Komplekse 'Derde Oog' Vereis Nuwe Golflengte Van Begrip (Dagbreek en Sondagnuus, 1967-01-15)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
DR. HUMPHREY DU RANDT, PRETORIA: In dieselfde gees van welwillendheid wat so onverbloemd uit mnr. Aat Kaptein (Dagbreek, 1 Januarie) se "notisie" spreek, is dit my innige behoefte om insgelyks my diepgevoelde waardering te betuig vir die onverwagte eer om so prominent in die betaalde kolomme van 'n ringkop-joernalis te pryk.
Verder ook vir die skrywer se bedagsaamheid om my die Kersfeesdis sonder slegte spysvertering te laat geniet en, helaas vir die onverdiende hoflikheid waarmee hy my "sinlose kleinlikheid" en "merkwaardige ontploffing" beantwoord - 'n vriendelikheid wat so opvallend straal uit sy positiewe verwysings na Die Derde Oog as 'n "smerige boek"; "'n vreemde spel sonder sin en inhoud" (?); "diep-klinkende onsin" en "hoogdrawende waansin"; na 'n bende geheime letterkundiges as 'n "kaste van letterkundige gesalfdes" en "literêre halfgode" (wie, waar, wanneer?).
Ook my brief staan in die teken van "kleinlike sinloosheid" in volkome ooreenstemming met mnr. Kaptein se "reëls van die spel" (nogal 'n merkwaardige versameling van eufemismes vir 'n "ernstige gesprek").
VERONDERSTELLINGS
Maar meer nog: Die rubriekskrywer dig my 'n string veronderstelde vermetelhede toe wat in my "modderige brief" geïnsinueer word, nl. dat ek in hoë waan "die beoordeling van boeke wil oorlaat aan daardie klein geselskap van uitverkorenes..."
Die teendeel is egter waar. Die kern van my betoog gaan om my vrees dat die dubbelslagtige kritiek op 'n kunswerk so maklik die oordeel van die gewone, eenvoudige leser wat self na kennis en insig streef, sou kon vertroebel (soos die daaruit voortspruitende briewe bewys).
Trouens, 'n paragraaf wat - buite die wete van mnr. Kaptein - deur die redaksie uitgelaat is, betuig juis my waardering vir die verantwoordelike waardebepaling van Die Derde Oog deur 'n gewone verslaggewer elders - ter bevestiging van my standpunt dat die soeke na insig nie eksklusief is nie.
BEDOELING
Mnr. Kaptein se navraag in verband met die bedoeling van my brief kan dus soos volg beantwoord word: Weerspieël sy ontwyfelbare selfversekerdheid dat die kunswerk sinloos is, nie 'n benydenswaardige nederigheid van oordeel nie: veronderstel sy neerhalende verdoeming van die werk nie die onfeilbaarheid van eie insig nie?
Dit dan die kern van my beswaar: dat die ware student met ingetoënheid en toewyding moet bepaal of dit wat aanvanklik so verwikkeld en sinloos voorkom, nie ná deursuiwerende meelewing op 'n nuwe golflengte van gepuurde begrip kan kommunikeer nie (vandaar my sitaat uit T.S. Elliot).
Die etiket "sinloos" kan so maklik 'n ironiese getuigskrif wees van 'n onvermoë of onwilligheid om die veeleisende verantwoordelikhede en verpligtinge van ware leerlingskap na te kom.
SUPER-SENSUUR
Dus: enige poging om verantwoordbaar te lees moet verwelkom word. Is die demokratiese reg wat mnr. Kaptein namens die volk opeis, egter nie hier 'n super-sensuur wat uitgeoefen word sonder dat 'n mens altyd oortuig is van selfs 'n elementêre vaardigheid om kunswerke te "lees" nie? Vandaar my verwysing na geestelike aristokrasie.
Die volgende vrae hou met hierdie gedagtegang verband: In hoeverre kon die "demokratiese" regspraak - die juriestelsel - hom vandag nog in die groeiende kompleksiteit en gespesialiseerdheid van 'n moderne samelewing handhaaf?; is die oningewyde leser (en weer sonder enige gevoel van meerderwaardigheid) werklik in staat om tegniese verwikkeldhede, toonverwisselings en woordkonsentrasies - om enkeles te noem - sinvol te vertolk?
Die rubriekskrywer vind dit vreemd dat ek nêrens na die kunswerk self verwys nie. Daarop net dit: Die Derde Oog is reeds genoegsaam en met voldoende begrip en insig (vergelyk bv. die knap resensie van dr. P.G. du Plessis oor die SAUK) bespreek deur vakmanne wat, gesteun deur behoorlike motiverings, op die sinrykheid van die werk kon wys. En dan die vraag:
As die gedemokratiseerde pers wel die ruimte sou afstaan, sou 'n resensent werklik die veelduidendheid en verassende (selfs ontstellende) kompleksiteit van die werk in een rubriek kon ontrafel?
My "uiteindelike eie mening" is - en ek sal dit noodwendig kort en saaklik moet hou - 'n rykgeskakeerde werk waarin die skrywer met meesterlike vernuf en deur middel van vindingryke literêre verwysings, fynbesnaarde toonverwisselings en hegte struktuurbou die verbluffende speurtog van die mens (Elkerlijk) na sy duistere ander-self dramaties ontgin - 'n poging om die "misdade teen die gees" tot die lig te bring.
In hierdie (ook pelgrims-) tog word elemente van 'n tydsgenootlike situasie wel as boustene benut. Maar nooit is die parallel wat ontplooi, 'n pens-en-pootjies-afbeelding van 'n eietydse maatskaplike en politieke konteks nie.
Net so min as wat die dronklap-boer in Orwell se Animal Farm of die regters en priesters, boere en kunstenaars in Sewe Dae by die Silbersteins 'n algemeen toepasbare karaktertrek veronderstel, net so min is daar enige geldige ooreenkoms tussen die D-diens en die Veiligheidspolisie in soverre dit die huidige politieke situasie betref.
Snypunte, terloopse en soms ongeïntegreerde, selfs oorbeligte flitse van ooreenkoms, kom weliswaar voor, maar waarmee anders as die wêreld wat hy ken en verbeel, sou die kunstenaar die wêreld-van-die-boek kan skep?
Die D-diens se aktiwiteite belig juis die uiteindelike feilbaarheid van die menslike oordeel, regspraak, insig, filosofie, verrasionaliseerde geloof, tradisie. Daarom is die brigadier se huldeblyk by die dood van Demosthenes binne die konteks die ironiese triomf van 'n ontmaskerde vyand.
'n Raka, 'n Major, wat alle weerstand teen die ondermyning van die gees finaal skaakmat, "waar niemand sou waag om met een slag die smal hek ooit weer teen hom te sluit". 'n Tragies-ironiese slotsom dus, die aangrypende uitbeelding van 'n maatskappy wat in sy goedbedoelde pogings om die goeie orde te handhaaf 'n meer gesofistikeerde, dog meedoënlose vyand-as-beskermheer vertroetel.
PELGRIMSTOG
En sou die pelgrim-op-reis sy oë vir die naakte werklikhede van 'n "winkelsentrum"-bestaan kon sluit (die maatskaplike werkster op Prostitusieplein, die regter by die aanhoor van elke "vieslike" detail)? Die Fariseër is vry om te bid: Dankie Groot Kunstenaar dat ek nie is soos ander mense wat in die "vieslikhede" van die lewe rondploeter nie.
Maar daarop is my gebed - na analogie van mnr. Aat Kaptein se sitaat: "Soos 'n skeermes..." - "Wees my, arme dwaas, genadig!"