Luistervink (Kol, 1969-10-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Vir Stephen L.

jy vra my hoe dit is om in ballingskap te leef, vriend -
wat sal ek dan sê?
dat ek te jonk is vir bittere verset
en te oud vir wysheid of berusting
by Lot?
dat ek tog net een van vele is
die onaangepastes
die heerskare van uitgewekenes, verlooptes
burgers van die duister se derms?
een van die 'Franse met 'n spraakgebrek?'
of selfs dat ek my tuis voel hier?

ja, maar ook dat ek nou die eensaamheid van kamers herken
die bevuiling van drome, die oorblyfsels van herinneringe
die viool se dun gekerm
waar oë vér altyd vérder kyk
ore tjoepstil na binnetoe luister
- dat ek ook soos 'n bedelaar
bid vir die aalmoese van 'nuus van die huis'
vir die genade van 'onthou jy'
vir die erbarming van 'een van die dae'

maar ek onthou nie
liedere het vervaag
gesigte sê niks
drome is gedroom
en soos in die wierhare van 'n vrou in liefdesoeke
verlaat jy jou in 'n skuifelende massa anonimiteit
van vroegverouderde rewolusionêre
van digters sonder taal en blinde skilders
van briewe sonder tyding net soos seë sonder getye
van hulle wat stik in die kindsheid van verlange
van hulle wat geeste oproep uit die wierook
landskappe optower uit die tonge
die wete van die self opgooi
- moet ek ooit 'n dieper wending gee?
dat ons almal net ballinge is van die Dood
om binnekort 'huis toe' te mag gaan?

nee, want nou begin ek, tastend met onbekende hande
hulle wat voor ons hier was verstaan
en ek vra jou net
in die naam wat jy vra
om goed te wees vir hulle wat ná ons kom

Parys/Paasfees 1968

[Ns: Hierdie "geleentheidsgedig" is geskryf vóór 'n ander stuk van Breytenbach, 'n antwoord op die gedagtewisseling in Kol 1/1. Laasgenoemde bydrae is deur die redaksie vir plasing goedgekeur - die stuk was reeds geset - maar kon vanweë juridiese redes nié verskyn nie. In 'n sekere opsig, dus - dat hy hom naamlik nie kon verweer soos wat hy wou nie - het Breytenbach daardie rondte gewen. (J.M.)]

Persoonlike gereedskap