Onbekend (De Kat, 1990-03-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Ja, ons het hom geken. Hy en sy vrou het dikwels Sondae hier kom eet. Hy het altyd sole geëet, sê die hoteleienaar. "Nog net nou die dag, voordat hy siek geword het, het hulle daar by die ronde tafeltjie gesit.

"Dan sê hy vir sy vrou: Lovey, bestel jy maar. Dan bestel sy sole... elke keer was dit sole."

Ons sit op 'n snikwarme Koffiefonteinse Saterdagaand onder een van die twee plaaslike hotelle se veranda en probeer afkoel. Die gesprek oor Etienne Leroux gaan nie veel verder as die "sole" nie. So amper asof hulle nie weet wat om nog oor hom te sê nie. Dalk omdat hulle hom (en sy vrou, Elizabeth) altyd net met respek van 'n afstand af geken het. Of eintlik omdat die lewe op Koffiefontein maar weer aangaan: Hotelgaste se probleme, die vyfjarige seuntjie met 'n IK van 147 wat met regte gewere en lang messe speel en die ryk boere van die distrik bly dringender onderwerpe. (Is dit die stof waarvan satires gemaak word?)

Op pad na Koffiefontein die oggend praat ons oor ons eerste kennismaking met Etienne Leroux se werk. Op skool, ja, het ons al Sewe dae by die Silbersteins gelees en Die mugu. Maar eers later beter verstaan.

Die Wes-Vrystaatse vlaktes is droog. Op die lande waar mielies moet staan of skape moet wei, lê die grond rooi omgedolwe. Duskant Petrusburg ploeg twee trekkers moedig in die stof.

Effens te vroeg vir ons afspraak kom ons op Janee aan.

'n Mens kan nie verby die wit plaashekke ry nie: Stephen en Elizabeth se huis is naby die pad. En oorkant die straat die familieplaas Wagenmakersdrift waar Stephen le Roux langs sy ouers begrawe is. (Elizabeth en die kinders uit die eerste huwelik erf sewe plase, het die koeranteberigte gesê. "Ons het nooit oor geld gepraat nie," sê Elizabeth later. "Wat ek gehad het, was syne, wat hy gehad het, was myne...")

Naby die hek is 'n handgemaakte bordjie teen 'n paal aangebring wat wys: hou verby na die voordeur toe. Ons parkeer onder koeltebome en stap deur die hek, duik onder die sproeiers deur na die wit huis met sy blou deur- en vensterrame. Die deure staan oop, ons klop, wag, en klop weer. Dit voel asof die mense vergeet het ons kom. Die sproeiers swiep-swiep-swiep oor die welige grasperk. Nou al weet mens: later gaan dit warm word.

Dit is koel in die sitkamer met sy klipvloere en dik wolmatte. 'n Enkele naaswit roos staan in 'n pot. Aan die mure is skilderye van Christo Coetzee, Francois Krige, Marjorie Wallace en andere. Op 'n stoel lê 'n wit kat en slaap.

Elizabeth le Roux bestel dadelik tee toe sy inkom. Sy lyk veel maerder as toe ek haar vier maande gelede laas gesien het. Sy vertel sy is besig om in te pak en op te ruim vir die verhuising na Wagenmakersdrift waar sy nou gaan woon. Maar sy weet nie wat om te maak met al die tydskrifte en ander dokumente wat sy aan die uitsorteer is nie. "Die goed is ook glad nie in volgorde gepak nie. As Stephen 'n artikel gesien het wat hom interesseer, mag ek dié tydskrif soms drie jaar lank nie van die klip verwyder het nie."

Ons het skaars begin praat toe 'n motor voor stilhou. Dis 'n boer van Sasolburg wat so met die instap sê hy het kom vee koop, "al u man se boeke gelees" en net simpatie kom betuig. Hy wil nie tee hê nie.

Hy sit net kort en toe Elizabeth terugkom van die saamstap kar toe, sê sy die man het haar vertel hy voer Frieskoeie in wat 19 000 liter melk in 305 dae kan produseer terwyl melkkoeie, volgens hom, normaalweg net 13 000 liter in 305 dae produseer. En dat sy seun 'n advokaat in Johannesburg is. Dit staan daar, in die Landbouweekblad wat langs hom in die kar oop lê. "Hoekom vertel hy dit alles vir my?" wonder sy, maar weet eintlik. Hy is nie die eerste man wat die afgelope week op Janee opdaag nie. "Ek wou nog sê ek kan nie soveel melk in 305 dae opdrink nie..."

