Etienne Leroux en Graham Greene: 'n eerste ontmoeting (By, 2008-04-25)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Op ’n dag in September 1967 ontvang Etienne Leroux ’n brief met onderaan ’n onduidelike handtekening wat hy as dié van Graham Greene ontsyfer. En só ontstaan ’n vriendskap tussen hierdie twee skrywers wat dekades sou duur. In hierdie, die eerste van twee artikels, vertel J.C. Kannemeyer meer oor dié vriendskap.
Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, sy roman wat in 1962 gepubliseer is en in 1964, terwyl ’n landwye polemiek daaroor aan die gang was, met die Hertzogprys bekroon is, het in 1967 as ’n vertaling deur Charles Eglington by die prominente Amerikaanse uitgewersfirma Houghton Mifflin verskyn. Die aanvanklike besprekings oor die vertaling was geesdriftig, maar baie van die resensente het probleme gehad met die vreemde, fantasmagoriese wêreld wat Leroux in sy roman opgebou het.
In September 1967 ontvang hy uit die bloute ’n brief, eintlik ’n kort nota, gedateer 30 Augustus 1967. Onderaan die brief was die onduidelike handtekening van die skrywer wat hy, tot sy verstomming, as dié van Graham Greene kon ontsyfer, ’n skrywer wie se werk vroeg reeds baie sterk tot hom gespreek het.
In sy kort nota skryf Greene: “You must believe me when I say that I am not in the habit of writing ‘fan’ letters, but even before I have finished reading Seven days at the Silbersteins I must send an old man’s signal towards you of excited admiration. It’s 10 o’clock at night, I have dined well, & I want to leave the second half of your book till tomorrow, when my mind will be clear again. With great admiration, yours, Graham Greene.”
Só verras was Leroux met dié brief dat hy aanvanklik nie kon glo dit is werklik die regte Graham Greene nie! In ’n brief wat Koos Human op 18 September 1967 van hom ontvang, weet hy steeds nie of dit werklik die skrywer is wat hy sedert sy jong jare al so bewonder het nie. In dié brief vra Leroux of sy uitgewer nie deur middel van sy Amerikaanse agent kan vasstel of die adres by die nota inderdaad dié van Greene is nie.
Maar dit was die regte Graham Greene en Leroux was in ekstase, want dieselfde jaar kies Greene die Silbersteins in The Observer as sy “boek van die jaar”. Aan sy penmaat wat as mej. X in 18-44 optree, later bekend as die skrywer Ingrid Winterbach, laat hy weet: “Ek het ’n ‘fan-letter’ gekry van Graham Greene. Ek tól soos ’n tol.” Dit was die begin van ’n vriendskap wat tot Leroux se dood sou voortduur.
Wanneer Een vir Azazel, die vervolg op die Silbersteins, in 1968 onder die titel One for the devil deur Houghton Mifflin gepubliseer word, skryf Greene in Life van 12 April 1968 een van die belangrikste buitelandse resensies oor ’n boek van Leroux. Hy gee ’n opsomming van die inhoud en haal die gedeelte aan waar die “slank” Mrs Silberstein speurder-sersant Demosthenes H. de Goede kielie: “What a pleasure it is to welcome the mandarin style again after too many years of the plain, the rough, the staccato, in this remarkable translation by Mr Charles Eglington.[ . . . ] Mr Leroux writes his books in static scenes; between them he allows his camera to track rapidly and wildly around his location. The influence of the cinema is clear – not the conventional cinema but the cinema of Robbe-Grillet or Godard. Dr Johns serves the narrative much as the colored subtitles of Godard serve his films, not explanatory, but ironic, decorative, absurd. As the appearance of the great bull Brutus to my mind supplied the finest scene in Seven days, Brutus’ tiny schizophrenic offspring does the same here – when Dries, the secretary of the Stud Farmers’ Society, lectures on his new breeding policy with a built-in birth control based on Pavlov. Other scenes, terrible and comic, rival it: the occasion when the white guests of the Foundation visit the African quarters, the funeral of Lila, the death of the poor Giant.”
In die New York Times van 14 April 1968 maak Greene ’n uitspraak na aanleiding van One for the devil – een van die belangrikste en insiggewendste kommentare wat daar ooit oor Leroux gemaak is: “Mr Leroux will not find an instant-audience; his novels are too original for that. They tease, they trouble, they elude. His audience will be the audience that only a good writer can merit, an audience which assembles slowly from far away in ones and twos; while the big book club motor-coaches hurtle down the highway towards oblivion, the rumor spreads that here an addition will be found to the literature of our time.”
Met hierdie internasionale belangstelling in sy werk het Leroux gevoel dat hy na Europa moet gaan om met Britse uitgewers oor sy werk te onderhandel, maar veral om Greene persoonlik te ontmoet.
Ná besoeke aan Londen en Parys vlieg hy, soos hy later in sy roman Isis, Isis, Isis ... sou skryf, “met ’n lied in my hart op pad na Nice, waar die vliegtuig ’n draai oor die Middellandse See maak en saggies neerstryk op die lughawe onder die stuurmanskap van ’n Franse loods met dieselfde lied in sy hart as myne”.
Op die lughawe van Nice ontmoet hy Greene die eerste keer, die skrywer wie se boeke hy, soos dié van Evelyn Waugh, al die jare getrou en met groot bewondering gelees het. Nog voor die ontmoeting wis hy dat daar tussen hom en Greene op meer as een vlak ’n verwantskap bestaan en dat hulle geestelike maats sal wees.
