Huisgenoot: Mev. Van Wyk lees alles - behalwe Magersfontein
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Skrywer: Chris Barnard
Publikasiedatum: 1977/12/09
CHRIS BARNARD het gaan gesels met die vrou wat die ding begin het dat Magersfontein, o Magersfontein! verbied is. Dat Chris ook ander dinge skryf as artikels in Huisgenoot, dat hy inderdaad 'n Hertzogprys-wenner is, weet sy nie.
--
Ventersburg lê in die hartjie van die Oranje-Vrystaat. 'n Klein dorpie met een teerstraat en 'n paar stowwerige dwarsstrate. Gestig in 1873. Nou, honderd en vier jaar later, spog dorp en distrik met sowat twaalfhonderd siele.
Die plaaslike L.P.R., Hendrik van Wyk en sy vrou, Lena, het tot onlangs op 'n plaas twintig kilometer buite die dorp geboer - in vennootskap met sy vader, oom Boet van Wyk, oud-L.V. en onlangs as Senator aangestel. Maar Hendrik van Wyk het die boerdery opgesê en is nou besig om 'n groot gewelhuis op die dorp te bou, want die politieke, kulturele en kerklike lewe eis baie van hul tyd en die gedurige heen-en-weer-ryery tussen plaas en dorp het nie uitgewerk nie. Nou het die dertigjarige L.P.R. hom ingeskryf as prokureursklerk.
Dit was Lena van Wyk, wat vroeër vanjaar op die N.P.-kongres in Bloemfontein vir dr. Connie Mulder gevra het hoe dit dan is dat 'n boek soos Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! op 'n dorp soos Ventersburg se biblioteekrakke staan vir almal om te lees.
Dr. Mulder se antwoord was om die roman, wat reeds by die Publikasieraad aangekla was en deur 'n komitee as "nie ongewens" verklaar is, na die Appèlraad terug te verwys.
Op 21 November vanjaar het die Appèlraad die boek "ongewens" verklaar en verbied.
Lena van Wyk lees graag. "Soos jy sien," sê sy, "ek het hier 'n plastieksak met my naaldwerk in, en in dié sak is daar altyd 'n boek. En as ek 'n kansie kry, lees ek maar."
Het sy enige voorkeure as dit by skrywers kom?
"Nee, wat," sê sy. "Ek lees alles wat voorkom. My tyd is net baie beperk. Die mense wat hier aan die huis bou, spot my eintlik al. Die enigste twee goed wat ek nie meer kan doen nie, is ek kan nie meer die lewe skenk aan 'n baba nie en ek kan nie 'weld' nie - verder doen ek alles."
Naderhand gee sy tog toe: daar is skrywers van wie sy meer hou as ander. "Ek het juis gister 'n lysie opgestel." Sy gaan haal haar lysie en ons lees name soos M. Strydom, Mara Prinsloo, Douwlina Grobler, Hanna du Plessis.
Op skool het sy heelwat opstelpryse gewen. "En elke keer het hulle vir my 'n F.A.K. as prys gegee, want hulle't geweet ek sing. Nou sit ek met drie F.A.K.-sangbundels."
Sy sing dus?
"Ja, ek het na skool by 'n prokureurskantoor gaan werk en private sangles geneem by die Tegniese Kollege op Kroonstad. Ek neem nou al sewe jaar daar les en sing baie. Ek is amper professioneel. Ek het oor die radio ook al gesing."
Ons vra uit oor die radio-optrede en dit blyk sy het in 'n streekprogram gesing waarin plattelandse kunstenaars die geleentheid kry om hul talent uit te stal.
Sy word baie gevra om op te tree, "want ons het 'n bedrywige kulturele en kerklike lewe hier op Ventersburg. Daar is die kerk se Vrouediens, die Oranje-Vrouevereniging, wat baie aktief is; dan het ons 'n Dingaansfeeskommissie (my man is voorsitter daar); ons het 'n toneelvereniging en 'n Kerkjeugvereniging, en dan natuurlik die skoolaktiwiteite. Nou ja, ek neem aktief deel aan al hierdie dinge. O ja, en dan is daar natuurlik nog die Vrouelandbou-unie ook."
Hulle is getroue kerkgangers. "My man word juis nou as diaken voorgestel. Jy weet, ons is nog baie jonk, en dis 'n harde lewe, die politieke lewe."
Ons keer terug na boeke toe.
Daar is ook ander skrywers van wie sy baie hou. Mense soos Reinette de Villiers en Anna M. Louw.
Het sy al Kroniek van Perdepoort gelees?
"Nee, nog nie. En dan is daar nog M.E.R. Wat is haar regte naam nou weer?"
"Miemie Rothman?"
"Nee, man. Nee, wag, ek kom nie nou op haar naam nie. En dan is daar Werfjoernaal van W.A. de Klerk; dié was vir my baie mooi. Het jy al die boek gelees?"
(Werfjoernaal is van F.A. Venter.)