En ná 'n rukkie: "Ek wens ek kon weet wat Stephen hiervan dink. Ek is seker hy is net hier êrens en lag te lekker."

Buite klink die sproeiers op die grasperk, aan en af. Verder weg lê die Vrystaat en begin bak.

Elizabeth sit nie lank stil nie.

"Ek wonder of John Kannemeyer dalk van die tydskrifte sal wil hê. Hy bel net gister weer en nou dink ek: as iemand dit so graag wil hê, kan ék nie dalk ook iets daarmee doen nie?" sê sy toe sy terugkom nadat sy gaan kyk het of die tee al reg is.

Weer spring sy op. Dié keer om 'n koringkriek by die deur uit te help.

"Toe ons so drie/vier dae getroud was en ek een oggend die seile voor die deure kom ooptrek - die oumense het mos altyd sulke seile voor die deure gehad wat die hele dag toegetrek was en dan is die huis heeldag pikdonker - het een van dié goed van die seil af op my skouer geval. Ek het op daai een oggend vyftien jaar ouer geword."

Die gesprek spring rond. Ons is bewus van haar verlies wat so duidelik 'n leemte in die huis laat.

Sy en Stephen het mekaar in Bloemfontein op 'n partytjie van Gerrit Geertsema (later hoofdirekteur van Truk, toe nog van Sukovs) ontmoet ná 'n voordragaand van Sestigers se werk. "Stephen vra toe of ek hom nie by sy hotel kan aflaai nie want hy kan nie in die aand sien nie. Op pad daarheen wil hy toe eers Bloemfontein vir my wys. Ons was op die ou einde selfs by die universiteit se mielielande, waar hy my verduidelik het watter mielies groei goed en watter nie. Toe die son opkom, het ons by die stasiekafee gaan bacon en eiers eet. Ek nog steeds in my lang aandrok. Later die week bel hy en sê hy moet vir 'n ramveiling inkom stad toe en wil ek nie saam met hom gaan eet nie. Toe hy vir die tweede keer die week weer vir 'n ramveiling inkom, sê ek: "Maar hoeveel ramme wil jy dan koop?"

Einde 1970 is hulle toe getroud.

"Stephen het altyd vertel ek het hom gevra om te trou, maar dis nie waar nie." Sy lag. "Maar as hy nie het nie, dan sou ek wel!"

Ná die troue het hulle op Janee kom woon. Elizabeth, wat 'n musiekdosent op Bloemfontein was, het vyf jaar ná die troue weer begin werk - vir twaalf jaar as musiekonderwyseres op Koffiefontein. Sy speel ook nog gereeld orrel in die kerk.

Hulle was gelukkig getroud. Net nou die dag nog het hulle daaroor gepraat dat hulle van die min mense is wat hulle ken wat (sonder kinders) by mekaar bly omdat hulle werklik wil. Natuurlik was alles nie altyd maneskyn en rosegeur nie. Stephen kon soms heeltemal wegraak in sy eie wêreld in.

"Maar hy was die enigste mens wat ek geken het wat my nooit verveel het nie."

Haar hande lê selde stil.

"Hy was 'n wonderlike, sagte mens, wat ondanks die satiriese inslag in sy boeke ongelooflik baie deernis met ander gehad het. En bedoel hy kon jou opstuur en tog jammer voel vir jou.

"Daardie warmte en innigheid het hy selde vir mense gewys. 'n Akteur het een keer vir hom gesê hy sal langs 'n swembad staan en kyk hoe iemand verdrink. Dit is absoluut nie waar nie. Maar dit is die indruk wat hy gewek het. Dat hy afsydig teenoor mense staan."

En as hier vreemde mense aankom, soos die man vroeër? "Dan het hy die stilstuipe gekry. Baie keer het mense hier opgedaag en gesê hulle wil graag kom kyk wat laat die mense tiek wat hier woon. En dit is net waar Stephen opgehou tiek het. Ek het lateraan vir mense begin sê dit is nie 'n sirkus dié nie. Dit is gewone mense met gewone lewens wat hier woon."

Ons wonder oor hoe hy in die gemeenskap aanvaar is. Het hulle gedink hy is weird of is hy, twee keer die Hertzogpryswenner, skrywer van 'n omstrede boek wat verbied is en amper sy skrywersloopbaan gekos het en ontvanger van drie eredoktersgrade, aanvaar as boer met swart klere en donker bril en al? Elizabeth vertel 'n staaltjie wat die gemeenskap se houding jeens Stephen illustreer.

