Gedagtig aan pa Stephen (Beeld, 2002-06-12)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Etienne Leroux (Stephen vir sy familie en vriende) het sy kinders destyds verbied om sy romans te lees.
Terwyl die res van die Afrikaner-kinders grootgemaak is met Alba Bouwer se Boplaas-stories, het Leroux vir sy kinders ook strokieprente soos Ritchie Rich, Dagwood, Little Lulu, Little Dot en Little Lotta gekoop om te lees.
"Later het Superman, Batman, Girls' Scouts en ander gevolg, maar niks, absoluut niks kon kers vashou by Hérge se Tintin nie!" sê sy oudste dogter, Chérie Collins van Kaapstad, in 'n boek oor haar pa waaraan sy tans werk. Collins het die laaste jare self haar merk gemaak in die boekewêreld as ontwerper en tipograaf van honderde Afrikaanse boeke.
"Ons is ook toegelaat om al Enid Blyton se boeke te lees - van Little Noddy tot The Famous Five - al die Engelse jeuglektuur van daardie tyd wat vandag nie as baie opwindend en kreatief genoeg vir die jong kind beskou word nie," sê Collins. "Dit was in ons jong dae. Verder was sy biblioteek vir ons oop vir bykans alles (behalwe sy eie boeke) en onder streng toesig deur hom - elke boek moes presies op sy regte plek teruggesit word.
"En Saterdagaande, terwyl die meeste Afrikaners na die musiekprogram U eie keuse geluister het, het ek saam met hom na No place to hide, Jet Jungle, Through the creaking door, Squad cars en Men from the ministry oor Springbokradio geluister. Dit was nou as ons nie die aand op Koffiefontein gaan fliek het nie."
Hoe oud was sy toe sy haar pa se die boeke vir die eerste keer gelees het, en wat was haar reaksie daarop?
"Dit was in my matriekjaar. Ek was op kosskool in Bloemfontein by die Christelike Nasionale Meisieskool Oranje, die susterskool van Grey- kollege. As hy nog hier was, sou hy verlede week saam met ons aangedaan geraak het met die begrafnis van ons krieketheld Hansie Cronjé. Sy lojaliteit teenoor sy alma mater en die Grey Boys het hy nooit verloor nie.
"Ek het Sewe dae by die Silbersteins heel eerste gelees. Daardie boek lê vandag steeds dwars in my hart. Ek wou nog altyd die storie verder uit die oog van Salome skryf, maar sy is nog nie reg om daardie sluier te lig nie."
In 'n onderhoud in die jare 60 het Leroux gesê hy het sy kinders 'n Victoriaanse opvoeding gegee. Wat was vir Collins die kenmerke daarvan?
"Ek weet nie hoe eg Victoriaans dit was, en of dit hoegenaamd gehelp het nie! In daardie jare was dit algemeen bekend dat kinders gesien maar nie gehoor is nie, en dit was iets soos 'n streng opvoeding in private skole met die klem op onder meer musiek- en spraaklesse, etiket en goeie maniere.
"Oor sekere dinge is nooit gepraat nie. Min het hy geweet dat ons elke Sondagmiddag as hulle gaan slaap het, elke enkele uitgawe van die Evergreen review in sy studeerkamer uitgesnuffel en alles oor die sekskepades en verbode dinge wat in die res van die wêreld aangegaan het, met groot oë gelees het!
"Playboy het eers later ewe stout op die uitstalrak van sy studeerkamer verskyn nadat die dogters ver en veilig uit die huis was en is altyd vinnig verwyder as ons kom kuier het."
Wat was die familie se reaksie op al die storms wat gereeld om Leroux losgebars het?
"Dit was aaklig! Maar hy het ons altyd teen die publisiteit probeer beskerm deur nie vir ons te wys of te vertel wat in die koerante staan nie. Ek sal nooit die Maandagoggend in Pretoria vergeet toe ek as eerstejaar in die Afrikaanse klas instap net nadat my ouers se egskeiding op die agterblaaie van die Sondagkoerante uitgebasuin is nie.
"Daardie jare is dit nog as 'n groot skande beskou as mense geskei het. Die hele saal het soos een man omgedraai om na my te kyk. Ek het net daar uitgestap en nooit weer my voet in 'n Afrikaanse lesingsaal gesit nie.
"My besorgde lektore het my probeer moed inpraat en dominees het by my koshuis kom huisbesoek aflê en hartstogtelik vir my gebid! Maar die druk om te presteer en in sy beroemde voetspore te volg, was eens te veel vir 'n oorsensitiewe eerstejaartjie wat vir soveel jaar in 'n streng meisieskoolkoshuis beskerm is teen die buitewêreld en sy gevare en niks geweet of verstaan het wat buite aangegaan het nie.
"Dit het my liefde vir die Afrikaanse taal byna versmoor. Mans wou my uitneem omdat hulle oor my beroemde pa wou gesels. Ek het later nie meer geweet of hulle in my of net in hom belang stel nie, en het ek in my finale jaar byna 'n totale identiteitskrisis beleef."
As watter soort mens onthou Collins haar pa en wat het hy vir haar beteken?
"Hy was seker die grootste gentleman op die ganse aarde. Hy het nooit 'n skewe woord van enigiemand gesê nie en het die grootste agting vir die mens as individu gehad. Hy en sy werksmense op die plaas het wedersydse respek vir mekaar openbaar en almal was lief vir hom.
"Niemand op die dorp in Koffiefontein het in al die jare ooit 'n enkele ding uit sy bakkie, wat nooit gesluit was, gesteel nie, en toe daar een keer 'n moordenaar op die plaas kom skuil het, het hy nie die man uitgelewer nie. As 'n bestuurder van sy sakkies aartappels stilletjies op die dorp verkoop en self die geld gevat het, het hy net gemaak asof hy nie daarvan bewus was nie. Hy het altyd 'n rede ingesien vir so 'n optrede en dit dan net daar gelaat.
"Ek het hom nooit sien kwaad word nie. Daar was altyd 'n baie besonderse band tussen ons en ons het mekaar goed verstaan. Die lewe was nooit vervelig as jy in sy geselskap was nie. Hy het 'n geweldige sensitiewe en onselfsugtige uitkyk op die lewe gehad, maar bedruk kon hy maklik raak. En o, daardie Sunday blues as die son agter die Vrystaatse koppies begin sak het!
"Ek was baie lief vir hom."