Klad, Teiken of Skimmelvlek? (Kol, 1968-08-26)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Geagte Kollega,

Soos by die geboorte van 'n kind, enige kind waar in die wêreld ook al, wil mens by die geboorte van 'n nuwe literêre blad jou hoed afhaal, eerbiedig opsy staan om angstig te luister na die eerste (wanhoops-?)skreeu en die nuweling, met trane in jou oë die allerbeste toewens in hierdie vyandige wêreld. As mens dan die luisterryke optog peetouers sien - dié wat opdaag met fyn en rare geskenke vir moeder en spruit, dié met groot beloftes vir "eendag", dié wat sommer 'n mak hoender van die plaas af saamgebring het en selfs diegene wat maar net kom help sus en luiers omruil - dan kan mens nie anders as om buitensporige groot verwagtings te koester van hierdie gebeurtenis nie. Onwillekeurig dink jy dan aan dit wat Jan Rabie iewers van die Kaap gesê het: " ...'n stad met een moeder maar met baie vaders..." Onvermydelik begin jy dan dink aan die kind se toekoms omdat hy in 'n bitter en 'n vertwyfelde wêreld gebring word, en jy draai jou na al hierdie voogde.want jy besef dat die kind - of die ding? – hulle afsonderlike en gesamentlike invloede gaan weerspieël, en jou hart kry 'n paar angsrimpels by.

Want wat gaan die slim kind sê, wat gaan sy voogde hom voorsê, wat wil die mense hê?

Kollega, jy is 'n jongerige Afrikaanse skrywer. Ek sien jou naam onder dié van die medewerkende redaksie of as een van die raadgewende redakteure of selfs net as 'n bydraer. Jy het tien teen een die opspraakwekkende "periode van Sestig" meegemaak; jy was een van die skare wat diep moes ploeg en baie braakland moes oopgooi. Predikante het waarskynlik vanaf preekstoele gewaarsku teen die nefaste en ondermynende invloed wat jy op die gemeenskap mag hê en goedbedoelende ouer skrywers of werkgewers of huisvriende het jou seker reeds aangeraai om jou horings 'n bietjie in te trek en nie (en verskoon tog die verwarring van beeldspraak) so sommer die babatjie met die badwater uit te gooi nie... En toe? Wat het intussen gebeur? Sestig is amper in sy moer; Sewentig staan en loer vir jou, soos vir my, oor die onderdeur. Jy het sitrusvrugte van Lapland op hierdie bar Afrikaanse bodem probeer kweek, of yslike kraaie het die saadjies kom verorber nog lank voor hulle wortel kon skiet, of jou trotse tuintjie het verdwyn onder die waters van 'n nuwe besproeiingskema van die regering - maar jy's darem seker uitbetaal - of dalk het jy intussen besef dat die vrugte wat jy op die mark wil bring nie meer aftrek kry nie omdat hulle nie meer eksoties genoeg is nie, omdat hulle smaakloos is, omdat mens nou net nie lekker byt kan kry aan vierkantige appels nie, ens. Jy het 'n paar jaar ouer geword, halfhartige of halsstarrige lid van die establishment en jy baklei nog steeds vir die vales teen sekere atavistiese neigings in jou mense... maar jy doen dit volgens die ongeskrewe wet dat dit ons worries is wat net onder ons besleg kan word en dat mens dronk en weerloos word as jy buite die riglyne van die. Groot Beeld begin dink, wat sê -, Boeta, net só sal jy as Afrikaner kan bly voortbestaan, en as jy nie Afrikaner is nie, wat op God's aarde is jy dán? Jy het vrou gevat en kinders gepa, jy moet ernstig begin dink aan die dag van môre en, ag wat, jy het sommer lui in die son bly sit en wag dat al hierdie stront van Vernuwing in die Prosa oorwaai wel wetende dat elke mismaakte ou konyntjie by ons 'n vernuwing is net soos ons 'n nasie van voormanne is. En toe is jy en ek skielik nie meer jong Turke nie, nè?

Ek is ook 'n jongerige skrywer, té jonk nog, blaas my siel. Jy's my vriend. Hoekom? Omdat ons dalk saam iewers in die skemergebied van ons vresies diep in die heerlike bottel se oog gekyk het; omdat ons mekaar iewers, onderweg die hand gegee het toe ander gedink het ons hande is vuil; omdat jy 'n lekker ou is, en net so kierang soos ek. Maar nou, by die geboorte van die nuwe tydskrif Kol - waaraan jy meewerk en gaan meewerk - het 'n hele spul vrae hier in my tikmasjien kom broei. Sommige vrae lê lankal daar, ander is nog vaag; sommige is net vir my bedoel - en ek sal jou meeste van hulle bespaar - maar ander kom jou toe want uit hoofde van ons dikwels afgeskeepte vriendskap beskou ek dit my plig om hulle dringend aan jou te stel en ek weet dat ons toekomstige verstandhouding gaan afhang van jou antwoorde.