Eendag het Stephen se jong hekoopmakertjie besluit om 'n entjie met sy splinternuwe rooi bakkie te ry, met ander kinders agterop en al. Hy is dwarsdeur 'n heining en in 'n kanaal in. Die gebuigde modderskerms en aluminium-goed langs die kant wat skeef uitgestaan het, is met die kinders deur silwerpapiere, tinseltjies en allerhande voorwerpe versier. "Dié bakkie het omtrent gelyk soos 'n suurlemoen op 'n lugdraad!" Stephen het lank só met die bakkie rondgery. Toe hy uiteindelik 'n nuwe bakkie koop en 'n slag by die koöperasie op die dorp opdaag, wou die mense verbaas weet: "Waar's jou bakkie? Hoekom ry jy met hierdie snaakse nuwe bakkie?"

Ons lag nou makliker, hier in die stil huis met sy leë plekke oral.

Elizabeth en Welma gesels oor die eerste keer toe hulle ontmoet het by die stigtingsberaad van die Skrywersgilde. "Ja, jy was maar nog 'n baba," sê Elizabeth. Welma het Leroux gevra of sy hom maar Etienne kan noem. "Hy het gesê, gerus, hy wou nog altyd hê iemand moet hom Etienne noem!"

Elizabeth het die skrywer nou en dan met tikwerk gehelp, maar nie die romans nie. Dié mag sy eers gelees het as dit klaar was.

En die verbod op Magersfontein? "Hy het baie selde daaroor gepraat. Dit het 'n ongelooflike uitwerking op hom gehad. Daarom dat hy so lank gewerk het aan Onse Hymie en ook nou die nuwe boek. Aanvanklik was dit nie omdat hy siek was nie. Hy het aan homself as skrywer begin twyfel."

Toe sy Magersfontein in manuskripvorm die eerste keer lees, het sy aan hom gesê: "Hier gaan jy probleme optel."

Maar waaroor hy verskriklik bly was, was die Hertzogprys. "Ongelukkig was ek die dag op die dorp toe hy die nuus gekry het. Hy het vir Paul en Klein Sanna geroep en saam met hulle die prys gevier."

Ons stap saam met Elizabeth deur die huis. Verby "die klip" in die voorportaal, wat 'n kroegtoonbank is en waarop steeds 'n stapel koerante lê. Daar het hy bedags al die tydskrifte en koerante gestaan en lees. In die gang is 'n versameling foto's, party al verblyk. 'n Glimlaggende Paul, Sanna en Leroux staan op een. Nog een wys die eerste Skrywersgildeberaad van 1975. Op 'n ander Skrywersgildefoto sit André Brink en Etienne Leroux langs mekaar met brille omgeruil. (Iets wat hulle dikwels gedoen het om mense te verwar.) Om die hoek voor 'n ry boekrakke lê stapels Time Magazines wat Elizabeth al in jaargange uitgesorteer het.

Die studeerkamer met die Hermes-tikmasjien lyk steeds soos 'n mens dit uit televisieprogramme leer ken het. Elizabeth wys die kaste waaruit sy al tydskrifte gehaal het om te sorteer. Die transformator wat hy self gebou het vir sy bandmasjiene toe die elektriese stroom nie sterk genoeg was nie. Al die ou spelers, tot die een wat die weerlik stukkend geslaan het, staan nog op die rak. Sy trek die blindings reg soos wat hy dit altyd wou gehad het. "Die een moes so halfpad wees en die ander een heeltemal toe."

Uit 'n ander boekrak haal sy 'n dik leêr waarin sy alfabeties die onderwerpe van sy briewe geliasseer het. 'n Hele klomp briewe van die skrywer Chris Barnard oor Een vir Azazel, let ek op die eerste blad op. Nee, hy het nie sy boeke alfabeties gerangskik nie. Hy het altyd gesê hy weet presies waar elke boek is.

Ons stap terug sitkamer toe. Elizabeth verskoon haarself vir 'n rukkie. Op die stoel lê die dowe wit kat nog steeds in dieselfde posisie as vroeër die oggend. Van buite af begin die hitte die koel huis binnekom. Iemand het ondertussen die sproeiers afgesit.

Ons wil nie indring nie, beduie ons. Sy moet net sê as ons liewer moet gaan of as dit te moeilik word. Nee, sê Elizabeth, kom ons drink nog tee. Saterdae is vir haar moeilik.

