Hertzog-Pryswenner Skryf Smerige Boek (Dagbreek en Sondagnuus, 1966-11-20)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Aat Kaptein skryf oor: Etienne Leroux se Nuwe Boek
Etienne Leroux se nuutste boek ("Die Derde Oog", Human en Rousseau) is sy beste en sy slegste, sy boeiendste en sy giftigste.
Dit sal hoog geprys word deur daardie klein groep van letterkundige hoëpriesters wat deesdae elke "nuwe" ding met harpmusiek en lofgesange begroet. Hierdie keer sal daar, uit 'n uitsluitend literêre oogpunt, meer as tevore rede vir jubelkrete wees, want Leroux het aan konsepsie, styl en woordgebruik meer sorg bestee as gewoonlik.
Die boek is knap geskryf. Dit is die werk van 'n man wat veel gelees en veel verwerk het, en wat nie bang is om op nuwe paaie te gaan nie. Hy skep - vermoedelik uit daardie selfde drang tot vernuwing - merkwaardige nuwe woorde, en sy styl toon van plek tot plek, van situasie tot situasie, opvallende tekens van ongelykheid. Vermoedelik word dit opsetlik gedoen om handeling en bespieëling te onderskei.
'NET VIR HULLE'
Maar hierdie is suiwer letterkundige aangeleenthede. En dié - so is aan volk en vaderland beduie - moet oorgelaat word aan daardie amptelike kaste van letterkundige gesalfdes wat in 'n verhewe isolement hul krag soek. Van die volk daarbuite word klaarblyklik verwag om te swyg, te aanvaar en te aanbid.
Die moeilikheid is natuurlik dat letterkunde nie in isolasie kan bestaan nie. En in dieselfde asem moet die feit erken word dat die volk nie net mág nie maar selfs móét saampraat oor die geestelike kos wat op sy kulturele borde geskep word. Daardie literêre half-gode wat so opvallend hard oor vryheid-vir-die-kunstenaar skree, moet oorweeg of hulle die gewone volk (én sy kerk, én sy leiers, én sy beskermers) tog asseblief nie 'n bietjie van daardie selfde vryheid sal toestaan nie.
ONDUIDELIK
In "Die Derde Oog" beskryf Leroux met amper Kafka-agtige intensiteit die stryd tussen die Staat se D-diens en die mag van tycoon Boris Gudenov. Wat die doel van die stryd is, word nêrens duidelik nie. In die boek is dit eerder 'n vreemde spel, sonder sin en sonder inhoud.
Die hoof van die Diens ('n vinnig drinkende hoereerder en homoseksueel, brigadier Ornassis D.) verklaar êrens dat hy en sy manne die gemeenskap moet beskerm "teen misdade van die gees, teen 'n subtiele aanslag op die orde". Maar dis moeilik, want "al wat ons het om op te steun, is die Wet op die Onderdrukking van die Kommunisme, en ander bepalings wat ewe vaag is."
Daarmee plaas Leroux die hele aksie in die kader van Suid-Afrikaanse aktualiteit. En hy sal derhalwe moet verstaan dat die volk (én sy kerk, én sy leiers, én sy beskermers) dit van daardie standpunt uit sal beoordeel.
PROTES
Die boek "speel" in Kaapstad. Onder die skaduwee van Tafelberg staan die gebou van die D-diens ("'n vlekvrye smeekstreep in die hoogte in die hoogte") en in die sentrum van die stad staan Boris Gudenov se geweldige Oita Shopping Centre. Die mense wat in en tussen die geboue leef en beweeg, is almal gek of sleg òf altwee. Hulle suip, gaan met ander mans se vrouens na bed, bedrieg mekaar, praat diep-klinkende onsin, en is sonder uitsondering in alle opsigte immoreel en a-moreel.
Namens die bevolking van Kaapstad protesteer ek teen daardie skildering van ons kultuurpeil. Só sleg en só gek is Kaapstad nie.
