Naakte beelde en maaiers (By, 2007-11-30)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
'n Beeldhouwerk van Moses Kottler, gedigte van Peter Blum en selfs D.J. Opperman en Etienne le Roux se Magersfontein, o Magersfontein! het almal ’n voorsmaak gekry van die streng binnelandse sensuur wat in die Sestigs in Suid-Afrika sou posvat. J.C. KANNEMEYER vertel meer.
Reeds in 1947 het die eerste ritseling in verband met die beheer oor binnelandse publikasies in die parlement hoorbaar geword. Met die bewind van die nuwe regering in 1948 was daar kort voor lank ’n sterker geroep om ’n meer rigiede sensuurstelsel, al het dit aanvanklik nie tot iets substansieel uitgegroei nie.
Omdat baie betrokkenes egter gevoel het daar is iets aan die kom, het die redaksie van Standpunte in 1953 ’n opname laat maak waarin verskillende mense uit ’n wye spektrum hulle teen die wenslikheid van binnelandse sensuur uitgespreek het. Dit het die regering nie gekeer om ’n kommissie onder leiding van prof. Geoff Cronjé te benoem om “die euwel van onwelvoeglike, aanstootlike of skadelike leesstof” te ondersoek nie.
Ná publikasie van die Cronjé-verslag in 1957 het ’n aantal skrywers en letterkundiges hulle in Die Huisgenoot sterk teen die voorgestelde beheer uitgespreek en het die regering voorlopig afgesien daarvan om die ekstreme aanbevelings van die kommissie deur te voer.
Reeds in 1957 – presies 50 jaar gelede – was daar twee voorvalle wat as ’n voorspel tot die strenger sensuur van ’n paar jaar later gesien kan word. In dié jaar is ’n pragtige beeldhouwerk van Moses Kottler, ’n man en ’n vrou wat veronderstel was om die “volk” van Suid-Afrika te simboliseer, op die nuwe gebou vir die Bevolkingsregister in Pretoria aangebring.
Baie gou het daar ’n hele uitbarsting oor dié beelde ontstaan, want albei was half gekleed en daarom vir baie mense nie aanvaarbaar om in die openbaar ten toon gestel te word nie. As ’n mens vandag kyk na ’n foto van dié uiters kuise beelde, wat in die McGregor-museum in Kimberley bewaar word, is dit haas onbegryplik dat hulle op so ’n redelose protes en onbegrip kon stuit.
Die koerante het spoedig gedawer van die verontwaardiging, veral in Die Transvaler, wat in Mei en Junie 1957 feitlik daagliks briewe van protes gepubliseer het. In ’n brief van 29 Mei 1957 sê Roelf Britz die “Vrou van Suid-Afrika” word “goedkoop” gemaak: “Kyk na haar waar sy staan! In haar ontblote naaktheid staan sy nog wydsbene met ’n lae ontblote maag en borste met die man se hand nogal oor die een kaal bors.
“Ek is in my siel daarvan oortuig dat dit die begeerte van die groot meerderheid van u lesers sal wees dat daardie beelde nie op die gebou vir die Bevolkingsregister in Pretoria sal pryk nie. Laat ons ons stem verhef en die Regering nader om die Vrou van Suid-Afrika anders voor te stel – ek verkies haar in Voortrekkerdrag met lang rok en kappie kompleet – maar ons moenie toelaat dat die man en vrou, simbolies van die bevolking van Suid-Afrika, in daardie naakte toestand opkyk na die vlag van Suid-Afrika nie!”
In die uitgawe van 6 Junie vra “ ’n Ou Moeder” hoekom “ ’n beskaafde volk” dan nie sy “jong nasie” met “geklede figure” voorstel nie. Die naakte figure in die katedrale van Europa en in die Vatikaan “hoort ook net daar tuis”; “geen Afrikaanse kerk hier in ons land sal dit duld nie, edelste kuns of te nie”.
In ’n brief van 11 Junie praat die briefskrywer van die “onkuise oorsee-aangeleerde sedelik-perverse kunsidee” wat met hierdie beelde bevorder word.
