Jung by die Silbersteins - 'n Analities-sielkundige benadering (Sestiger, 1965-02-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Die herrie was behoorlik los oor die Silbersteins en dit was besonder interessant en dikwels amusant om te let op die verskeidenheid van reaksies, beskouinge en interpretasies van selfaangestelde kritici. Lank laas het 'n boek soveel opspraak verwek en soveel (onbedoelde?) reklame geniet. So het ek ook van die werk verneem en dit aanvanklik uit blote nuuskierigheid gelees. Gaandeweg het my nuuskierigheid egter verander in 'n intense belangstelling. Die werk het my aangegryp - soseer sodat ek dit onmiddellik 'n tweede en 'n derde keer met toenemende aandag en genot deurgelees het.

Uit die polemiek in die nuusblaaie het dit duidelik geblyk dat baie lesers die werk glad nie begryp het nie - veral diegene wat op 'n troontjie gesit en moraliseer het daaroor. Hulle het die werk bestempel as "vulgêr", "onheilig", "pornografies", met 'n "verderflike, volksvreemde invloed", 'n "bespotting van die lewenswaardes van die Christen", ensovoorts. Dit is duidelik dat diesulkes die werk min of meer oppervlakkig lees en interpreteer. Só gelees is die hele verhaal slegs 'n saai ou storietjie van 'n min of meer ontpersoonlikte Henry wat byna willoos in allerlei situasies beland waar hy meesal selfs nie inpas nie, in 'n vrugtelose soektog na 'n skimagtige Jodinnetjie met wie hy uiteindelik "gepaar" sal word. Langs die pad sal so 'n leser se eie (onderdrukte?) wellustige fantasieë noodwendig (teen sy sin?) geprikkel word deur sekere gedeeltes waarin die skrywer gebruik maak van 'n simboliek met 'n erotiese nuanse om daardeur sekere gevoelswaardes te beklemtoon, en dan kry Leroux die blaam. Die vraag ontstaan nou: Hoe lees hierdie lesers groot gedeeltes van hul Bybel? Hoe gaan dit byvoorbeeld by die lees van die volgende woorde van Salomo:

Hoe mooi is u skrede in die skoene, o edele dogter! Die golwende lyne van u heupe is soos halssierade, 'n werk van kunstenaarshande.
U nawel is 'n ronde kom - laat die gemengde wyn nie ontbreek nie. U liggaam is 'n hoop koring, omring deur lelies...
U hoë gestalte daar lyk soos 'n dadelpalm, en u borste soos vrugtetrosse.
Ek het gedink: Laat ek op die dadelpalm klim, laat ek sy trosse gryp; en laat u borste tog wees soos trosse van die wingerdstok, en die geur van u asem soos die van appels, ... ens.


As hierdie woorde nie simbolies gelees word nie, kan daar dalk ook ernstige aanklagte teen die wyse Salomo ingebring word. Dieselfde geld vir die Silbersteins. Wanneer ons hierd1e werk vanuit 'n Dieptesielkundige standpunt benader, in besonder met Jung se Analitiese Sielkunde as uitgangspunt, kry dit vir ons 'n nuwe en 'n dieper betekenis; word sekere fasette daarvan vir ons in beter reliëf geplaas; kan ons die werk, tesame met ook ander kontemporêre werke, sien as 'n produk van die huidige tydsgees. 'n Kort oorsig van enkele van Jung se beskouinge is in hierdie stadium dan nodig vir die verdere bespreking van bogenoemde en ander aspekte van Leroux se Silbersteins. Voordat ek egter daartoe oorgaan, wil ek graag weer eens beklemtoon dat hierdie 'n psigologiese en nie 'n literêre bespreking is nie.

C.G. Jung het aanvanklik Freud se alombekende siening omtrent die aard, samestelling en funksie van die menslike psige gedeel. Gaandeweg het sy ervaringe en waarneminge daartoe gelei dat hy homself al minder en minder kon vereenselwig met sommige van Freud se beskouinge. Waar Freud die onbewuste gedeelte van die menslike psige sien as 'n soort aanhangsel of byproduk van die bewuste, beskou Jung die onbewuste as die moederloog waaruit die bewuste geleidelik en moeisaam groei. Die onbewuste bestaan nie net uit inhoude (hoofsaaklik seksueel) wat as gevolg van hul onversoenbaarheid met en onaanváarbaarheid deur die bewuste, tot die onbewuste verdring is nie. Jung aanvaar wel die bestaan van so 'n persoonlike laag van die onbewuste, wat egter nie noodwendig slegs 'n negatiewe voorteken hoef te hê nie. Maar dan kon hy ook uit die empiriese gegewens van sy ondersoekinge en ervarings die bestaan van 'n dieper, meer onpersoonlike laag van die onbewuste bewys, wat hy die objektiewe of kollektiewe onbewuste noem. Die inhoude van die kollektiewe onbewuste noem Jung die argetipes - dinamiese oerpatrone wat in die mens se psige vasgelê is en wat rigting en patroon gee aan die mens se lewensenergie, baie soos rivierbeddings die rigting van die waters bepaal. Die begrip van die argetipe is egter baie moeilik om in 'n paar sinne te probeer verduidelik. Jung maak melding van 'n groot aantal van hierdie argetipes: die Skaduwee, die Anima by die man en die Animus by die vrou, die Puer Aeternus, die Moeder-argetipe, die argetipe van die Ou Wyse Man, die Verlosser, ensovoorts.