Eers 'n baie algemene: wat is die betekenis van Kol? Hoe sien jy vir Kol in die Suid-Afrikaanse landskap? Jy kan tog nie ontken dat daar 'n réde is waarom só 'n tydskrif met só 'n redaksie en só 'n beleid, of gebrek aan beleid, nóu moes ontstaan nie. God weet dat daar 'n "huilende nood" is vir 'n literêre broeikas cum uitlaatklep in Suid-Afrika. Standpunte is net wat hy sê: 'n Stand-punt, 'n stilstaan fullstop, uitgevoer met abstruise vaktegniese studies van hoogstaande gehalte, van die soort waarvoor elke ordentlike Fakulteitsblaadjie voorsiening behoort te maak. Wurm? Ek kon nog nooit veel vat kry aan Wurm nie; iets in Wurm laat my te veel dink aan die rebelse gefrustreerde staatsamptenaar. Tydskrif Vir Letterkunde? Tja. Wat bly oor? (Ek praat nou hier van tydskrifte in die verband wat jy self so duidelik gekies het: die suiwer en eng Afrikaanse.) So af en toe hoor ek nog van 'n dagbreek hier en 'n nagtegaal daar maar meestal lyk dit asof al wat literêre genie is besig is om hoog en laag te komiteer en te kommissaar vir bekroningswaardige.volksmoppies (volk in die sin van Volk natuurlik). Aan watter vereistes gaan jy probeer voldoen, Kol? Sestig in die sloot probeer help? Nuwe wyn in ou siwwe gooi? Of ou wyn agter nuwe strikdassies? M.a.w., hoe situeer mens Kol?

Daarom wil ek vir jou vra, kollega: hoe sien jy die Afrikaanse literatuur in 'n wêreld wat aldag kaler staan ? Gaan jy probeer om vir Henry Miller te laat herrys of vir Robbe-Grillet te vulgariseer? Dink jy dat werk gedoen in die Afrikaanse taal iets kan bied vir die wêreld? Dat dit sensitief en oop moet staan vir vrae en probleme wat klaarblyklik al hoe meer internasionaal en interkultureel is? Of andersom, dat jy iets moet lewer wat "eie" is? (En glo jy ook dat daardie eie eier noodwendig apart en anders as enige ander ou se eie is?) Beteken dit dan dat jy harder moet veg om woordjies soos p... en p... publiseerbaar te maak, dat jy die reg moet wen om indien jy so voel 'n hele roman van "se en ".;:^^&"""sis in swart op swart papier te skryf en aanvaarbaar te maak?

Vraag no.2: hoe sien jy die funksie van die Afrikaanse letterkunde in die huidige omstandighede in die land self? Jy weet seker waarop ek afstuur - die feit dat die toekomstige voortbestaan van Afrikaans al hoe meer in gedrang kom omdat die mensewaarde van die Afrikaner as Afrikaner al hoe meer onder die soeklig gaan kom. Wat is jy as denker – want jy's nie net 'n mondstuk nie (sou dit nie maklik wees nie, so?) –van plan om te skryf, te sê en te doen in 'n situasie waar jou mense verantwoordelik is daarvoor (en ek laat die redes vir julle beleid voorlopig eenkant) dat so baie werk van ons Engelssprekende landgenote nou verban is, 'n situasie waar so baie van jou anderskleurige en/of andersdenkende landgenote in ons tronke sit as gevolg van hul andersdenkendheid, 'n situasie waar, net noord van jou landsgrense, van jou medeburgers die wapen opgeneem het teen jou as passiewe of aktiewe verteenwoordiger en draer van jou mense se beleid? (En kultuur?)

Al die ander vrae vloei hieruit voort, en hulle is polities, kultureel, literêr, moreel, dalk ongemaklik en platvloers of selfs onnosel.

Kan my bogenoemde definisies apart gehou word in afsonderlike waterdigte hokkies (amper praat ek van afsonderlike ontwikkeling, of aparte vryhede - of hoe noem mens dit nou weer deesdae?) sodat die glimlag nie van die poep weet nie?

Dink jy daar is 'n toekoms vir jou nasate in Afrika? Dink jy dat die werk wat jy skryf daartoe help om dié toekoms te verseker? Dink jy dat jy iets van waarde (werklike waarde?) kan oordra aan hulle wat ná ons kom sukkel?

