Leroux se dood verarm Afrikaans (Beeld, 1990-01-03)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

KAAPSTAD - Die dood van die gevierde Afrikaanse romanskrywer Etienne Leroux is gister deur die Afrikaanse Skrywersgilde beskryf as nie net 'n slag vir die letterkunde nie, maar ook 'n persoonlike verlies.

Mnr. Leroux is die afgelope drie weke vir longkanker in die Universitas-Hospitaal in Bloemfontein behandel. Hy word vanmiddag om drie-uur uit die NG kerk op Koffiefontein begrawe.

Die diens word behartig deur ds. Meiring de Wet van die NG kerk op Petrus Steyn. Hy word begrawe op die plaas Wagenmakersdrift buite Koffiefontein waar wyle mnr. Leroux se ouers ook begrawe is.

Mnr. Leroux word oorleef deur sy vrou, Elizabeth, twee dogters - mev. Cherie Collins van Kaapstad en dr. Helise Ashton van Kaapstad - en 'n seun, mnr. Stephen Leroux (34), 'n boer van Koffiefontein, en drie kleindogters.

Mev. Leroux het gister gesê haar man was geruime tyd siek en is Saterdagaand oorlede.

Die voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, dr. Charles Malan, het gister in 'n verklaring gesê mnr. Leroux se dood is 'n slag vir die letterkunde en ook 'n groot persoonlike verlies.

Mnr. Leroux was een van die mees gerespekteerde lede van die gilde. Sy kenmerkende jeugdigheid van gees het verseker dat hy deurgaans gesien is as "een van die jong turke" van dié organisasie, lui die verklaring.

Die verskyning van Leroux se boeke is dikwels met omstredenheid begroet.

Hy het twee keer die Hertzogprys vir prosa ontvang, eers in 1964 vir Sewe dae by die Silbersteins en in 1979 vir Magersfontein, o Magersfontein!, wat verbied is, maar in 1976 ook met die CNA-prys bekroon is. In 1964 het sy roman Een vir Azazel eweneens die CNA-prys ingepalm. Tussengebied (lesings en artikels) is in 1981 met die Perskorprys bekroon.

Die skrywer het amper 'n dosyn romans gepubliseer, waarmee hy internasionale status verwerf het. Ten tyde van sy dood hey hy aan sy twaalfde roman, Die kaping, gewerk.

Stephanus Petrus Daniël le Roux - beter bekend onder sy skrywersnaam Etienne Leroux - is op 13 Junie 1922 op Oudtshoorn gebore.

Hy was die seun van mnr. S.P. le Roux, destydse Minister van Landbou in die Malan-Strijdom-kabinet en 'n peetseun van C.J. Langenhoven.

Hy het aan die Grey-kollege in Bloemfontein skoolgegaan en in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy was 'n ruk lank prokureur en daarna boer. Ná sy troue met die skilder Renée le Roux het hy hom op 'n gedeelte van die familieplaas naby Koffiefontein in die Vrystaat gevestig.

Dié huwelik is in 1969 ontbind en die skrywer het einde 1970 met Elizabeth Joubert, 'n musiekdosent, getrou.

In Desember 1987 het sy Alma Mater 'n eredoktorsgraad aan hom toegeken en in dieselfde jaar het die Universiteit van die Oranje-Vrystaat hom op dieselfde manier vereer; vroeër (1978) eweneens die Universiteit van Natal.

Persoonlike gereedskap