Die peil van die briewe oor ’n kunswerk van so ’n hoogstaande gehalte laat Merwe Scholtz, indertyd senior lektor aan die Universiteit van Pretoria, in ’n radiopraatjie opmerk dat sulke korrespondensie nie toegelaat mag word om sonder ’n ernstige teregwysing in die openbaar sy gang te gaan nie.
Pleks daarvan om hul lesers leiding te gee oor wat presies onder kuns verstaan word, was die redaksie van Die Transvaler egter verheug oor die peil van die briefwisseling in sy kolomme. Dit sou, volgens ’n hoofartikel, aan die belanghebbendes oordra “dat die tyd vir amptelike naaktkuns – ten minste as simbool van die volk – nog nie aangebreek het nie.”
Die besware teen die beelde was nie net tot briefskrywers in Die Transvaler beperk nie. Ook predikante wat nie genoeg werk vir hul hande gehad het nie, was deel van ’n veldtog om die Kottler-beelde te laat verwyder. Een van die voorperde was ds. D.F.B. de Beer, sekretaris van die kommissie vir openbare sedelikheid van die Transvaalse NG Kerk, wat sewe jaar later ’n groot rol sou speel om Leroux se Sewe dae by die Silbersteins as ’n moreel verderflike roman te brandmerk.
Ondanks protes van die kant van kunskenners en skrywers gee die betrokke minister, mnr. Jan de Klerk, op aandrang van die beswaarmakers opdrag dat die beelde verwyder moet word. Dié besluit is deur die dominee van Oranjeville toegejuig.
Maar 1957 was ook die jaar waarin ’n aanval op sekere gedigte van D.J. Opperman en Peter Blum gedoen sou word. Dit is voorafgegaan deur morele besware teen Blum, wat in 1955 met die bundel Steenbok tot poolsee gedebuteer het.
Ná die verskyning daarvan kom daar uit verskillende min of meer bedenklike literêre oorde morele besware teen Blum se poësie. Pieter Graavesand vind in Die Brandwag van 23 Maart 1956 sommige van die verse “dekadent” en ’n nuwe soort “sensasiekuns”, terwyl die Afrikaanse Skrywerskring van C.M. van den Heever en S. Ign. Mocke (wat in Helikon teen Blum te velde trek) ’n ongunstige klimaat vir die bundel skep. Anna Neethling-Pohl spreek ook haar misnoeë oor die bundel uit en weier aanvanklik om gedigte daaruit in haar radioprogram Verse op versoek voor te lees.
Een van die belhamels in die veldtog was J. Nel van der Merwe, onderwyser aan die Helpmekaar Hoër Seunskool in Johannesburg. Hy het hom daarvoor beywer dat die hele oplaag van die bundel deur Nasionale Boekhandel aan verspreiding onttrek word.
Een van die belangrikste stukke, waarin ook die poësie van Opperman betrek word, kom van die bejaarde D.F. Malherbe, wat in ’n artikel in Tydskrif vir letterkunde (Maart 1957) van ’n “maaierkultus” en die verval van ons verskuns praat. In sy artikel haal Malherbe aan uit “Nagwag” van Opperman:
In miljoene liggies woel die mens, oorgelaat op aarde aan sy lot; wit maaiers aan die lies en pens van ’n swart koei wat lê en vrot – alles voos van die verval, die sterre vreet aan die heelal.
Volgens Malherbe is dié gedagte heeltemal Heideggeriaans: “die mens gesien in sy volstrekte isolement en eiewettelikheid”. Die vers is vir hom “ ’n degradering van die sterrehemel, wat nog altyd vir die mens die volmaakte skoonheid is, tot die laagste vlak”. Uit “ ’n Kadawer”, Blum se vertaling van ’n gedig van Baudelaire, haal hy vervolgens aan:
Die vlieë het gegons op die verrotte maag Waaruit ’n swart kommando maaiers Gerol het langs die buik en lieste, dik en traag – Ek meen geen vloeistof was ooit taaier.
Na aanleiding hiervan vra hy: “Moet daar nou ’n soort maaierkultus ontstaan? Met sulke dinge is ons verskuns aan verval.”