Is jy 'n Christen?
Wat is 'n Christen? Of maak dit nie saak nie?
Het jy al ooit 'n swart skrywer ontmoet as gelyke of meerdere?
Lees jy die werk van swart Suid-Afrikaanse skrywers wat in S.A. verban is? Wat dink jy daarvan?
Dink jy Alan Paton is 'n goeie skrywer? Mens?
Dink jy Nadine Gordimer is 'n mooi vrou?
Gee jy om dat Athol Fugard se paspoort teruggetrek is? Weet jy waarom ?
Waar is Viëtnam?
Wat dink jy van die hedendaagse Amerikaanse letterkunde?
Die Russiese?
Wie was, en wat is jou opinie omtrent Lenin, Mao, Ché Guevara?
Het hulle enige betrekking op Suid-Afrika ?
Wat was fout met Bram Fischer, of was hy reg?
Wie is Nelson Mandela?
Sou mens kon beweer Suid-Afrika is 'n polisiestaat?
Wat dink jy omtrent die morele implikasies van hartoorplantings?
Was Ingrid Jonker van haar kop af?
Waarom skryf Adam Small op Afrikaans? Of dig hy nie meer nie?
Veronderstel 'n ryk Amerikaanse uitgewer nader jou met die opdrag om 'n satiriese boek te skryf oor die Apartheidsleer, die kerk, dr. Verwoerd... Sou jy dit doen? Sou jy oorweeg om dit doen sonder so 'n aanloklike aanbod ?
Hou jy van kaas en wyn?
Is jy soms lus om met 'n bruin vrou te slaap, of 'n swarte, of 'n gele? ,
Hoe, sou jy, heeltemal objektief, Suid-Afrika van vandag beskryf aan iemand soos Jesus van Nasaret?
Dink jy om te skryf is 'n roeping, 'n plig, 'n beroep, 'n tydverdryf?

En so kan ek voortgaan. Maar genoeg. Wat die vrae wat ek aan myself moet stel, betref -hulle is byna dieselfde as bogaande en jy weet seker wat my antwoorde is. Maar hoekom skryf ek dit aan jou via Kol? Omdat ek eerlikwaar geraak voel deur die verskyning van 'n nuwe tydskrif, omdat ek graag (ongevraag) sommerso dood normaal ook van my eie werk aan Kol sou wou voorlê. Maar of ek dit doen al dan nie gaan bepaal word deur jou antwoorde via Kol. Moenie so gou good riddance sê nie, hoor! Want sien; ek het behalwe jou nog heelwat ander vriende - Zeke Mphahlele, Lewis Nkosi, Alex la Guma, Dennis Brutus ens. en ek moet erken dat hulle dit vir my duidelik gemaak het hoe hulle hulself situeer ten opsigte van Suid.Afrika en nou wonder ek net omtrent jou. Ek verwag nie dat jou antwoorde finaal gaan wees nie. Niemand s'n is nie. Niks is finaal nie, behalwe die heerlikheid van ontbinding. Jy het twee bene, twee arms en 'n kop. Jy lyk nes 'n mens. Jy is nét mens so ver ek weet. Antwoord my asseblief sommer soos 'n mens wat.

Ons kan nie sê dat ons paaie altyd saamgeloop het nie en dit sou vervelig wees as ons nie oor en weer reiservaringe kon uitruil nie. Gee my net 'n aanduiding van watter kant toe jy nou van plan is om te loop sodat ek darem so teen skemeraand op my pad kan weet jy is nou waarskynlik dáár, of agter doerdie bult.

En alhoewel ek my voorgeneem het om my by vrae te hou - mag ek tog nou hier by die geboorte van 'n blad wat deur almal beskou gaan word as dié Afrikaanse tydskrif (en watter verskriklike verantwoordelikheid!) ook 'n seënwens uitspreek? Dit gaan eintlik meer om jou as skrywer as die blad self. Ek hoop van harte dat jy nie gaan wag totdat jy 'n invloedryke skrywer is voordat jy begin rekenskap gee van jou rentmeesterskap nie. Ons invloedryke skrywers het mos reeds bewys wat hulle kan, of wil, vermag! Ek het gesê ons is nog jongerig. Kom dan, laat ons ons voorneem om nooit ja-broers te word nie, maar met al die passie en die trots en die nederigheid van ons ouerwordende vlees NEE te skreeu. Al red jy net een ou belaglike ideaaltjie van onmiddellike dood dan is dit reeds die moeite werd. Wat het jy om te verloor behalwe jou Afrikanerskap?

Sterkte,
jou afgevrotte maar nog skoppende vriend en kollega,
Boerboetie Breyten.

Persoonlike gereedskap