Net eer, liefde ná die smaad (Rapport, 1990-01-07)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Die stil profeet wat Woensdagmiddag hier in die hete Januarie-son in 'n wit greinhoutkis met 'n bos rooi rose in die aarde laat sak is, was 'n groot en geliefde mens. Hy was 'n skrywer-profeet. Miskien die grootste wat sy taal en sy land nog geken het.

Soos 'n profeet gewoonlik, het hy die smaad én die eer van sy mense beleef. Maar Etienne Leroux het baie lank reeds sy miskenners tot swye en skaamte gebring. Hy het verlede Saterdagaand geëerd, bewonderd en bemind gesterf.

Die toneel op die begrafniskoppie op die plaas het vertel van 'n Stephen soos sy wêreld hom geken het. 'n Vrystater gebêre in ongepoleerde, natuurlike hout, 'n bos vars rooi rose met lang stingels by hom, en omring deur Vrystaatse familie en vriende en bure en rouklagende werkers.

En 'n klein groepie ander wat met sonop uit ander windstreke na die Suid-Vrystaat opgetrek het op ver paaie uit die Oos-Kaap, die Boland, Transvaal - omdat hy vir hulle die man was wat vir hulle standaarde gestel het in die lewe, as kunstenaar in die kuns wat hulle die naaste aan die hart lê, ja, maar ook as die edel mens met die deugde wat hulle hom beny het: eerlikheid, beskeidenheid, sagmoedigheid, dapperheid, integriteit en 'n hartstogtelike geloof in sy eie gewete. En as 'n vriend wat diep in jou hart ingekruip het.

Mede-skrywers, mede-stryders en vriende en bewonderaars van baie jare - Jan Rabie en André Brink.

Sy uitgewer en vriend Koos Human, wat in die bitterste tyd van sy skrywerslewe hom onderskraag het.

Elize Botha, seniot literator, wat enkele maande tevore die laaste was om by 'n openbare byeenkoms hom te huldig vir die groot kunstenaar en profeet wat hy was.

Daar was ook enkele van die ander vakmense, uit Bloemfontein en Pretoria en Johannesburg, wat al veel gedoen het om Etienne Leroux se werk uit te dra.

En enkele van die jonger skrywers, uit Kroonstad, Hermanus en Johannesburg, wat eer kom betoon het.

Persoonlike gereedskap