Die uitsprake van Malherbe wek by Blum ’n sekere mate van ergernis, maar dit lok hom ook uit tot geestige opmerkings in briewe aan sy vriende. In ’n brief van 19 April 1947 aan J.J. Human, indertyd hoof van algemene publikasies van Nasionale Boekhandel, vra hy: “Moet ’n mens teologies raak en vra of die Skepper nie ook maaiers gemaak het nie, net soos hy die mens, benewens ’n siel, ook toegerus het met geslagsorgane en derms?”
Aan C.M. van den Heever, redakteur van Tydskrif vir letterkunde, skryf Blum: “Ek laak dit dat DF ons ou nasie so neerhaal. Ons is skepsels van dieselfde God wat die mens vir ons as kossies bedeel het. Maar laat DF versigtig wees: as hy van plan is om sy laaste dae in die Vrystaat deur te bring, sal ek dalk self nog aan hom smul.” Hy teken die brief: Mike die Maaier.
Toe Die Transvaler op 30 April 1957 prominensie verleen aan Malherbe se artikel, reageer Elisabeth Eybers in ’n brief: “Nou het ek geen persoonlike voorliefde vir maaiers nie, maar hierdie nederige opruimers maak tog ook deel uit van God se skepping en ek kan moeilik insien hoedat ’n verwysing na hulle ’n gedig as dekadent verdoem.
“Bowendien, as dr. Malherbe ooit die bundel Steenbok tot poolsee in hande gehad het, sou hy besef het dat die betrokke reëls nie op Blum se rekening geplaas kan word nie, maar deel uitmaak van ’n vertaling van die bekende gedig, “Une charogne”, van die groot Franse digter Baudelaire.”
Op die samevatting van Malherbe se artikel in Die Transvaler volg, soos Blum dit in ’n brief aan ’n vriend sou noem, ’n hele “maaier-bohaaier”. Een van die briefskrywers vermom homself agter die skuilnaam “Anti-Maaier” en wys daarop dat Baudelaire “afwykend en dekadent” was en dat sy bundel Les fleurs du mal aandag getrek het op grond van “sieklike onderwerpe” en “spreekwoordelik vir ongeurigheid” geword het.
Waarskynlik het dié briefskrywer nie besef dat C. Louis Leipoldt reeds in 1935 – 20 jaar voordat Blum dit as “’n Kadawer” sou vertaal – Baudelaire se “Une chargone” verdedig het teen lesers wat dit as ’n “onbetaamlike verkragting van poësie” beskou. In ’n brief van 4 April 1933 skryf hy aan sy vriend F.V. Engelenburg dat hy dié gedig van Baudelaire vertaal het, al weet hy by voorbaat dat niemand dit ooit sal druk nie. “Maar,” gaan hy voort, “ek dink die vers is wellustig mooi en daarom het dit my plesier gegee om dit (...) te probeer verafrikaans.”
Die gedoente oor die Kottler-beelde en die “maaierkultus” in 1957 was die voorspel tot die strenger sensuur wat weldra sou kom. In 1963 is die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede deur die parlement geloods, ondanks besware en versoekskrifte deur ’n groot aantal skrywers en kunstenaars. Die 1974-wetgewing, wat dié van 1963 vervang het, sou vir ’n nog meer rigiede beheer sorg.
Afgesien van die omsigtigheid waarmee uitgewers te werk moes gaan om binne die drakoniese wetgewing te bly en die euwel van presensuur wat die voorskrifte in die hand gewerk het, is letterkundige werke telkens op grond van die wette se bepalings aangekla. Jong skrywers soos Welma Odendaal is ná ’n verbod jare lank ontmoedig om weer te publiseer, terwyl skrywers met statuur, soos André P. Brink, Etienne Leroux en John Miles, met die verbod op werke soos Kennis van die aand, Magersfontein, o Magersfontein! en Donderdag of Woensdag verneder is.
Die skade wat hierdie wetgewing die Afrikaanse letterkunde berokken het, is vandag deel van die geskiedenis.