Graham Greene besoek Suid-Afrika (By, 2008-05-02)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Verlede week het John Kannemeyer vertel hoe dit gekom het dat Graham Greene en Etienne Leroux bevriend geraak het. Vandeesweek vertel hy van Greene se besoek aan Suid-Afrika en onder meer aan die Lerouxs se plaas Janee op Koffiefontein.
Ná Etienne Leroux se persoonlike ontmoeting met Graham Greene in 1968 was daar telkens in hul briewe aan mekaar sprake van 'n moontlike besoek van die Britse skrywer aan Suid-Afrika.
Aan hul gemeenskaplike vriend, die skrywer Paul Theroux, skryf Leroux 'n brief waarin hy wys op so 'n moontlike besoek, maar waarin hy terselfdertyd, met verwysing na wat juis in dié stadium noord van die destydse Suidwes-Afrika aan die gang is, op Greene se hebbelikheid wys om altyd gevaarlike lande "on the dangerous edge of things" te besoek.
Greene wou dan ook Angola besoek. "He is really," skryf Leroux, "looking for danger spots! But the whites have all been transferred to Portugal where they are (I hope) making plenty of trouble. The Russians, the Cubans, the Chinese are moving into Angola. There are three factions shooting at random and calling each other 'camerade'. We are feeling rather uneasy because these things are happening on our borders.
"It is good to look at revolutions away from home. I am not in the mood to be uprooted at this stage. I want to complete my novel. I cannot fit into an ideological system of any kind. I believe that one can change the world by the word and the mind. I am a very good shot, but I hate killing people physically. I cannot even kill a springbok on my farm. I am also a coward."
Greene sou wel nooit naby Angola kom om, soos sy gewoonte was as hy vreemde lande besoek en soos talle van sy romans van getuig, die destyds nuwe politieke bewegings te karteer nie. Hy was egter begerig om Suid-Afrika en sy vriend Leroux te besoek.
Op 28 Maart 1973 skryf hy aan Stephen: "I've just received a letter from Playboy offering to pay me all expenses etc. for a visit to South Africa if I would write them an article on the subject. This would solve any financial problem about visiting you, but I might find it difficult to write anything as I would certainly have to protect you and anybody I met through you from reprisals.
"What in general terms do you think of the idea? Playboy says 'there is one man down there who we have thought for years is worth a piece of writing. He is Mike Hoare, the mercenary who gained a measure of notoriety in the Congo and who has since retired to a more civilized existence while he waits for the next call.' Do you know anything of him?"
Leroux was in sy noppies met die vooruitsig van 'n besoek van Greene. "Your coming here," skryf hy, "is the best news of the year for me. Elizabeth and I are elated with the prospect. Great show!"
Hy het by sy uitgewer, Koos Human, navraag gedoen oor Hoare en moes toe hoor dat dié wêreldbekende huursoldaat nie meer in Suid-Afrika is nie, maar sy bedrywighede na Singapoer of Hongkong verskuif het, waarskynlik (soos Human sardonies byvoeg) om Chinese uit te roei.
Mense oor wie Greene wel sou kon skryf, is Josh Puren wat die hoof was van Tshombe se lugmag en in Transvaal boer en Max Glasspool, 'n huursoldaat byna in Hoare se klas en in daardie stadium 'n garage-eienaar in Salisbury met die agentskap vir Rambler-motors.
Om Greene se koms na Suid-Afrika die moeite werd te maak, skryf Leroux, het hy met regter Kowie Marais, 'n goeie vriend van hom, gereël om die Transvaalse gedeelte van die besoek te organiseer. In 'n verdere brief aan Greene laat Leroux hom weet dat Kowie Marais intussen die program vir die Transvaalse besoek gefinaliseer het. Dit klink só interessant dat hy en sy vrou, Elizabeth, besluit het om hom al in Transvaal op die lughawe te ontmoet.
Op 19 Julie 1973 kom die 68-jarige Greene - die skepper van talle antihelde, bendelede, whiskypriesters, absurde joernaliste en ander angstige wanaangepastes - op die Johannesburgse lughawe aan vir 'n besoek van ses weke. Leroux, Elizabeth, Marais en sy vrou, Christelle, wag hom in.
Hoewel hy moeg was ná die lang vlug van Nice en sku was vir joernaliste, staan hy 'n seldsame onderhoud in die lughawe se teekamer toe. Die hoofdoel van sy besoek, sê hy, is om vakansie te kom hou en om vir sy vriend Leroux te kom kuier. Uitsprake oor politieke aangeleenthede wil hy hoegenaamd nie maak nie.
