Filmbase wedywer om Silbersteins

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Alain Resnais een van hulle

Sewe dae by die Silbersteins, Etienne Leroux se omstrede roman wat nou, agt jaar ná sy verskyning, nog dikwels die middelpunt van Afrikaanse literêre rusies is, het ook 'n relletjie in Amerika veroorsaak. Twee groot rolprentregisseurs baklei oor die filmregte van die boek.

Die twee is Peter Brook en Peter Glenville, albei regisseurs van naam. Brooke het o.m. Marat/Sade en Lord of the Flies, verfilm, terwyl Glenville veral bekend is om sy regie van Hour of the Comedians, wat op die roman van Graham Greene gegrond is.

Om alles te kroon, het hierdie twee nou 'n gedugte Franse mededinger gekry: Alain Resnais, die man wat o.m. l'Année shima Mon Amour en l'Année dernière à Marienbad verfilm het. Resnais het net onlangs aan Leroux selfs gesê dat hy daarin belangstel om Silbersteins te verfilm.

Brook het al 'n hele ruk gelede, verlede jaar ná die Engelse vertaling van Leroux se werk in Amerika beskikbaar gestel is, te kenne gegee dat hy dit graag sou wou verfilm. Hy het dadelik onderhandelinge begin aanknoop om die roprentregte van die werk te koop. Omdat Brooks egter 'n onafhanklike regisseur is (hy werk nie vir die een of ander groot maatskappy nie), moes hy eers 'n borg kry. Daarom dat die onderhandelinge oor die rolprentregte so gesloer het.

Intussen het Graham Greene Leroux se roman gelees en dit hoog aangeprys. Hy het Glenville, wat op daardie tydstip net klaar was met Hour of the Comedians, daarvan vertel en Glenville het dadelik belang gestel. Maar toe was Brook se onderhandelinge reeds ver gevorder en Glenville het vir eers die gedagte om die werk te verfilm, laat vaar.

Glenville het intussen weer navraag gedoen oor die rolprent regte en op die oomblik is dit 'n stryd tussen hom en Brook oor wie die kontrak die eerste gaan onderteken.

Intussen het die Franse regisseur Resnais ook bygekom. Resnais is verreweg die beste regisseur van die drie, en dit sal dus 'n groot eer wees as hy Silbersteins op die ou end verfilm.

Brook, wie se planne in elk geval nog die verste gevorder het, het reeds gesê dat hy Silbersteins in Suid-Afrika wil verfilm as hy die regte sou kry.

Persoonlike gereedskap