Etienne gaan nóú skryf (Beeld, 1970-11-05)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Die Hertzogpryswenner Etienne (Sewe Dae by die Silbersteins) Leroux (skryfnaam van mnr. Stephen le Roux, 48, van Koffiefontein) skryf nie net aan 'n nuwe boek nie. Gister het hy ook 'n nuwe vrou gekry en sê: "Nou gaan ek éérs lekker skryf!"
"En my werk gaan nié minder omstrede wees nie."
In Bloemfontein is hy gisteroggend getroud met mej. Elize Joubert, 32, die mooi pianiste. By die onderwyskollege in Bloemfontein is sy 'n lektrise in musiek en tree vir Sukovs op.
"En ek gaan nie nou vir die kunswêreld verlore wees omdat ek getroud is nie. Klavieruitvoerings sal ek nog gee, maar nie meer lang uitgerekte musiektoere vir my nie," sê sy.
Twee maande gelede het hulle verloof geraak nâ 'n eerste ontmoeting in November verlede jaar. Met die Sestiger-week in Februarie het die liefde eers geblom.
Hulle was albei voorheen getroud.
In Mei verlede jaar is hy geskei van sy eerste vrou, mev. René le Roux, 'n skilderes wat nou ná 'n onderbreking van sewe jaar weer begin skilder. Haar uitstallings in Bloemfontein trek baie mense.
Beskeie
Dit was ook sewe jaar gelede dat mej. Joubert ná 'n kort huwelik van haar man geskei is. Daar was geen kinders nie.
Mnr. Le Roux se seun, Stephanus, wat op die Grey Kollege skoolgaan, was by sy pa se troue. Sy twee dogters Helise (mediese student van Stellenbosch) en Cherie (kunsstudent van Tukkies) kon nie kom nie.
Die troue was stil en beskeie in die pastorie van die moedergemeente. Sy mede-sestigerskrywers en vriende was nie by nie, net 'n paar familielede. By die Hotel President is hulle onthaal.
Dáár het hy en sy nuwe vrou die nag oorgebly.
Vandag us hulle weg na sy plaas Janee by Koffiefontein.
Vir wittebrood is daar nou nie tyd nie -- "Ons het te veel werk. Elize moet eers wag tot die Onderwyskollege sluit en ek werk aan 'n nuwe boek: Na'Va (dis 'n half Hebreuse naam)," sê hy.
"In Februarie 1972 eers kom die lang groot reis vir wittebrood."