Nadat hy 'n rukkie kon uitrus, begin die Transvaalse deel van sy reis onder die bekwame leiding van Kowie en Christelle Marais, met Leroux en Elizabeth saam met hom. Hy sien soveel van Transvaal as wat binne 'n week moontlik is.
Aan sy ontmoeting met Modjadji, die Reënkoningin, was 'n hele ritueel verbonde, want hy moes gebukkend geskenke van die hele geselskap oorhandig en 'n bottel jenewer aan Heks, haar eerste minister, gee. Heks was die spreekbuis, want niemand mag die Reënkoningin regstreeks aanspreek nie.
Wat Greene besonder geboei het, was dat Heks alle vrae met 'n balpuntpen op die palm van haar hand neergeskryf en oorgedra het. Hy was ook besonder geïnteresseerd in Rider Haggard se boeke She en Ayesh a wat op die legende van die Reënkoningin gebaseer is.
In Pelgrimsrus het hulle 'n drankie gaan drink in 'n kroegie wat vroeër 'n kerkie was. Toevallig was die kroegman iemand van Wene, Oostenryk, 'n goeie vriend van Anton Karras wat die Harry Lime-tema in The third man, die prent met 'n draaiboek deur Greene, op sy siter gespeel het.
"Karras was the only man who really made money out of the whole deal," sê Greene aan Leroux toe hulle die kroegie verlaat. Later sou Greene sê die Transvaalse gedeelte van sy besoek was baie goed georganiseer en dat die Blyderivierspoort naby Sabie van die oorweldigendste natuurskoon is wat hy nog gesien het.
Daarby was hy beïndruk met die Afrikaners se gasvryheid. "I don't think I've experienced anything like it anywhere else in the world. I haven't met many English-speaking South Africans yet, but the Afrikaners have been wonderful."
Tog het hy soms gevoel dinge is net te druk vir hom. Tydens die besoek aan die Strijdom-toring in Johannesburg, het hy met sy droë humor opgemerk, is hy gevra om deur 'n verkyker te kyk. Ongeveer in die middel sou hy dan 'n huis met 'n blou dak sien. Gaan hy 'n bietjie links daarvan, sal hy 'n huis met 'n groen dak sien. Dit is die dak van Harry Oppenheimer se huis!
In onderhoude met verslaggewers het Greene gesê dat hy baie van die Kaapse wyn, veral die witwyn, hou.
Iets wat hy vreemd vind in Suid-Afrika is die hoeveelheid tee wat hier verorber word, aangesien hy tuis hoogstens een koppie tydens ontbyt drink.
Toe hy na Leroux sou kom, het hy twee voorwaardes gestel: dat hy nie naby 'n perd hoef te kom of hoef te dans nie. Hoewel hy in sy vryersklongdae probeer het om dans aan te leer, was dit 'n droewige mislukking, aangesien hy geen aanvoeling vir ritme het nie. Sy besoek is bloot 'n vakansie en hy beoog nie 'n boek oor die land nie, maar hy meen die verwikkelde rassepolitiek en die maatskaplike opset van Suid-Afrika bied oorgenoeg stof vir ernstige prosaïste. Tydens sy besoek het Greene hom nooit in die openbaar teen die Suid-Afrikaanse rassebeleid uitgespreek nie. Elizabeth kon egter later onthou dat apartheid vir hom 'n gruwel was, maar hy het geglo "dat die Afrikaners die knoop oor apartheidsafskaffing sál deurhak".
Hy is gekant teen alle vorme van restriksies wat 'n stelsel van sensuur 'n skrywer oplê. "I believe it is up to the individual to be his own censor." Hy meen wel nie die hedendaagse aksent op geweld is besonder artistiek nie, "but I still don't believe it should be censored".
In sy jong dae het hy van melodrama gehou en die verhaal was in baie van sy werke die oorheersende element. Later het hy egter in sy romans sterker op karaktertekening begin konsentreer. 'n Hele aantal van sy romans is verfilm, soos Fallen idol, Brighton Rock, Our man in Havana en The comedians, maar in die algemeen hou hy nie veel van die rolprente wat op sy romans gegrond is nie, aangesien dit maar min verband hou met wat hy geskryf het.
Op die vraag of hy al die verfilming van Travels with my aunt, wat tans hier vertoon word, gesien het, was sy antwoord dat hy nie na Suid-Afrika toe gekom het om tydens 'n rolprentvertoning kwaad te word nie.
Ná die besoek aan Transvaal is Greene saam na die Le Rouxs se plaas Janee naby Koffiefontein. Tydens die kuier daar kon Graham heerlik uitrus en Koffiefontein deur die oë van Leroux beleef, maar ook saam met hom die slagveld van Magersfontein en die McGregor-museum in Kimberley besoek.