Dan is daar 'n sentrale, koördinerende argetipe, die sentrum van die persoonlikheid wat, paradoksaal genoeg, terselfdertyd die hele psige omvat. Dit is die argetipe van die Self - "die kleinste van die kleine en die grootste van die grote", die onvernietigbare kern van die psige, die lapis, die pêrel, die moeilik bekombare skat. Die hoogste taak en roeping van die indiwidu is dan ook om hierdie skat in sy binneste, die koninkryk van God binne-in homself, te soék. In hierdie soektog sal hy deur die argetipes gehelp word indien sy houding reg is, d.w.s. indien hy sy gebondenheid aan en afhanklikheid van die argetipes besef. Deur die besef van hierdie gebondenheid sal hy vry word - vry van die meedoënlose dwang en spanninge wat dié ego ondervind wat aan homself die alleenheerskappy van die persoonlikheid probeer toeëien. Hierdie lewenstaak, die soektog na die Self met die daarmee gepaardgaande ontplooiing en ontwikkeling van die persoonlikheid tot dit waartoe dit deur die lewe bestem is, noem Jung die proses van indiwiduásie.

Die indiwiduasie van die persoonlikheid lei nie tot die ontwikkeling van 'n volmaakte persoonlikheid nie, maar wel tot 'n volledige persoonlikheid. Die volmaakte persoonlikheid bestaan nie, hoewel dit die onbereikbare ideaal is wat veral deur fanatiese moraliste daargestel word. In die vrugtelose nastrewing van hierdie ideaal word slegs die goeie, die ligkant van die persoonlikheid bestaansreg gegun. Die donker skaduweekant van die persoonlikheid word behandel soos 'n ongewenste, ongenooide gas wat by die deur uitgesmyt kan word en van wie dan vergeet kan word. Maar die Skaduwee laat hom nie so behandel nie. Vanuit die onbewuste waarheen hy op dié wyse verban is, sit hy sy ondermynende werk voort en doen hy mee om daardie aaklige, skynheilige, opgesmukte, afstootlike "persoonlikhede" te vorm, "die Groot Fariseër, dank-God-dat-ek-nie-soos-die-ander-is-nie, die groot sakeman, held van sy volk, wat sy tikstertjies ontslaan as hul nie hul broekies vir hom aftrek nie, die groot apartheidsprediker wat agter die waenhuis saans die meidjies streep, die groot integrasieprediker wat net blankes in diens neem, die vrome ouderling met sy woekerwins..." soos André Brink dit so treffend stel in sy Lobola vir die Lewe. Die Skaduwee is ook een van Jung se argetipes. Hy het nie nét 'n negatiewe voorteken soos miskien verkeerdelik uit bostaande afgelei mag word nie. Hy word alleenlik totaal negatief gekonstelleer deur die verkeerde houding van die ego.

Nog een van die argetipes wat van groot belang is in die indiwiduasieproses van die man, is die anima. Die anima is 'n kompleks in die psige van die man (by die vrou kry ons die animus) wat saamgestel is uit die man se eie onbewuste vroulike elemente, sy ervaring met vroue, beginnende by sy moeder, die opinies wat sy ouers en vriende oor vrouens huldig, sowel as die oorgeërfde, kollektiewe beeld van die vrou in sy binneste - die vrou as maagd, moeder, hoer, heks, vampier, verleidster en geestelike gids. Sy tree te voorskyn in die man se omgang met vrouens, die betowering wat die vrou vir hom inhou en ook in sy onverklaarbare buie, sy prikkelbaarheid, sy onontwikkelde gevoelens wat hom soms kan laat handel soos 'n histeriese vrou. Die anima verwikkel die man in die lewe en kan hom lei op die weg van indiwiduasie mits sy houding reg is. Hierdie proses van indiwiduasie word op 'n baie kunstige en insiggewende wyse deur Etienne Leroux in die Silbersteins geskets, teen die agtergrond van die hedendaagse tydgees wat so fyn aangevoel en raak uitgebeeld word.

