ondergang van die Vleispaleis as 'n vingerwysing van God. Moet 'n mens die Vleispaleis verlaat? Of moet mens bly? Die Vleispaleis is onheilig; ons land is heilig.




Onse Hymie (1982)

Persoonlike gereedskap