Leroux-roman amper voltooi (Die Burger, 1982-06-15)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Van Braam Muller
'ONSE HYMIE' 'N KAROO-SMOUS
BLOEMFONTEIN - Etienne Leroux, pas sestig jaar oud, het nog net sowat twintig bladsye nodig om sy nuwe boek, Onse Hymie, te voltooi.
Die nuus van dié boek - Leroux se laaste boek, Magersfontein, O Magersfontein, het reeds vier jaar gelede verskyn - is verblydend, alhoewel Leroux nog nie optimisties daaroor is nie. Die boek mag dalk nie eens vir publikasie aanvaar word nie en daarom wil hy ook nie juis daaroor praat nie.
Om alles te kroon, het hy ná 135 bladsye 'n kruispunt bereik, 'n situasie wat die verhaal in 'n hele nuwe dimensie plaas en hy sal nog moet kopkrap oor wat hy gaan doen.
Oor die inhoud van die boek wil hy niks rep nie, behalwe dat dit oor 'n smous handel. Ja, die boek is geïnspireer deur 'n persoon wat hy ken ("Net God kan iets uit niks skep"), maar Hymie is nie dié persoon nie. Die verhaal speel in die hedendaagse Suid-Afrika af in 'n kontrei waarvoor Leroux lief is - die Karoo - en dit sal satiries wees met 'n sosiaal-politieke agtergrond. Soos gewoonlik ontsien hy niemand in sy satire nie, lag Leroux.
BOER
Of hy weer sensuurprobleme met sy boek gaan hê - Magersfontein was twee jaar lank verbied - weet hy nie. Hy staan as toeskouer en kyk na die sensuurpetaljes. Hy skryf egter nie moedswillig so dat die sensors sy boeke onder die vergrootglas moet sit nie. Hy is heeltemal teen sensuur gekant.
Bedags boer Leroux - die boerdery, nie sy boeke nie, hou hom aan die lewe - en saans skryf hy van nege tot middernag. Hy versamel gewoonlik baie aantekeninge voordat hy begin skryf, maar wanneer die skrywery begin, is alles nie klaar in sy kop geformuleer nie - soos nou weer bewys is met Onse Hymie wat 'n onvoorsiene wending neem.
Wat hy wel reeds besluit het, is dat hy die hooffiguur aan die einde laat sterf en soos 'n psigopaat prakseer hy 'n gewelddadige manier om die man dood te maak.
Ander nuus op die Leroux-front is dat die Engelse vertaling van Magersfontein, O Magersfontein binnekort in Suid-Afrika uitgegee word. Hy is nie seker of dit terselfdertyd in die buiteland sal verskyn nie.
Het iemand hom al genader vir rolprentregte op die boek? "Nog nie. Moontlik gebeur dit wanneer die Engelse uitgawe verskyn."
Destyds met Sewe dae by die Silbersteins wou verskeie mense die boek verfilm. Die Britse regisseur Peter Brook het ook belang gestel, maar sy agent het op 'n té hoë fooi aangedring. Nadat hy Brook self ontmoet het, het hy nogal gehoop hy sal die rolprent maak.