Fokus op '80 (Tydskrif vir Letterkunde, 1989-05-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

(Sleuteltoespraak gelewer by die Nasionale Leeskringseminaar, Welkom, 5 Oktober 1988)

Die naam van die spel is om lesers en boeke, lesers en skrywers, lesers en uitgewers bymekaar te bring en hierna sal van die bekendste "persoonlikhede" (soos die media hulle graag noem) deelneem. Aangesien die program aan wysigings onderhewig is, hoop ek tog dat minstens 75% van die lys formidabele name deurlugtig teenwoordig sal wees. (Ek het hierdie lys op 17 Augustus gesien.) Daarbenewens is ek die ou wat die sleuteltoespraak moet hou en ek het slapelose nagte gehad oor die definisie van 'n sleutel wat die deur van die Suid-Afrikaanse letterkunde moet oopsluit vir die dekade-kamer '80. Hierdie woord "sleuteltoespraak" is 'n onding wat ons van die Amerikaners geërf het. Volgens definisie beteken dit "an opening address, as at a political convention, that outlines the issues to be considered". Dat hierdie begrip, oorspronklik polities, nou ook op 'n konvensie oor die stand van die letterkunde van toepassing is, dui indirek daarop dat die letterkunde, soos die politiek en ander verwante vorme van die mens se dilemma in hierdie lewe, besig is om homself ook stadig kategories in te deel.

Getrou aan die nuwe tradisie, dus, sien ek hierdie samekoms as 'n voortsetting van die makietie op Stellenbosch. My toespraak sal met opset volgens 'n nie-Calvinistiese-Hugenote-preekwyse onsamehangend in geen dele verdeel word om op die oppervlakte die organiese staat van die letterkunde as 'n Protestant te verflenter met my eie beskeie vertwyfelinge nie. Maar eers moet ek by wyse van inleiding sommige van die klieke van die jare '80 noem wat die inhoud van die fokus op ons letterkunde bepaal: die motorkliek, die jagterkliek, die familiekliek, die punk-ballroomkliek, die diskokliek, die leserskliek, die skrywerskliek, die Hugenotekliek, die Ossewakliek, die blanke kliek, die swart kliek, die bruin kliek, die Moslemkliek, die Hindukliek, die Buddakliek, die C.N.A.kliek, die U.D.F. kliek, die terreurkliek, die sportkliek, die sektariese kliek, die Afrika-kliek - en só kliek ons voort terwyl die bomme bars. Maar intussen staan daar tussen die skrywer en die leser 'n hele jargon van literêre terme wat die stand van die letterkunde vir die leser interpreteer. Ek bedoel dit nie neerhalend nie want dit is in die tradisie van die letterkunde oor ál die jare dat iemand die kleur van die verkleurmannetjie moet beskryf: die skrywerskap in al sy menigvuldige vorme. Sal ons hierdie toestand ook maar in klieke verdeel?

Postmodernisties, dekonstruksionisties, adamisties, paradigmaties met formalisme, strukturalisme, realisme, neo-realisme, lesersresepsie, satire, oorkoepelende ironie, humor, ontvlugting, geëngageerde oordele, geldmaak en alle eksperimente in die moeras wat die skrywerslewe bepaal - en iemand moet afsydig die kliek wat die skrywer laat kliek verwoord. Dis goddank nie ek nie; maar daar is in die jare '80 soveel kundiges in Suid-Afrika wat met verstommende belesenheid die esoteriese sowel as die banale suiwer krities kan bepaal. Al wat mens nodig het, is 'n leksikon op elke besondere vakgebied. Dis nie ongewoon nie: mens het 'n leksikon van terme, eiesoortig, nodig op alle terreine vanaf die godsdiens tot die wetenskap.

Ek het verwys na die klieke wat die fokus op '80 bepaal; eintlik het ek bedoel dat ons op die gebied van die Suid-Afrikaanse letterkunde die mitologie, die ikonografie van ons samelewing moet begryp, want die skrywer kan nie die "heilige" beeld van sy samelewing ontsnap nie. "Ons is van Afrika" is die leuse en dan moet ons probeer verstaan wat de hel die beeld van Afrika is.

