In satire moet mens nie speel nie, sê Leroux (Die Burger, 1980-03-27)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
BLOEMFONTEIN - "Jy moet nie speel nie, maar jy moet bedoel om dood te maak." Aggressie kom in verskeie vorme, maar tog klink hierdie amper koelbloedige woorde vreemd uit die mond van die middeljarige man met sy sagte stem, effens geboë stappie en hare en baard wat al grys word.
Sy donker bril, wat hy ook binnenshuis dra, vertoon as 'n skild en 'n onttrekkingsimbool, maar daar agter is 'n man wat deur 'n donker glas die moderne lewe skerp dophou en in al sy ironie opteken.
Etienne Leroux, boer van Koffiefontein en bekroonde Afrikaanse skrywer, het pas van die moeilikste jare in sy lewe agter die rug, maar by hom is 'n ongestoordheid en 'n oënskynlik filosofiese aanvaarding van die rol wat hy moet speel. Alle pogings om die mens en die kreatiewe krisis agter die storm om Magersfontein, O Magersfontein! vas te vang, ontwyk hy met die grootste behendigheid en herlei telkens die situasie na die algemene.
Soos die karakters in sy boek wil hy homself duidelik nie driedimensioneel laat ontleed nie. Hy stel meer belang in die filosofiese mens as die universele tipe.
As waarnemer van die Suid-Afrikaanse mens en situasie en aanduider van die breëre sin, is Leroux se uitgangspunt: "Op die gebiede van die satire en die ironie moet jy nie speel nie... jy moet bedoel om dood te maak."
Moontlik is dit dié benadering en die groot onbegrip oor wat Leroux probeer vermag, wat juis die storm oor Magersfontein laat losbars het. Te min mense het die geselende sweepslag van die satire gewaar, en te veel het die werk op hoorsê veroordeel en die rykheid van die roman probeer lees uit enkele woorde en frases wat hulle teen die bors gestuit het.
As beoefenaar van die ironie is dit gepas dat Leroux die ironie van die Magersfontein-situasie kan gewaar. Slegs sowat drieduisend eksemplare van die roman is verkoop voordat dit verbied is, sodat daar onmoontlik 'n groot reaksie van die gewone man kon gewees het. Waar het die "spontane verset van die volk" vandaan gekom? wil Leroux weet, en hy vertel hoe hy briewe ontvang het wat klaarblyklik deur een bron geïnspireer is.
As hy oor die vorige groot letterkunde-polimiek in sy skrywersloopbaan praat - oor Sewe Dae by die Silbersteins, wat ook met die Hertzogprys bekroon is - is deur amperse nostalgie by Leroux oor hoeveel makliker hy dit deurleef het. "Dit was meer 'n storm van buite," sê hy. "Ek het op 'n sekere vlak bly skryf, en wel met groot vryheid. Ondanks sensuur het ek bly sê wat ek wou. Met Magersfontein het die woorde natuurlik gekom, en ek het nooit gedink dat die ystervoet so neergesit sou word nie.
"Ek skryf nie om moedswillig te wees nie, maar wat ek moet sê." Leroux het dus duidelik nie die polimiek oor Magersfontein verwag nie, maar slegs uit 'n paar byna apologetiese woorde kan afgelei word watter na-geboortepyne hy alles met die roman beleef het voordat die werk finaal uit sy gestel was met die opheffing van die verbod.
Hy sê hy het die laaste tyd 'n "stramheid" gehad om te skryf, maar nou is alles afgehandel en sal hy weer soos van ouds kan skryf. Hy erken ook dat 'n skrywer gelees wil word, en nadat die min eksemplare van Magersfontein die laaste jare Leroux se beperkte kommunikasievorm was, aangevul met 'n hoeveelheid fotokopieë, kan hy nou weer vrylik tot die publiek spreek.
Oor die algemene letterkundige situasie in die land en sy verset teen sensuur praat Leroux makliker as oor homself. Hy verwelkom die blykbaar verligte vertolking van die wet soos uit die Magersfontein-uitspraak blyk, maar dit pla hom steeds dat soveel ernstige skrywers voortdurend moet deurloop terwyl die "ondermynende" strokiesverhale en boekies wat in feitlik elke kafee te kry is, ongestraf bly.
Die werke van soveel ernstige Suid-Afrikaanse skrywers is al verbied, terwyl talle buitelanders (soos Updike en Roth) ook moes deurloop. 'n Mens moet amper aanvaar dat as jy 'n ernstige skrywer is, jy die vernedering moet deurgaan... Ek glo nie ons het so 'n waghond oor ernstige literatuur nodig nie.
"Die swart skrywers in Suid-Afrika loop ook onder sensuur deur. As ons nie die swart skrywers van Soweto kan lees nie, sal ons nooit weet wat daar aangaan nie. 'n Mens dink ook aan die eksperimentele werk van die jong revolusionêre klomp. Hulle is dalk baie vuriger en hul protes rou, maar ons moet dit sien.
"Ek was al die jare nie 'n man vir sensuur nie. Ek voel volwasse mense behoort vry te wees. Waar daar nou vordering gemaak is - soos met myself, André Brink en Nadine Gordimer - kan ek egter nog nie heeltemal vrede maak nie. Ek is egter baie dankbaar."
Volgens Leroux is dit nou die tyd vir aktuele, prikkelende werke, maar die sensuurstelsel maak dit dood. Skryf het meer betrokke geraak omdat daar nou groter intermenslike kontak op alle vlakke is. "Die mense met wie jy vroeër in aanraking gekom het, was blankes, en die bruin- en swartman was moontlik net as arbeider deel van die situasie. Baie is geskryf oor die lot van mense as aparte groepe, maar voortaan sal die mens oor wie jy skryf nie noodwendig 'n Afrikaner of Engelsman wees nie, maar everyman."
Waar hy graag oor universele tipes skryf, meen hy dat hy in die opsig net so aktueel is as diegene wat oor die politiek skryf. In sy satiriese blik het mense na links en regs deurgeloop. "Ek het niemand beskerm nie, en ek wonder of ek baie simpatiek teenoor my karakters was. Dit volg logies dat ek al hoe meer satires skryf."