Koffiefontein se mense is ondersteunend. Sy is nooit te lank alleen nie. Die foon lui dikwels. Juis gister was Tant Annie, Stephen se ou tante van in die tagtig wat naby boer, op Janee. Sy het 'n stuk vleis, 'n spanspek en waatlemoen gebring.

"Die mense was baie lief vir Stephen en baie daarvan gee hulle nou vir my.

"Elke dag bel mense, al het ek hulle die vorige dag gesien. En waarskynlik 90 persent daarvan is omdat hulle soveel vir hom omgegee het al was hy nie altyd so betrokke by hulle nie.

"Stephen het altyd eienaardige situasies na hom toe aangetrek. Een van die plekke waar mense hom seker die meeste genader het, was toe ons met vakansie op Lüderitz was. Ons het nooit gaan sit om te eet of êrens heen gestap nie of iemand het na hom toe gekom en die een of ander storie vertel wat hulle dink hy in sy boeke sou kon gebruik.

"Toe ons trein die aand sesuur vertrek, was daar 'n hele plaat mense wat kom afskeid neem het. Met geskenke. Die een het 'n sakkie samoosas gebring, die ander lekkergoed en tuisgebakte koekies. Tot 'n bottel water wat 'n mens buite die treinvenster kon vasmaak sodat die water koel bly."

Ander vakansies (dikwels in die wintermaande) is hulle na die vakansiehuis op Onrus, wat ook gereeld 'n informele vergaderplek van die Sestigerskrywers geword het.

Elizabeth vertel van 'n gesprek met Uys Krige een middag terwyl Stephen geslaap het, en sy en Barend Toerien gaan swem het. Uys kom met 'n klomp kinders verbygestap en kyk haar so: "Maar is jy nie met Stephen le Roux getroud nie?" Ja, sê Elizabeth. "Maar dis mos nie Stephen dié nie," sê hy en beduie na Barend. Nee, sê hulle. Dis Barend Toerien. "Maar hou jy nie 'n uitstalling iewers nie?" Nee, sê Elizabeth. Hy dink seker aan Jan Rabie se vrou, Marjorie Wallace. "Maar Marjorie is mos nie met Stephen getroud nie," sê Uys. Nee, sê Elizabeth en onthou toe dat Renée le Roux, Stephen se eerste vrou in die Kaap 'n uitstalling hou. "O," sê Uys, "maar is daar dan moeilikheid tussen hulle?" Waarop Elizabeth verduidelik dat sy al jare met Stephen getroud is. En Uys toe antwoord: "Maar sê my, waar stal jy dan uit?"

Die ander staaltjie oor Uys en Stephen is dat Uys elke oggend en aand as hy Stephen gesien het vir hom gesê het: jy kom mos van dieselfde plek waar Laurens van der Post vandaan kom. Waarop Stephen dan getrou geantwoord het Laurens kom van Fauresmith en hy van Koffiefontein af. Tot op 'n keer dat hulle saam met Karel Schoeman by Uys gekuier het en Uys toe dié vraag vir Schoeman gevra het. Stephen was heel veronreg en het onmiddelik gesê: "Komaan, Uys - dis my vraag daai."

Op 'n ander keer het die groep Onrusskrywers borgskapgeld by 'n universiteitsvriend, Dawid de Villiers (wat ook die bynaam Pavis of Dik Dawid gehad het), gaan soek. Voor die tyd het Elizabeth Stephen oor en oor laat oefen dat hy hom net as Dawid moes aanspreek en nou nie vir hom op sy universiteitsbynaam moet noem nie. Elizabeth en Marjorie het heeldag hul naels gesit en kou terwyl Stephe, Jan en Klaas Steytler die sakeman De Villiers gaan besoek. Met die terugkeer wou Elizabeth weet wat toe gebeur het, waarop Stephen se antwoord was: "Toe ons uitklin, groet hy my as Klein Stephen en toe sê ek vir hom: Dag, Dik Dawid." En verskonend: "Hy het eerste begin."

Stephen het graag met medeskrywers gekuier. En tog was hy glad nie 'n organisasie-mens nie. Hy het behalwe vir die Skrywersgilde, waar hy en Elizabeth jaarliks getrou by berade te sien was, net tot die Boerevereniging behoort. Maar hy het nooit na die vergaderings gegaan nie.

