Etienne Leroux het 'n kas vol briewe van waardering (Dagbreek en Sondagnuus, 1964-08-09)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

'n Paar predikante, o.a. N.G. predikante, bestempel Etienne Leroux se Hertzog-prysboek, "Sewe Dae by die Silbersteins", as "'n morele boek" in briewe wat die skrywer van hulle ontvang het.

"Tot dusver het ek nog net een brief ontvang waarin die boek veroordeel word", het die skrywer Leroux gesê toe Dagbreek hom die afgelope week op sy netjiese plaas Janee naby Koffiefontein besoek het.

Die skrywer van die brief aanvaar dat die strekking van die boek nie moreel is nie en veroordeel dit op grond daarvan. "Nietemin is die brief in 'n goeie gees geskryf en het die man se ernstige beroep op my om meer sogenaamde morele boeke te skryf, my getref."

Goeie begrip

Mnr Leroux vertel dat hy reeds "'n kas vol briewe oor sy boek ontvang het. Heelwat van die briewe kom van letterkundiges."

Van die briewe sê die skrywer: "Ek was verbaas om te sien hoeveel begrip die mense wel van die boek het."

Een van die briewe wat die grootste indruk op hom gemaak het, het hy die afgelope week van 'n st. VIII-seun uit Pretoria ontvang. "In die brief gee die seun 'n intelligente uitleg van die boek. Hy het presies geweet waaroor alles gaan."

Mnr Leroux wys daarop dat die jong briefskrywer vir hom 'n treffende stelling in die brief gemaak het, nl.: "As ouers nie soveel na sosiale eer en roem gestreef het nie, sou daar vandag nie soveel verwording onder ons jeug voorgekom het nie."

Tot dusver het hy nog geen brief met snedige of bytende aanmerkings ontvang nie. Inteendeel hy vertel dat hy baie briewe ontvang het van mense met soortgelyke persoonlike probleme as dié van die karakters in die boek.

Die meeste van die mense skryf dat hulle baat gevind het by die boek.

Beperking?

"In 'n ander brief word ek gevra om dringend 'n skets te stuur van 'n sogenaamde sestienvoetige agterhuistafel. Die persoon het selfs 'n lugposkoevert ingesluit vir die skets."

Mnr Leroux sê die "openbare lawaai" oor sy boek het die gevolg "dat ek nou die gevoel kry dat iemand oor my skouer loer wanneer ek skryf. Ek wil nog baie eksperimenteer met romans en hoop dus ek sal die gevoel kan afskud voordat ek my volgende boek skryf. Ek is net bang dat die lawaai 'n beperkende invloed sal hê en hoop dat dit net tydelik sal wees."

Vir Etienne Leroux is daar eintlik geen verskil tussen die groep wat sy boek veroordeel en die ander groep wat dit steun nie. "Hulle is almal tog goeie Afrikaners, moraliste en ontwikkelde mense".

Hy sê dat die mense wat sy boek op morele gronde veroordeel, nie die strekking van die boek begryp nie. "En dis my vernaamste beswaar teen die mense".

Die botsing oor sy boek het ontstaan as gevolg van die verskillende uitgangspunte van die moralis en die skrywer.

Geen traktaat

Hy sê: "Die skrywer skryf oor die hele mens - en dit sluit goed en kwaad in. Dit is egter die moralis se plig om op die foute van die mens te wys en dit duidelik te veroordeel. Daarom meen ek dat bv. predikante die volste reg het om mense aan te raai om die boek nie te lees nie."

Mnr Leroux beklemtoon dit dat "ek net soveel gekant is teen die bose as die moraliste. Ek skryf nie 'n traktaat nie, maar my uitgangspunt is net so moreel soos hulle s'n. As ek egter doen wat hulle van my verwag, kan ek nie anders as om 'n swak boek te skryf nie."

Hy sê dat dit absoluut noodsaaklik is dat 'n skrywer "vry" moet wees. "Net oneerlike skrywers sal misbruik van die vryheid maak. 'n Mens moet ook altyd onthou dat die onwelvoeglike skrywer vir die massa skryf. En geeneen van ons sogenaamde Sestigers maak ons hieraan skuldig nie."

Persoonlike gereedskap