"Vat nou 'n boek soos Liewe Boet van Douwlina Grobler. Ek weet dis nou in 'n ander rigting, dis nie geskiedenis soos Magersfontein van Leroux nie. Maar dit was vir my baie mooi."
Beskou sy Magersfontein dan as 'n boek oor geskiedenis?
"Nee," sê sy. "Dis glad nie 'n geskiedkundige boek nie. Die mense probeer die boek se vuil taal verskoon deur te sê dis karakterbeelding. Maar ek stem nie met hulle saam nie. Vat 'n boek soos Van Bruggen se Ampie. Dit was glad nie nodig om vuil taal te gebruik om Ampie te skets nie."
"Maar Ampie was in sy tyd net so 'n omstrede boek en vir baie mense net so onaanvaarbaar as wat Magersfontein vandag vir u is," herinner ons.
"Ek is bewus daarvan," sê mev. Lena van Wyk. "Maar nou word daar gesê dat daardie taal wat Leroux gebruik, algemene spreektaal is, en dis nie die waarheid nie. Daardie taal word nie eens in die laagste kringe gebruik nie. Hier is vier Kleurlinge wat hier pleister, en toe my man hulle vanmôre laat roep, sê iemand: "Nee, baas, hulle bid nog." Die vier van hulle bid elke aand en elke môre en lees saam uit die Bybel uit. Dis met ander woorde nie eens 'n Kleurling se algemene spreektaal nie. Nee, meneer, die boek het my nou regtig ontstel."
"Het u die boek in sy geheel gelees?"
"Nee, ek het net die eerste stuk gelees tot daar waar die lelike woorde gebruik word."
"Die res het u nie gelees nie?"
"Nee. Die boek het my buitendien verveel; dit het my werklik nie geboei nie."
Sy het die boek by die biblioteek uitgeneem omdat sy gehoor het dis met die CNA-prys bekroon. "Dan neem jy aan dit moet 'n baie goeie letterkundige boek wees."
Wat sou sy sê is die verskil tussen ontspanningslektuur en goeie letterkunde?
"Ja, dis amper moeilik om te sê. Ek weet nie waarop klassifiseer hulle 'n letterkundige boek nie. M.E.R. is 'n letterkundige boek. Dit het nie spesifiek 'n romantiese verhaal nie. Letterkundige boeke as 'n reël het nie 'n spesifieke verhaal nie. Want waarvoor is 'n roman eintlik? Dis gewoonlik 'n doktersverhaal, dis 'n arm kind wat uitstyg in die lewe - sy studeer mannekyn of iets: dis maar almal dieselfde trant basies, min of meer. 'n Letterkundige boek, weer, is meer in 'n Afrikaanse trant geskryf, daar word van groter taalgebruik gebruik gemaak, amper in 'n hoër taal as jou algemene roman. Nee, jy't my nou rêrig in 'n hoek.
"Kyk, 'n baie mooi roman vir my was Luister na die Wind van Ewans von Beneke. Vat nou daarteenoor 'n meer letterkundige boek soos Audrey Blignaut s'n. Kyk, sy skryf meer stukkies en brokkies. Of hulle skryf oor voëls. Wie's nou die een wat van die mossies geskryf het? Was dit nie Audrey Blignaut nie? Waar sy die mossiekolonie se lewe en beskouinge en liefdeslewe beskryf.
"Die letterkundige boeke het nie 'n menslike verhaal nie; dit gaan nie af tot jou gewone alledaagse verhalwe wat jy in 'n roman byvoorbeeld lees nie. Dit bly op 'n hoër vlak. Soos Alba Bouwer en P.H. Nortje ook byvoorbeeld."
"En Anna M. Louw seker ook. U het haar netnou genoem. U hou van Anna M. Louw - u dink sy is 'n goeie skryfster."
"Wat het u van haar gelees?"
"Eintlik moet ek vir jou sê op hierdie stadium kan ek nie vir jou sê watter van haar boeke het ek gelees wat my beïndruk het nie. Ek is met jou doodeerlik as ek sê ek is nie vreeslik lief om sulke ordentlikerige boeke te lees nie. Wat my getref het, was W.A. de Klerk se Werfjoernaal. Waar hy skryf oor jou besies en jou beatle-besies wat in die nag vlieg."
"Is daar nog skrywers wat werk van letterkundige gehalte lewer waarvan u hou?"
"Wel, soos ek gesê het W.A. de Klerk, F.A. Venter, Audrey Blignaut..."
"Nog?"
"Jong, Aat Kaptein is seker nie letterkundig nie. P.H. Nortje. Of skryf hy meer in die alledaagse trant? Ja, wag, laat ek sien. Kyk, romanskrywers kan ek vir jou baie gee. Soos Ena Murray, vir haar is ek baie lief. En Mara Prinsloo, Reinette Pretorius - ek is juis nou besig met haar roman Liefdesdroom. Ela Spence hou ek nie van nie. En dan is daar nog Susanna M. Lingua.