Ouderdom het ook geen verskil aan hom gemaak nie. Toe hy 40 was, was jy en die Nederlandse letterkundige Jan Greshoff steeds goeie vriende ondanks die 35 jaar verskil in ouderdom. Hy was 16 jaar ouer as Elizabeth. Dieselfde met jonger skrywers, waarvan 'n paar op sy begrafnis vroeg in Januarie was. Sy uiteenlopende musieksmaak het ook met tye bygehou.

"Ons was die naweek by Antjie Krog-hulle op Kroonstad toe Johannes Kerkorrel daar gespeel het. Stephen het die aand heeltemal uit lit uit geraak soos hy en Antjie gedans het. Die volgende oggend toe ons styf-styf aan die ontbyttafel sit, sê Antjie sy het nie eens op universiteit van los dans gehou nie en gisteraand kon sy nie ophou nie."

(Elizabeth onthou skielik dit was seker onnodig van haar om meegevoer deur die oomblik vir Kerkorrel te sê hy is die musikale talent van die twintigste eeu.)

Sy gaan roep die honde, 'n swart en 'n bruin Chow. Die een is hare en die ander Stephen s'n. Saans het hulle atyd by hulle voor die televisie kom sit. Stephen was baie lief vir televisie kyk, maar net tot ná die nuus saans, waarna hy gewoonlik in sy studeerkamer gaan werk het. Ná sy dood, sê Elizabeth, wil Stephen se hond glad nie by haar kom sit nie. Hy loop net tot by Stephen se plek, draai om en gaan lê buite. Die hond maak nou ook so. Huil eers saggies en kom aan die vreemde mens ruik.

Een van die planne wat Stephen bedink het toe hulle bang was die honde gaan skaapvangers word, is om die twee in 'n drukgang te jaag saam met 'n spul ramme. Maar buiten dat Elizabeth se hond daarna as hy Stephen se stem gehoor het nie eens na hom wou kyk nie, het dit nie eintlik gelyk asof die plan gewerk het nie.

Dis byna drie-uur die middag toe ons, ná 'n middagete van koue vleis en slaai, dorp toe ry. Koffiefontein is 'n valerige dorpie wat dié tyd van 'n Saterdagmiddag gaar en met leë strate in die Vrystaatse son bak. Onder die dorp se naambord hang 'n groot koffieketel.

Ons lag oor Elizabeth se storie van hoe hulle twee jaar gelede met die vloed vasgekeer was en selfs die koffie op die dorp opgeraak het. Nou is dit droog en warm. Sulke snaakse vlieswolkies wat niks beteken nie versamel in die lug.

"Stephen kon hom baie bekommer oor die droogte."

Ons ry by die Karee-hotel langs. In die Ladies' Bar is daar 'n bossie gedroogde blomme voor die plek waar Stephen altyd gesit het en na die gesprekke geluister het. As hy wou saamgesels, het hy in die deur van die manskroeg gaan staan. Jantjie, die kroegman, wys die knipsels van die begrafnis wat hy versamel het. Ja, hy het hom goed geken. En ook vir Breyten en Malan en Rabie.

Sesuur se kant ry ons terug Janee toe om saam met Elizabeth na die graf te gaan. Ons praat min op die koppie waar die drie grafte langs mekaar lê. Stephen se ma se graf se inskripsie is nog nie voltooi nie. Sy is maar drie maande voor hom dood. Elizabeth buk by die droeë blomme en haal 'n vergete naamkaartjie af. Ek wonder waar is Jan se kruie, sê sy.

Onder by die huis voordat ons groet, sê sy nog vir oulaas: "Stephen was 'n mens wat nooit deur die weer onkant betrap is nie. As hy op die plaas gaan werk het, het hy altyd so oor sy arm sy leerbaadjie en sy trui saamgedra. Dit was altyd ek wat dan by hom moes leen."

Dis nou mooi buite. "As mens iewers moet woon," sê Elizabeth, "dan is dit of in Griekeland, of in Onrus, of hier. Nêrens anders is die moeite werd nie."

By die hotel vertel die man dat Klein Stephen vanoggend daar was. "Die televisie-mense was die week daar by hom. Hulle gee hom nie kans nie... Sy pa is maar twee weke gelede dood. Hulle gee hom nie eens kans om oor sy pa te treur nie."

Leroux het Koffiefontein op die map geplaas, vind die eienares nog iets om te sê: "Ek weet nie of daar nou nog iemand hier oor is wat Koffiefontein weer op die map kan plaas nie."

Persoonlike gereedskap