Tot dusver was die ons-hulle-sindroom deel van ons lewe, maar dit is stadig, miskien nou angswekkend stadig besig om te verander. "Ons is van Afrika" beteken nie dat jy so half-kunsmatig ex Africa moet skryf nie; jy kan steeds 'n Europese roman skryf maar jou derhonderde-jare deel van Afrika sal ietsie in jou roman weerspieël: 'n sekere aardse naïwiteit, 'n liefde vir veldblomme, legendes, sandduine in Namibië, woudreuse in Knysna, en vir demokratisering en vir kinderlyke en padblokkades waar jy ook al gaan. Kundera het byvoorbeeld gesê dat wat hom betref, die roman in Europa, en nie in Amerika nie, setel; en kenners vertel my dat sy THE UNBEARABLE LlGHTNESS OF BEING ten spyte van sy Oos-Europese herkoms die vlugtigheid van 'n Europese werk het. Wole Soyinka se werke toon 'n sterk Europese invloed, bv. van Brecht, James Joyce, T.S. Eliot, Yeats, Graves, Lawrence ensomeer. (Bruce King, '88)

En terloops, aangesien die digkuns en kortverhaal in die jare '80 sekerlik een van die hoogste vlakke bereik het in óns literêre geskiedenis wonder ek of dit nie miskien te danke is aan die tydrowende vereistes in ons leefwyse wat ons dwing om die lywige roman eerder as 'n bron van verdediging te gebruik nie, 'n missiel teen inbrekers in die nag vanweë sy gewig, in plaas van 'n langsame en dikwels vervelige bron van insig waarvoor ons nie meer die tyd het nie. Dit gee my groot plesier dat drie kort romans op die oomblik wêreldwye aandag trek: Raymond Queneau se PIERROT MON AMI, die Duitser Patrick Susskind se THE PIGEON en Emmanuel Carriere se THE MUSTACHE.

Voor ek verder gaan, net om asem te skep, wil ek 'n bietjie draal oor Fokus '80. Dis ongelooflik hoeveel fokusse op '80 bepaal word, van allerlei instansies. U sal dit nie glo nie, maar die mielieboere fokus op '80 in hulle seminare, die rooivleis-enigma fokus op '80, die hele ekonomie, die weerberigte, die landboukrediet, die algehele kongresse dwarsdeur die land fokus skielik. En toe kom die skrywers by en maak hulle eie fokus op '80: in Stellenbosch, die Skrywerskring in Bloemfontein, en ons hiér. Op die gebied van kongresse en seminare het die skrywers skielik deel van die ménage geword. En ek het nog nooit soveel pratende skrywers beleef nie; in die verlede het hulle hulle sê af en toe gesê in die parogiale Afrikaanse eiland van die Afrikaanse letterkunde - maar nou praat almal Suid-Afrikaans, nog steeds parogiaal, maar in terme van 'n nuwe bedeling en 'n moontlike rewolusie met 'n vloedgolf van woorde want die woord moet nou goddank in die plek van die bom kom. Ons beleef 'n Molotov-bom van woorde asook 'n kernuitstraling van ideologieë wat hopelik die stryd sal wen. Maar helaas, teen die agtergrond van digters, skrywers en filosowe wat aan die bewind is in die regering van Nicaragua ontplof die werklike bomme nog steeds. Watter hoop het skrywers om 'n land te red?

Ek fokus sommer weer op die Tagtigers. Ek dink Etienne van Heerden het gesê dat die Tagtigers eintlik nie soos die Sestigers bestaan nie, en ek stem met hom saam; daar is nie 'n beweging van '80 nie. '80 is 'n produk van '60 – die ultimaat van '60 sonder die romanse van ontdekking en die kleiduifskiet van die establishment. Die Sestigers het hulle blomkinders en die destydse permissiwiteit aan die groot klok gehang, maar dwarsdeur die wêreld word die sestigers in hedendaagse terme glad nie meer as só liberaal en permissief beskou nie. Dis die lot van pioniers wanneer die ouderdom hulle inhaal. Maar ek dink nie dis van toepassing op die skrywers van '60 nie: hulle bly steeds rumoerig en dit moet die jongere skrywers frustreer dat hulle nie Grand Old Men geword het nie. Ek dink dat ons nie dekade-indelings sommerso moet aanvaar nie; dit gaan eerder om die mitologie van 'n tydperk wat langsaam verander en in die opdrifsels bly "diamonds are forever" oor. Die beste voorbeeld waaraan ek kan dink is die sogenaamde Viktoriaanse tydperk waar briljante skrywers dikwels gekoppel word aan hulle tydvak terwyl hulle eintlik in eie reg oorleef maar steeds die albatros van 'n tydperk-oordeel moet dra. "What is necessary is the much more radical and delicate task of weighing their significance for readers who are not Victorians". (Christopher Clausen)

Onlangs het die ALV (Afrikaanse Letterkunde-vereniging) ook hulle fokus op '80 geplaas en daar was skynbaar 'n lewendige bespreking oor die rol van die skrywer in die georganiseerde demokratisering van Suid-Afrika. Jy moet nie subtiel in verset wees nie, noem die ongeregtighede duidelik, Koos Prinsloo. Beste Koos, ek het met ONSE HYMIE presies dieselfde kritiek gekry van Barnie Toerien in oorsese tydskrifte. Van jóu is gesê: Koos Prinsloo se boek is polities, maar dit is subtiel en ontwykend. Hy kon veel erger dinge gesê het. Noem die ongeregtighede duidelik; daar is allerhande verwysings maar nie 'n direkte oordeel nie, is ook van my gesê.