"Wag, dat ek hulle van 'n kant af dink. Ek behoort aan twee boekklubs en al hierdie skryfsters kry ek by die boekklubs. O ja, Hanna du Plessis is nog een. En Stephanie Meiring. Dis 'n man. Nee, dis seker 'n vrou - Stephanie Meiring. Nee, haar held is altyd 'n vrou, sy's seker 'n vrou. 'n Vrou kan mos nie soos 'n man redeneer nie."
Na sy sowat twintig bladsye van Magersfontein, o Magersfontein! gelees het, het sy opgehou lees en by mev. Issy Malan, Ventersburg se predikantsvrou, gaan kla. "Ons was juis toe met sitting in Bloemfontein besig. Hulle het toe die boek gaan lees en op die Vrouediensvergadering 'n petisie onderteken en dit na my man toe verwys. My man is Bloemfontein toe, na die Direkteur van Biblioteekdienste, met die versoek dat die boek uit Ventersburg se biblioteek verwyder moet word."
Die Direkteur se antwoord was dat hy nie by magte is om die boek van die rak af te haal as die Publikasieraad dit goedgekeur het nie. Sy advies was dat hulle na die Minister toe moet gaan. Juis in daardie tyd was daar 'n partykongres op Bloemfontein. Op 'n aand het dr. Mulder 'n groep vroue toegespreek wat die kongres bygewoon het en tydens vraetyd het mev. van Wyk Magersfontein aangeroer.
"Daar is nou klagtes hier rond," sê mev. van Wyk. "Daar is L.V.'s wat sê hulle stem nie met die Minister saam nie. Hulle stem nie met die Minister se siening saam dat hy meer mense op die Appèlraad aangestel het om die boek af te kry nie. Hulle voel die boek moes sy normale loop geneem het.
"Nou ja, ek het die saak met belangstelling gevolg en ek was nie bly toe die boek verbied was nie, want ek dink dit het Leroux as mens skade aangedoen. As ek in sy skoene was, sou dit my vreeslik ontstel het - om te weet hulle trek 'n boek wat jy geskryf het, so uitmekaar. En jy's skuldig. Want skuldig is hy. Daar word nie mooi dinge in gesê nie."
Hoe voel sy oor die feit dat 'n hele paar predikante tydens die Appèlraad se verhoor van die boek ten gunste van Magersfontein, o Magersfontein! getuig het?
"Miskien het hulle dit maar uit letterkundige oogpunt verdedig, want die letterkundiges is kwaad oor hierdie verbanning. Predikante verskil ook maar van mens tot mens. Ons predikant, ds. Malan, het die boek absoluut verwerp. Dis maar soos hy as mens voel; ek dink nie dit het met jou godsdiens iets te doen nie. Kyk nou na Kennis van die aand. Ek het die boek nie gelees nie, maar daar is 'n toneel in waar die ou dame staan en pannekoek bak. Dan sing sy 'Prys die Heer met blye galme' en terselfdertyd vloek sy die hond in 'n kras taal. Nou sê hulle dis godslasterlik. Nou, daar stem ek nie saam nie; dis nie vir my godslasterlik nie. Veral die ou mense kan soms so iets sing en dan sing hulle dit nie spesifiek as 'n loflied tot God nie - en as hulle dan die hond vloek en sê 'verdomp' of so iets, dan kan ek nie sien hoe dit godslasterlik kan wees nie."
"Wat beskou u as godslasterlik?"
"Godslaster is wanneer 'n mens die Here vloek of sy naam ydelik gebruik."
Na ons gesprek gaan eet ons saam in die plaaslike hotel. Haar man, mnr. Hendrik van Wyk, is druk besig met die verkiesingsveldtog, maar hy kom sluit hom by ons aan.
"Sê my," sê mev. van Wyk terwyl ons op 'n kelner wag, "u gesig lyk vir my so hald bekend. Het u nie 'n rubriek in Huisgenoot nie? Ons het die tydskrifte tot onlangs gereeld gekry."
"Chriskras, miskien?" probeer Huisgenoot se fotograaf, Igor Broes.
"Dis reg. Maar wat is nou weer die rubriek se naam?"
Die ete word bedien en ons moet haastig eet, want mev. van Wyk moet halfdrie in Hennenman wees vir 'n kooroefening. "Sê my," sê mev. van Wyk, "behalwe nou hierdie artikels wat jy skryf, mnr. Barnard, skryf jy verhale ook? Ag, Pappie, ons sal jou 'n rukkie verskoon - gaan bel tog net die mense op Hennenman en sê vir hulle ek sal 'n bietjie laat wees." (Toe ek die afspraak gemaak het en ook toe ek by haar opgedaag het, het ek natuurlik gesê wie ek is.)
Gasvrye, besige mense.
Halfdrie ry ons die lang straatjie af en onder hoë somerwolke in, die vlakte tegemoet. Ventersburg se mense waai vir ons. Ons ry by die biblioteek verby wat netjies en uitgevat eenkant staan soos iemand wat pas gebad het.
Magersfontein, o Magersfontein! staan nie meer op sy rak nie. Dis teruggestuur Provinsiale biblioteek toe. Wat hulle daar met die boek gaan maak, weet nugter.