Leroux en die spook van sensuur (Insig, 1999-12-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

KOOS HUMAN

Etienne Leroux word vanweë die "Magersfontein"-sage onlosmaaklik met sensuur vereenselwig. Nou, tien jaar na sy dood, kan mens dalk aanvullende inligting oor "Magersfontein" verskaf en ook vertel van 'n sensuuraksie heel aan die einde van sy lewe waarvan baie min mense bewus is.

Op 7 September 1977 het Connie Mulder as Minister van Binnelandse Sake die Appèlraad oor Publikasies gelas om die beslissing dat "Magersfontein, o Magersfontein!" nie ongewens is nie, te heroorweeg. Dit was ingevolge 'n klousule in die wet waarvolgens, indien die Direkteur van Publikasies nie self appelleer teen die bevinding van een van sy komitees nie, die minister die reg had om die Appèlraad te gelas om die beslissing te heroorweeg.

Ek is nie iemand wat dagboeke gehou het nie, dus kan ek nie dag en datum noem nie. Wat ek wel onthou is dat na die middagete na die jaarvergadering van Nasionale Pers in 1977, wat altyd middel Augustus plaasvind, het Heini Jaekel, destyds besturende direkteur van Nasionale Boekhandel, na my gekom en gesê het hy het verneem Mulder gaan die boek "verwys".

Dit is wel bekend dat regter Lammie Snyman se handgekose appèlraad die positiewe bevinding van die komitee tersyde gestel en die boek verbied het.

Dat Snyman van die begin af vasbeslote was om "Magersfontein" te verbied, was geen geheim nie. Trouens, op die eerste dag van die "verhoor" het 'n bode 'n laat skriftelike verklaring (aangevra deur die appèlraad) aan Snyman oorhandig. Hy het dit gelees en 'n breë glimlag het oor sy gelaat versprei.

Met groot genoegdoening het hy dele uit die verklaring voorgelees. Dit was van prof Tjaart van der Walt, destyds rektor van die Potchefstroomse Universiteit, en in die stuk het hy onder meer gesê die skrywer sal nie welkom wees op sy kampus nie. Agter uit die ou Joodse Sinagoge in Pretoria laat Louis Eksteen kliphard hoor: "En wie sê die skrywer sal op die professor se kampus wil wees?"

Die uitspraak was 'n voldonge feit en toe kom die vraag of ons hof toe moes gaan. Jaekel het sterk daaroor gevoel en die direksie het so besluit, ook dat Nasionale Boekhandel die koste sou dra, iets wat Human & Rousseau nooit sou kon bybring nie.

Mens kon net op twee gronde na die hof appelleer: verkeerde toepassing van die wet of onbehoorlikheid wat bevooroordeeldheid, beïnvloeding ensomeer insluit (dis nou maar baie simplisties gestel).

Ons ontvang toe berig dat 'n prokureur wat nog voor Mulder se lasgewing in Snyman se kantoor was, 'n eksemplaar van "Magersfontein" op Snyman se lessenaar gesien het. Snyman het daarna gewys en gesê dat daardie boek verbied gaan word. Die prokureur was gewillig om so onder eed te getuig. Ons was vuur en vlam dat die basis van verdediging moes wees Snyman se bevooroordeeldheid, maar daar is gesê die geding moet gaan "ad rem", nie "ad hominem" nie.

Snyman het aangedring op Johan Kriegler as advokaat, maar Mulder het glo gesê hy gee nie staatsgeld vir "daardie Kommunis" nie. Snyman het egter voet by stuk gehou. Kriegler se vriende in die Skrywersgilde was verstom, maar hy het gesê hy wil die belaglikheid van die wet demonstreer. Dit het hy reggekry, maar in die proses is 'n skrywer geknak.

Ek glo nog steeds dat dit 'n fout was om die appèl nie op Snyman se gebrek aan bona fides te grond nie. Ten minste sou mens hom kon diskrediteer.

Nou vir die tweede sensuurstorie. So in die middel tagtigerjare ontvang ek op 'n dag besoek van 'n afvaardiging van die Nasionale Feeskomitee Hugenote 300 onder leiding van prof Charles Fensham. Hulle wil in 1988, met die driehonderdjarige herdenking van die aankoms van die Franse Hugenote, 'n spesiale boek finansier en of ek dink Etienne Leroux sal bereid wees om mee te werk.

Om te sê dat ek uit die veld geslaan was, is om dit sag te stel. Die enigste ding wat Leroux met 'n Hugenote-fees verbind, is sy naam. Versigtig het ek gevra of daar enige beperkinge gestel gaan word. Nee, nee! Nog steeds versigtig het ek daarop gewys dat Leroux in sekere kringe 'n omstrede skrywer is, dat hy diep gekrenk is deur die verbod op "Magersfontein" en dat hy, na my mening, nie sou uitsien na 'n tweede moles van die aard nie. Maar die menere was eenstemmig en geesdriftig oor hul besluit. Ek het dus ingewillig om met Leroux te praat.

Hy het dieselfde vrae gehad. Enige beperkings, voorwaardes, beletsels, wat ook al? Eindelik het hy ingestem en ek kon so aan die komitee berig.

Dit was nie baie lank daarna nie, toe word daar weer 'n afspraak gemaak en die afvaardiging sit weer daar. Hulle staan by al hul vorige ondernemings, maar kan ek nie dalk tog vir Leroux vra of hy waardering sal toon vir die besondere omstandighede van die geval en sal seker maak dat daar niks in sy boek is wat dalk kan aanstoot gee aan mense wat in alle goeie trou die Hugenotefees wil vier nie.

Wat doen mens in dié omstandighede? Ek het onderneem om hul versoek oor te dra, maar dit duidelik gestel dat ek Leroux nie sou probeer oorreed nie en dat ek taamlik seker was hy sou dit van die hand wys.

Dit was natuurlik so. Leroux het begin met "Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman", wat Human & Rousseau postuum in 'n faksimilee-uitgawe gepubliseer het. Die heel eerste sin sou dit gediskwalifiseer het: "Sy ma het hom bedonder deur met 'n fokken Duitser te trou wat 'n Katoliek is."

Ek kan my voorstel watter kollektiewe sug van verligting van die ontbinde feeskomitee uitgegaan het.

- Koos Human is 'n oud-uitgewershoof wat hopelik binnekort sy memoires publiseer.

Persoonlike gereedskap