Dit weerspieël miskien meer as enigiets anders die fokus op '80. Tagtig is polities. Mens moet dit net eenvoudig so aanvaar. Tagtig se bowetoon is politieke verset en die skrywer kan nie die blindheid van Thiresias bekostig nie: die skrywer moet raaksien wat nóu gebeur en nie die blinde esoteriese vlugte van profetiese verbeelding volg nie. Hy mag ook nie die triomf van sy vakmanskap soos die Akmeisme van Russiese skrywers in daardie jare beleef nie want dis vandag 'n 1917 soos dit destyds in Rusland was: sosio-politieke betrokkenheid het 'n einde gebring aan slegs suiwer vakmanskap.

Daar is nou méér op die spel. Die skrywer word beoordeel volgens sy politieke en menslike gewete. Miskien is dit 'n natuurlike uitvloeisel van menswees; maar op die gebied van skrywerskap soms vervelig. Die latyns-Amerikaanse romans word deur The Guardian se W.l. Webb as 'n lewendige genre gesien, en 'n bewys daarvan dat die roman nog nie dood is nie; 'n soort surrealistiese barok waarin die harde werklikheid eiesoortig weerspieël word: die mense leef met die fiksie dat alles goed gaan en dat menseslagting nie bestaan nie. Die Latyns-Amerikaanse skrywers het hierdie beeld briljant verbreek, tot so 'n mate dat hulle beste skrywers één Nobelprys na die ander verower het maar dat omtrent ál hulle skrywers presies dieselfde begin skryf het. Die groot skrywer word toe 'n parodie van homself en sy volgelinge word getoonset. Ek begin dikwels wonder of daar nie miskien tot dieselfde mate 'n enersheid by ons aan die opkom is nie. Daar is sleuteldatums van slagting in ons geskiedenis, pieke van gebeure, menselyding, en ons almal wag vir 'n enkele koue vis in teenstelling met hordes van bloeddorstige skrywers, die piranhas van ons tyd, om objektief en met afsydige deernis man's estate en die tragiek van ons bestaan te verwoord.

Op die oomblik word ek 'n bietjie moeg vir skrywers en ek wil 'n fokus vestig op leserskringe dwarsdeur die land, en veral in die Vrystaat, waar die kringe van lesers sorg dat ons boeke gelees word. Prof. Elize Botha het dit al destyds uitgewys. Daar is weinig reklame vir 'n boek behalwe resensies af en toe, maar dit is hierdie getroue leserskringlede wat minstens die mense laat lees en met 'n keurige akademiese hulp die verwikkeldheid van die letterkunde toeganklik maak sodat die leser op sy eie ook déél word van die enigma van letterkunde: die wonderlike avontuur van openbaring. Hierdie byeenkoms gaan daaroor om die leser en die skrywer bymekaar te bring. Hier sien julle ons, die skrywers; en ons sien julle, die lesers. Ék sien daardie mooi meisie in die hoek van die saal; sy sien vir die eerste keer haar held, die skrywer, bv. Daniel Hugo. Sy sien ook die oueres en die lelikes, maar die ontmaskering van die romantiese beeld is déél van die ontmoeting. Ek sidder om te dink hoe die lesers in hulle kontak met die uitgewery 'n beeld van die korporatiewe liggaam moet kry: Hettie en Marietjie is mooier as Koos, byvoorbeeld. Maar Koos het ook 'n mooi vrou en sy allure is anders. Hierdie ontmoeting tussen leser en uitgewer vind ek effens problematies, behalwe dat die uitgewers tog die kontak tussen skrywer en leser is; sonder die uitgewers sal daar nie 'n boek wees nie maar slegs vergete manuskripte in 'n laai.