Die ware kunstenaar - digter, skilder, danser, beeldhouer, skrywer, komponis - is 'n persoon wat in eerste instansie 'n baie sensitiewe gees het. Hy voel dinge gewoonlik intens aan - sy eie geestesgewaarwordinge asook die psigiese onderstrominge en algemene tydgees van sy geestesmilieu. En dan besit hy verder die vermoë om met pen of penseel, met ritme of snaar, sy geestesgewaarwordinge simbolies op doek, papier of in 'n melodie vas te lê om sodoende deur die simboliek van sy besondere kunsrigting, uiting te gee aan sy innerlike gewaarwordinge. Die besondere beelde, asook die medium wat die kunstenaar gebruik en die wyse waarop hy sy stof aanbied, dra in 'n hoë mate sy persoonlike stempel. Trouens, die hele kunswerk gee 'n beeld van die psigiese samestelling en ingesteldheid van die kunstenaar self. Benader vanuit hierdie standpunt kan ons dus sê dat Sewe Dae by die Silbersteins 'n weerspieëling is van 'n sekere sektor van die psigiese samestelling van Etienne Leroux. Henry, Jock, J.J., die slanke Mrs. Silbersteins, Ouma Mazawattee en haar kleindogter, Swart Jan, regter O'Hara, Dr. Johns, die twee vaal Misses Silbersteins, die hertogin, Mev. Mandrake, Salome, ens., weerspieël almal sekere aspekte, bewus sowel as onbewus, van die psigiese samestelling van Etienne Leroux. Maar, soos reeds gesê, is al hierdie beelde ook simboliese voorstellinge van sekere argetipale aktiwiteite in die kollektiewe onbewuste.

In hierdie werk word die ingewikkelde en moeisame proses van bewuswording en uiteindelike indiwiduasie van die indiwidu (Henry) geskets. Jock Silberstein is Henry se inisieerder en ook sy "guru" of leermeester. In hierdie laaste taak word hy indirek bygestaan deur die twee intellektueles, Dr. Johns en regter O'Hara. Heel aan die begin kondig Jock dan ook die viering van die verbond tussen die twee jongmense, Henry en Salome (sy Anima) aan. Henry het egter tot op daardie stadium nog nooit vir Salome gesien nie. Dit is dus paslik dat hierdie verbond gevier word met 'n koek met twee gesiglose poppies, een manlik en die ander vroulik, wat Henry en Salome voorstel. Henry kry dan ook slegs 'n stukkie koek met 'n koplose meisie daarop in hande, en slaag ook nie daarin om vir Salome tussen al die ander swartogige nooientjies uit te ken nie. J.J. het hom reeds vertel dat sy swartogig is en die twee vaal Misses Silbersteins het hom ook reeds meegedeel dat sy hou van die blomme en die veld. Sy wandel in 'n ligte rokkie soos 'n nimf oor die vlei. Sy is lief vir diere, sing soos 'n nagtegaal en is fyn en skugter soos 'n wildsbokkie. Praat te hard met haar en sy is weg op die oggendwind. "Salome is sag en wondbaar. Behandel haar teer, inisieer haar met liefde... Inisieer haar met begrip..." (Hierdie beskrywing is tipies van 'n sekere aspek van die Anima. River Haggard se She is ook 'n besonder goeie verpersoonliking van die Anima). In sy soektog na sy Anima, Salome, daardie ontwykende aspek van sy psige wat Henry moet vind en by sy persoonlikheid integreer alvorens hy 'n volkome geïntegreerde persoonlikheid kan word, moet hy eers kontak maak met die ander aspek van die Anima, die meer aardse, Helena-aspek daarvan, wat ontbreek by hierdie vlinderagtige, brose beeld wat deur die onvolkome en byna onwerklike, vale Misses Silbersteins aan hom voorgehou word. Hierdie ontbrekende aspek van Henry se Anima word gedra deur die kleindogter van Ouma Mazawattee. Hierdie klein hoertjie verberg haar werklike innerlike agter 'n fasade van kuisheid wat verder aksentrueer word deur die uiterlike vertoon van goedheid en goedigheid van die ouma.

