Leroux wil S.A. se 1e seksboek skryf (Dagbreek en Sondagnuus, 1968-03-10)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
"Ek voel partykeer lus om 'n boek oor seks te skryf," sê Etienne Leroux, en vervolg: "Jy weet, so 'n boek is nog nie in Suid-Afrika geskryf nie."
As Hertzogpryswenner met sy Sewe Dae By Die Silbersteins, voel die omstrede Sestiger blykbaar nog nie dat hy al sy grootste werk gelewer het en wil uitspan nie.
"Hierdie veld - dié oor seks - 'n mens voel soms byna afgunstig op party oorsese skrywers. Hulle skryf so vrylik daaroor.
"Ons in Suid-Afrika moet altyd die Publikasieraad in gedagte hou."
Gevra waarom hy nie maar in elk geval die boek oor seks skryf op die gevaar af dat dit nie die straat mag haal nie, was sy antwoord:
"Dit neem my twee jaar om 'n boek te skryf. Op hierdie leeftyd gooi ek nie sommer twee jaar van my lewe weg nie."
(As so 'n seksboek geskryf word sal dit 'n regte seksbom wees. Met André Brink se "Orgie" en "Miskien Nooit" waarin hy intieme seksavonture met verskeie vroue beskryf, is al klaar 'n storm ontketen. Is nog meer seks in een boek moontlik? was 'n letterkundige se kommentaar.)
Etienne gaan binnekort Europa toe. Hy sal ander Sestigers soos Brink en Breytenbach in Parys ontmoet. In Londen sal hy betrek word by onderhandelings oor die filmregte van Sewe Dae By Die Silbersteins.
Daar is destyds aangekondig dat 'n Amerikaanse filmmaker 'n rolprent oor die boek wil maak.
Sedert die Engelse weergawe van "Een vir Azazel" resensente in Amerika bereik het, is daar glo nou nog meer belangstelling in die filmplan.
Die skrywer sê dat minstens twee groepe nou ernstig belangstel in die filmregte. Daar is sprake van 'n groot bedrag wat daarvoor betaal sal word. Terwyl onderhandelings nog aan die gang is, kan die bedrag nie genoem word nie.