Ek los nou vireers die voorafgaande omdat die gevaar van dekade- of tydperkbepalings (soos Fokus '80) die skrywer 'n gevangene kan maak van 'n sisteem van denke in sy eie tyd. Hy moet daarvan kennis neem, maar hy moet nie 'n slaaf word van vlietende moraliteit en 'n sisteem van denke nie, want selfs sy verset kan in 'n patroon pas. Colin Style sê byvoorbeeld in London Magazine (Julie 1988) na aanleiding van Llewellyn Powys se werke: "He follows his perceptions wherever they choose to take him. In our post-colonial age, this is uncommon. Arguably, much of the current writing about Africa is formulaic, even stereotyped. Apartheid literature, tor example, monotonously operates through a narrow series of polemical situations."

Is dit waar? Dis één van die vrae wat ek as 'n sleuteltoespraakmaker kan vra vir almal wat deelneem aan hierdie byeenkoms. En dan kan ek nog 'n vraag stel: tot hoe 'n mate speel sensuur, selfsensuur, en noodmaatreëls 'n rol in 'n moontlike verskansing van alle skrywers teen lesers? Aangesien ons, die skrywers, op julle, die lesers, teer, en ons julle nie kan bereik nie dan voel ons soos witkruis-arende 'n bedreigde spesie: ons maak maar een kuiken op 'n slag groot in die berge. Tot hoe 'n mate gee die media genoegsame aandag aan skrywers? Daar is wel besprekings van boeke wat verskyn, eenmalig, in dagblaaie maar daar is nie 'n volgehoue fokus nie - daar is nie 'n literêre wêreld wat verken word soos 'n daaglikse fokus op sport nie. As mens aan koerante dink dan is daar verskeie afdelings maar die letterkunde moet jy soek in moeilik-bekombare indelings tussen seks, sport, glamour-nuus en sensasie, polities of anders. Die letterkundige rubriekskrywers voer maar 'n eensame bestaan. Ek kry die Engelse skrywers jammer want dit lyk vir my asof die Engelse koerante maar bloedweinig aandag gee aan die algehele Suid-Afrikaanse letterkunde. Wat mens soek is 'n hele afdeling waar die letterkunde geregtig is op 'n bladsy of wat, gereeld; 'n interim tussen die verskyning van letterkundige tydskrifte. (RAPPORT is 'n uitsondering.) Ek dink die radio en T.V. dra heelwat by, Nick. Die skrywers het filmsterre en stemsterre geword.

Dis verblydend dat Insig en De Kat, Time en Life, so 'n toenemende aandag aan die letterkunde gee, weekliks en maandeliks.

Ons het geen probleem wat die literatore betref nie - binne hulle veld sê hulle hulle sê by wyse van tesisse, asook opstelle, asook via hulle studente, asook deur hulle publikasies, hulle ontledings van die stand van die letterkunde wat dikwels leesbaarder en interessanter is as die besondere teks.

Ekself het in hierdie onheil verval: ek lees liewer wát oor 'n boek gesê word, eerder as om die boek te lees.

Terwyl ek kudu's uitdeel moet ons dink aan die afsterwe van Standpunte wat deur die jare die paragon van ons letterkunde was, dikwels vervelig, maar menige jong skrywer sou sy oogtande gegee het om 'n plekkie te kry in hierdie magasyn waar Afrikaanse denke bewaar word. Die Tydskrif vir Letterkunde word nou die belangrikste literêre tydskrif omdat hy nooit só esoteries geword het om nie die ongekeurde nuwe talent 'n geleentheid te gee nie. Baie van die suksesvolle rumoerige jong skrywers het op 'n stadium hulle werke in die Tydskrif vir Letterkunde gesien. Daarná het STET verskyn wat eintlik 'n voortreflike vormgewing was van Johan van Wyk en Vanda van Spyk se underground in die jare sewentig. STET is die wipplank van waar menige van ons beste jong skrywers soos sterre op die horison verskyn.

Daar bestaan ook 'n magazine of arts wat 'n goeie beeld is van Suid-Afrikaanse Engelse skryfwerk, genaamd Upstream. (Intreegeld R12 'n jaar vir kwartaallikse verskynings, Posbus 253, Rondebosch, 7700, Republiek van Suid-Afrika.) Autumn 1988 noem die volgende name: Driver, Gordin, Hugo, de Wette, Ntleki, Swift, Watson, Roberts, de Bruin, Woodward, Ferguson, Roberts, Wicomb, Cullinan, Rabie, Macnab, Greig en Butler. Ek los hulle voorname uit om u op 'n speurtog te plaas want vanne is misleidend. Aangesien ek myself as 'n soort publisiteitsagent sien op die oomblik, maak ek gebruik van dié geleentheid om byvoorbeeld Aankoms uit die skemer van Prog-uitgewery, St. Helenabaai vir u te noem.