Die windjie wat waai en telkens die rokbedekking oplig om die slet daaronder te vertoon, dryf die ouma, wat agter 'n masker paradeer, ook tot 'n tydelike waansin. Salome en die hoertjie vorm dus saam 'n geheelbeeld van die Anima. Henry moet eers geïnisieer word deur sy kontak met die hoertjie en sodoende sy onskuld verloor; hy moet "eet van die Boom van kennis van Goed en Kwaad" en daarna beland in die stinkende moeras waar dit krioel van insekte en spinnekoppe, en waar sy guru, Jock, die kop van die Adder moet vermorsel, met ander woorde waar hy sy vrees moet teëkom en gehelp moet word om te oorwin, want soos Jung sê:

"The spirit of evil is fear, negation, the adversary who opposes life in its struggle for eternal duration and thwarts every great deed, who infuses into the body the poison of weakness and age through the treacherous bite of the serpent; he is the spirit of regression, who threatens us with bondage and extinction in the unconscious. For the hero, fear is a challenge and a task, because only boldness can deliver from fear. And if the risk is not taken, the meaning of life is somehow violated, and the whole future is condemned to a hopeless staleness, to a drab grey lit only by will-o'-the-wisps."

Na sy tweede besoek aan die oumatjie, kom hy die Kaapse Kapel teë. Hierdie keer is hy alleen en hy oorwin sy vrees self. Sy oë is nou geopen en hy leer nou geleidelik om te sien.

Die ou hertogin en Salome (ouma en kleindogter) en Ouma Mazawattee en haar kleindogter, kompenseer mekaar en vul mekaar aan. Die hertogin, aanvanklik vyandiggesind, vermurwe uiteindelik en spreek haar seën oor Henry uit, terwyl die eens goedige Ouma Mazawattee se oë by die laaste ontmoeting verdonker van woede. Salome en die kleindogter van Ouma Mazawattee soos reeds getoon, vul mekaar ook aan.

Jock Silberstein, die guru van Henry en vader van Salome, is deurgaans besig om Henry te inisieer in die lewe, maar in dieselfde proses is hy ook besig om homself te vind. Die kontak met sy eie Anima is ondoeltreffend. Sy eie vrou, die slanke Mrs. Silberstein, gedeeltelike draer van Jock se Anima-projeksie, pleeg owerspel met J.J. met die R.A.F.-moestas - 'Swart Jan en die heks'. Benede al haar skoonheid en sjarme verberg sy 'n Lilith, die heksevrou en Adam. J.J. en Swart Jan, die verleier en inisieerder van vrouens, is een. In sy soektog na sy eie Anima pleeg Jock owerspel met Mev. Dreyer en met die meisies in die huisies met die asbesdakke op een van die uithoeke van Welgevonden. Jock, die reus, die baas van Welgevonden, die mens, die soekende, versugtende mens, is diep verwikkeld in die lewe, en beleef geweldige spanninge in sy eie psige as gevolg van die onversoende dualiteit in sy eie persoonlikheid. Daar is onrus op Welgevonden. Jock Silberstein, die baas van Welgevonden, is ook die slaaf van sy eie organisasie. Hy moet 'n pas aan sy eie tuinier toon ten einde toegang te verkry tot sy eie fabriek. Hy is afhanklik van sy eenvoudige werknemers, van die minderwaardigste operateur met die grootste ambisies, vir die gladde verloop van sy onderneming en vir die behoud van die balans in die patroon van rooi en wit wyne bedien deur kleurlingvrouens met wit oorpakke en wit vrouens met bruin oorpakke. Die balans word in spanning behou, 'n spanning wat so hoog oplaai in Jock dat hy periodiek na sy "biegkamer" moet gaan om sy angs en sy woede teenoor God daar uit te skree - net soos Brutus (die perfek geteelde Brutus, uitgesonderd die enkele fout, met sy kleurpatroon van swart op rooi en rooi op swart) sy supersoniese bulk ten hemele stuur in swygsame protes.

Jock Silberstein met sy rooi bos hare, is ook die toonbeeld van manlikheid, dog hy het ook sy fout, nes Brutus. Maar hy is soekende en, as sulks 'n doeltreffende guru. Hy lei op die pad wat hy self moet bewandel. Die onvermydelike smart wat verduur moet word op die weg van indiwiduasie, verduur hy self, al loop die spanning so hoog dat hy dit periodiek moet ontlaai in sy biegkamer. Vir sy gebondenheid aan sy eie skepping moet hy oorkompenseer deur die blink toring te bestyg en sy 'almag' te betoon deur in die wyn te spoeg en sy 'Mana' sodoende oor die aardbol te versprei.