Greene was, anders as Leroux wat by Jung aangesluit het, 'n volgeling van Freud en het 'n absolute fiksasie oor sy drome gehad. "Ons moes 'n lessenaar in sy kamer indra," vertel Elizabeth, "sodat hy, as hy in die nag ná 'n droom wakker word, dadelik by die tikmasjien kon sit om dit neer te skryf."
Einde Julie is Greene, Leroux en Elizabeth per motor af Kaap toe, met Elizabeth wat toe in gesprekke en briewe na Greene met die kodenaam "die groen man" of "die Groene" begin verwys het. In Stellenbosch het die nyweraar Anton Rupert en sy vrou, Huberte, op hul plaas L'Ormarins in Franschhoek 'n onthaal vir Greene aangebied en Rupert kon 'n hartlike gesprek met hom aanknoop.
By die onthaal was ook die digter D.J. Opperman, wat 'n sin begin het met die woorde: "You, as a Catholic writer . . ." "No," val Greene hom in die rede, "I'm not a Catholic writer. I'm a writer who is by chance a Catholic."
Op 'n keer het Greene aan Koos Human gevra waarom byna almal wat hy ontmoet, kennis dra van sy roman Brighton Rock en hom daaroor uitvra. Dit het Human eers later bygeval dat Van Wyk Louw die inset van Brighton Rock in Vernuwing in die prosa aanhaal: "Hale knew, before he had been in Brighton three hours, that they meant to murder him."
Van Wyk Louw sê daar is in hierdie sinnetjie niks wat beskrywend genoem kan word nie, niks "visueels" en "geen flenter" kleur nie. Dit is alles "saaklik, en suiwer intellektuele mededeling", maar tog veel "treffender" as 'n roman met 'n beskrywende begin.
Leroux en Koffiefontein figureer in twee van Greene se romans. Toe Leroux in 1968 Greene ontmoet het, was hy besig om Travels with my aunt te skryf. In dié roman besoek van die karakters 'n bioskoop ongeveer 300 myl van Koffiefontein. Leroux het opgelet dat Greene baie nuuskierig is en dat hy in ontmoetings en gesprekke dikwels die onderlaag van spanning en verhoudings waarneem eerder as wat aan hom vertel en gewys is. Hy het in hierdie stadium aan The human factor geskryf, wat in 1978 gepubliseer is.
Dit is 'n roman oor 'n Britse diplomaat wat tydens sy dienstyd in Pretoria op 'n swart meisie verlief raak, deur BOSS bedreig word en met die hulp van kommuniste daarin slaag om sy geliefde via die destydse Louren?Marques (Maputo) na Brittanje te laat ontsnap.
Greene wou van Leroux weet watter soort motors die destydse BOSS sou gebruik het, wat die beste ontsnappingsroete uit Suid-Afrika sou wees en wat 'n naam sou wees vir die swart meisie wat hy as karakter invoer. Die grootste deel van die roman speel af in Brittanje, met terugverwysings na Suid-Afrika. Wanneer die diplomaat weer in Engeland geplaas is, moet hy onderhandel met Cornelius Muller, 'n besoekende agent uit Suid-Afrika wat vaagweg gemodelleer is op Connie Mulder en wat laat blyk hy weet nie juis veel van die Afrikaanse kuns en letterkunde nie.
Vir hom was digters en romanskrywers onbetroubare mense: "They get mixed up in politics. There's a poet in prison now for helping terrorists." In die loop van The human factor dink die diplomaat terug aan sy kennis- making met Rougemont, 'n Vrystaatse boer, 'n karakter wat duidelik gegrond is op Greene se kennismaking met Leroux.
Die beskrywing van Rougemont en sy leefwyse op die plaas stem sterk ooreen met wat Greene tydens sy besoek op Janee ervaar het, want hy en Leroux het mekaar tydens dié verblyf van ses weke beter leer ken as tydens Leroux se besoeke aan Antibes.
Die Lerouxs sou in die 1970's Greene nog meer as een keer in Europa besoek, maar die besoek van 1973 was Greene se enigste aan Suid-Afrika.
In sy De Kat-artikel oor Greene onthou Leroux hom as 'n mens wat volkome vry is en wat altyd sal veg om nie in 'n hok gejaag te word nie. In 'n ongedateerde brief aan Max Reinhardt skryf Leroux: "I have a great longing to see my friend Graham. I am a little bit worried about his confrontation with the Mafia of Nice, but I am sure he will carry it off with great success. He leads a charmed life. In a certain sense he is a saint. Nobody will shoot him. They will probably shoot the man next to him."