Om 'n fokus op '80 te bepaal is 'n onmenslike opdrag, en daarom het ek besluit om nie ons kudde skrywers se werke by name te noem nie. Ek is nie God-Allemagtig in staat om die weefsel en die tapisserie van ons skeppings, selfs op fabrieksvlak, kosmies te verduidelik nie. Ons is baie na aan die draai van 'n eeu; sal daar nie oor 'n eeu die vraag aan ons, die skrywers van Tagtig, gestel word nie: "Can these bones live?" (Clausen in The Sewanee Review, 1988).

Soos ek die gees van hierdie simposium aanvoel lyk dit vir my asof die ontploffing van die kortverhaal 'n belangrike deel van die besprekings sal wees. In Amerika word gepraat van "the outporing of short fiction that has characterized the past few years". Wat vir my van belang is, is tot hoe 'n mate die kortverhaalskrywer sy werke as 'n aanloop sien tot 'n kort roman, en later 'n lywige roman, want die beplande afsydigheid van die kortverhaal deesdae in terme van 'n duidelike begin, middel en einde dui daarop dat hulle wel daardie aspirasies het. Daar word gesê dat die kortverhaal vandag net 'n middel het. Die romanskrywer skryf "plot"-loos, en hy kan luiweg uitbrei; hy het die wêreld se tyd om 'n berekende eindpunt met allerhande kronkelings te bereik. Indien dit só is, dan sien ek binne 'n dekade of wat 'n nuwe reeks romanskrywers wat ons aarde sal laat skud. Maar mens sal verlang na goeie kortverhaalskrywers wat in die tradisie van Angus Wilson hierdie medium sal handhaaf. Daar word in Amerika gesê dat die Akademies met hulle literêre tydskrifte en hulle publikasies, die kortverhaal in sy post-modernistiese vorm gedurig sal dra. Mens kan dit verstaan want ons het ook plaaslik akademiese laboratoriums wat die kortvorm en die digkuns vir hulle leerlinge leer. Maar wie kan iemand leer om 'n roman te skryf? Andersom: wie kan 'n romanskrywer leer om 'n gedig te skryf?

En nog is die einde nie daar in terme van my sleuteltoespraak nie. Wat van die skrywers van die Kaapse Vlakte, die skrywers van Soweto, en die menigvuldige skrywers wat die land uitgewyk het? en wat van die skrywers wat in 'n volkstaal skryf? Ek hoop daar is genoeg eksponente teenwoordig in hierdie simposium om die beeld van '80 uit te dra. En wat van die merkwaardige groei van die drama soos aangedui in die onlangse fees in Grahamstad? En die kabaret?

Oorsigtelik, dus, 'n merkwaardige '80 waar Suid-Afrikaanse skrywers hulle vleuels strek buite ons landsgrense. Indien daar 'n kulturele boikot bestaan dan is die internasionale mafia van die letterkunde besig om ons hartsaar af te sny. Ons is nie van die Familie nie. Ek verlang na goeie buitelandse vriende op die gebied van die letterkunde wat volgens hulle Kollektiewe gewete nie in staat is om die land van apartheid te besoek nie. Wat kan die skrywers daaraan doen? Sal ons maar ons talent groepsgewyse aanwend om apartheid tot 'n val te bring? Wat word intussen van die enkele skrywer wat ongeregtighede en verset op sy eie manier verkondig? En wie de hel is die skrywer om te dink dat hy hoegenaamd enige invloed ter lande het? Ons is almal die Ape van God, en die mense lag hulle dood.

Ons moet ons verlaat op leserskringe wat soos 'n suurdeeg werk om wat geskryf is deur die land te versprei; asook op biblioteekdienste en die streeksbiblioteek van die Oranje-Vrystaat wat hierdie simposium moontlik gemaak het. Die feit dat soveel skrywers, literatore, en mense van die media deelneem dui daarop dat die leser nie onderskat moet word nie: trouens hy is everyman wat uiteindelik die lot van alle geskrewe werk bepaal, en hy is eintlik die een wat besluit of 'n besondere werk die reg op bestaan binne 'n tydsverband het. Hierdie everyman kan wissel van 'n leek tot 'n besondere vakkundige op alle gebiede denkbaar. Ons ken Heil die leser as 'n opskrif vir 'n getuigskrif.

Ons wag angstig vir die opskrif van die lesers as 'n getuigskrif van ons werke in die jare 80.

Al wat ek kon vind is:
"Huil die leser?"

Persoonlike gereedskap