In hierdie werk wissel aanvullende en kontrasterende beelde mekaar vinnig af of word hul gesuperimponeer. Die onderliggende, basiese tema is dié van die conjunctio oppositorum, deur 'n erkenning en 'n integrasie van die bose. Die bose kan nie meer deur die moderne mens aanvaar word as slegs 'n privatio boni nie. Dit is net so 'n realiteit as die goeie, 'n wesenlike entiteit waarmee rekening gehou moet word. Die onderdrukte skaduwee van die Christen is vandag in opstand. Bewustelik maak die Christen homself wys dat hy die goeie kan bekom deur die bestaan van die bose te ontken of te ignoreer. Met sentimentaliteit bedek die Christen sy brutaliteit, wat as gevolg van hierdie onderdrukking so heftig oplaai dat dit tot kataklismiese uiting moes kom in twee wêreldoorloë binne 'n kwarteeu. Verder het die eensydige houding van die Christendom, volgens die wet van enantiodromia, die Antichris gekonstelleer in die vorm van die Kommunisme. Dit gebeur op wêreldskaal, maar ook in elke indiwidu. En hierdie dinge word aangevoel deur die ontvanklike gees van die kunstenaar soos Etienne Leroux en sy geesgenote. Op treffende wyse plaas Leroux sy vinger op die seerplek en wys hy op die noodwendige erkenning en ervaring en aanvaarding van sy skaduwee deur elke indiwidu wat sy heelheid wil bekom en behou - let wel sy heelheid en nie sy volmaaktheid nie. Die weg is moeilik. Die soektog lei deur duisternis en moeras. Maar dit is nou maar eenmaal die weg, soos die Algemiste van ouds reeds intuïtief aangevoel het toe hul van die "lapis", die simbool van die "Self" gesê het: "In stercore invenitur".

Deur die weg tot indiwiduasie wat deur die moerasse van die menslike bestaan lei en 'n kennismaking met die persoonlike sowel as met die kollektiewe Skaduwee behels, op 'n subtiele en "doelbewus geslepe" wyse te skets, terwyl die vraagstuk van die ontstaan van die Skaduwee ook aangeroer word, het Etienne Leroux sy lesers, dikwels teen hul sin, van aangesig tot aangesig met hierdie vraagstukke gebring. En jou Skaduwee, daardie minderwaardige deel van jou persoonlikheid wat jy voortdurend onderdruk, ontken en van weghardloop, is nie 'n alte mooi prentjie om te aanskou nie.

Geen wonder dus dat sommige lesers die boek onmiddellik in die ban wou doen en die skrywer wou braai nie. Hul kon dit nie waag om die bietjie sekuriteit waaraan hul nog vasgeklou het, prys te gee nie, al was dit 'n valse sekuriteit en al sou die tydelike nigredo wat sou volg op 'n deeglike kennismaking met die Skaduwee, lei tot bewuswording, beter insig en 'n meer geïntegreerde persoonlikheid, net soos die nigredo wat gevolg het op die onlus in die naturelledorpie: "... Meteens is daar geen werk nie. Die mos groei aan; gehawende figure beweeg spookagtig tussen die ruïnes. Die orde is broos; dit kan enige oomblik in duie stort. 'n Baaierd van geweld en bloedige vernietiging kan oornag alles uitwis... Waarvoor veg en streef ons? En Henry, in sy pak klere, verkreukel en besweet, diep ongelukkig, voel hoe hyself met alles vergaan". Hierdie toestand van nigredo wat by Jock die vrae "Wie", "Wat" en "Waarom" ontpers, is iets wat elkeen moet belewe en verduur en aanvaar wat die pad van indiwiduasie bewandel. "Est Longissima via", het die Algemiste ook gesê en meeste mense probeer dit ontwyk en ontduik deur aan ou gevestigde gedagtes te kleef en die nuwe en die vreemde met hand en tand, met swaard en vuur en met venyn ie beveg. Alles wat nuut is, is egter ook nie noodwendig goed en nuttig nie. Die konserwatisme en die neofobie verleen die nodige remming en inersie wat verhoed dat die mensdom elke nuwe gedagte of ingewing aanvaar en nastreef, en dien derhalwe 'n baie goeie doel.

En so bring elkeen sy offer aan die lewe, die een meer bewus as die ander; die een meer gewillig as die ander; vir die een is die lewe sy lotsbeskikking, vir die ander sy noodlot. Na mate die mens groei en bewus word van sy eie aard, sy doel en plek in die lewe en bereid is om gewilliglik die offers te bring wat die lewe van hom vra - sy lobola tot die lewe te betaal - word hy 'n vrye indiwidu, vry om sy gebondenheid aan die hoogste lewenswette sonder verset te aanvaar, en verander die meedoënloosheid van sy noodlot in 'n doelgerigte lotsbestemming.

Persoonlike gereedskap