ROEMRYK
Die sentrale figuur van die boek is kaptein Demosthenes de Goede, wat roem verwerf het by die speurdiens (hy het o.m. die werksaamhede van Die Hoere van Humansdorp aan die lig gebring), en wat oorgeplaas word na die D-diens. Hy moet - as laaste taak - Boris Gudenov aan die lig bring.
Daardie Joodse tycoon en sy wyd-vertakte mag is blykbaar in Leroux se vae allegorie die verteenwoordiger van iets waarteen die uitspattige agente van die D-diens vergeefs 'n stryd voer.
Kaptein De Goede ("'n groot slotvoorspelertipe, die Suid-Afrikaanse heldetipe by uitnemendheid") verstaan tittel nog jota van die sinlose diepte van die spel, maar dit skyn hom by uitstek geskik vir sy taak te maak.
Origens is hy 'n aanpasbare mens. By die eerste vergadering van die D-diens sit hy met 'n slet op sy skoot en hy "bewerk haar soos klei". Sy vrou, wat opgewek toekyk, vry met die hoof van die diens en gee haarself later, in die polisiekantoor(!), aan 'n trop jongmanne wat respekvol die eerste beurt aan brigadier Ornassis laat.
ANTWOORD JA
Die dame se naam is Hope, en sy hoop "dat sy ook as vrou in daardie opsig haar bydrae kan lewer". 'n Aantal blonde slette - wat op Clifton se strande vir die Diens gewerf is - dien die Staat in dieselfde horisontale posisie, maar wie gil, word ontslaan.
Die hoof van die Diens verklaar dat "maagdelikheid op sigself die grootste uitlokking tot ontering inhou", en die meer normale leser van hierdie boek sal begrypend knik as die brigadier vervolgens aan sy manne - wat orgies "voltooi" - die filosofiese vraag stel of "ons nie weer die pre-rasionele stadium bereik het nie".
Wat Die Derde Oog betref, is ek geneig om hom 'n bevestigende antwoord te gee. Ek is voorts bereid om te verklaar dat sy hele D-diens bestaan uit smerige idiote wat hoogdrawende waansin praat.
DIE RES
Wat die res betref: Boris Gudenov leef saam met die dogter van 'n man wat hy ekonomies vernietig het. Die meisie het kontak met 'n liberale, ondermynende groep en sy het deelgeneem aan 'n sabotasiedaad (Vier lyke). Sy slaap met Boris in dieselfde huis as waar sy vrou woon, en sy minderjarige seun kyk toe.
Demosthenes (die Suid-Afrikaanse heldetipe) is ook nie 'n kinderagtige mannetjie nie. Hy drink 'n bottel whiskey vòòr die ontbyt, en op Sondagmiddag gaan hy met sy "veeleisende vrou bed toe terwyl die kinders by die slaapkamer in en uit draf".
SY TRIOMF
Aan die einde van die drama is 'n hele paar van die hoofpersone dood, en wat oorbly is die D-diens in 'n gemoderniseerde vorm. "Is daar 'n groter triomf," vra die brigadier, "as die besef dat God dood is en dat die mens, vry van tradisionele gebondenheid, sy lewe suiwer kan vorm ten opsigte van die Christelike moraal?"
Die manne van die Diens drink "op die dood van tradisie en oerbelewenis. Daar is groot pret en groot vryheid en uitbundigheid sonder perke." Geen wonder nie: Die slette van die Diens staan gereed "om die mans op suiwer menslike grondslag te ontvang - seks as seks, liefde as liefde, waarheid as waarheid soos elkeen dit op daardie oomblik sien".
Só eindig hierdie boek wat geskryf is in die skaduwee van die Vrouemonument van Bloemfontein. Die tradisie is dood. En God is dood. Nou is daar groot pret. En groot vryheid. En uitbundigheid sonder perke.
Só sê Etienne Leroux.
Ek het twee ander woorde. Volksvergif. En anargisme. Ek weet nie van pret nie. Maar ek weet van verdriet om 'n begaafde skrywer wie se werk kon daal tot daardie stinkende moeraspeil.