In ’n onderhoud met M.C. Botha jare later sou hy dié verwantskap soos volg formuleer: “ ’n Sin vir avontuur, die aftakeling van die establishment wat ons eintlik liefhet, ’n sin vir die ironiese, ’n satiriese instelling, ’n religieuse aanvoeling, ’n rebelsheid, ’n woede, en ’n gevoel van innerlike vryheid wat niemand ons sal ontneem nie?”
Daarby was daar in die werk van Greene ook ’n stryd tussen die bose en die goeie en die simpatie met die vervolgde, die gejaagde, iets wat by Leroux in die figuur van die Reus in Een vir Azazel en in Boris Gudenov in Die derde oog uitslaan.
Op ’n heeltemal ander wyse as by Greene is daar ook by Leroux die motief van verraad: verraad as ’n obsessie, sy oorsprong, sy aard, sy voorkoms in die wêreld as ’n maladie, “its necessity the unstated part of every man”.
By sy aankoms op die lughawe het Leroux sy swart baadjie aan met ’n rooi Spaanse serp en sy hare is verwaaid. Hy herken Greene dadelik op grond van sy foto’s en die beskrywings van biograwe: “Hy was onmiskenbaar Graham Greene: die lang man met yskoue blou oë, sy klere vaagweg bruin en glad nie gestileerd nie. Langs hom was sy mooi Franse vriendin Yvonne. Toe val my horlosie van my arm af, sowel as my rugsak, en Graham sê met deernis: ‘You always drop things.’ ”
Hulle neem hom na die skilderagtige Saint-Paul de Vence tussen die berge na een van die beroemdste eetplekke, La Colombe d’Or, waar die patroonkan spog met oorspronklike skilderye van Picasso teen die mure. Hulle sien Yves Montand en Simone Signoret, maar Leroux vind hulle, volgens 'n aantekening in sy dagboek, "verveeld en hardegat" en hulle staan hom nie baie aan nie. Daar is 'n klomp lesbiese vroue op die dorpie, vertel Greene hom, almal die eienaars van antiekwinkels.
Terwyl Leroux oor die pragtige landskap uitkyk, vra hy uit oor die dood van Evelyn Waugh, vir wie Greene goed geken het. "Did you know that he died with his head in a thunderbox?" Greene en Yvonne neem hom na die Hotel Royale in Antibes, waar hy in 'n hotelkamer met 'n balkon en 'n uitsig oor die see tuisgaan.
Op sy besoek was dit Leroux se gewoonte om in die oggend die ou Antibes te verken, aangesien Greene soggens aan die werk was. Vir die middagete is hulle altyd uit op 'n ekspedisie na goeie eetplekke, maar dikwels eet hulle by Greene se geliefde plek: die Chez Felix by La Porte Marine.
In 'n artikel wat hy later sou skryf, gee Leroux 'n aanduiding van Greene se woonplek: "Sy woonstel is taamlik strakkerig, sy boeke beperk tot handgetekende eksemplare, 'n lelike skildery wat Castro gemaak het, 'n Gale-warning in die toilette, 'n diktafoon, malvas op die balkon, en 'n uitsig op die hawe waar jagte vasgemeer is. "Hy bespied 'n leë gebou aan die ander kant van die straat en hy glo dat daar allerhande smokkeltransaksies plaasvind. "Hy beskou my as naïef, maar iets kliek tussen ons. Daar is 'n eienaardige kombinasie van afsydigheid en betrokkenheid: 'n ironiese blik op politieke situasies, maar 'n besondere gehegtheid aan vriendskappe in die netwerk van internasionale politiek.
My aangenaamste herinnerings is wanneer hy my nooi na 'n goeie vriend van hom van die M.I.5. Terwyl hulle hulle gesamentlike jare in die geheime diens bespreek, wonder ek soms hoe die Geallieerdes die Tweede Wêreldoorlog gewen het.
Maar 'n mens moet nie die Engelse onderskat nie; dis hulle sin vir die ridiculous wat die Nazi's onkant betrap het."
Op sy besoek onderneem Leroux en Greene 'n sentimentele reis na die plek waar Scott Fitzgerald by die Murphies gewoon het, die agtergrond vir Tender is the Night, 'n roman wat, soos dieselfde skrywer se The Great Gatsby, Leroux na aan die hart gelê het. Aan Greene se sekretaresse skryf hy oor dié besoek: "I wrenched my heart a little bit when I saw the cross on the hill, very small, almost unnoticeable in the distance." 'n Mens kry die indruk uit sy talle uitlatings dat Leroux van hul eerste ontmoeting af 'n besondere verhouding met Graham Greene gehad het. Die artikel wat hy oor Greene skryf, gee 'n aanduiding van die groot verering: "Ek het niks teen die Swede nie, behalwe dat hulle nooit die Nobelprys aan Graham Greene toegeken het nie. Vir dekades was hy al 'n moontlike wenner, maar telkens het 'n onverstaanbare iets gebeur. Jare gelede byvoorbeeld The Power and the Glory, The Heart of the Matter en The End of the Affair. Een van die grootste skrywers in daardie tydvak is misken. In die jare daarna het dieselfde gebeur. Toe Böll die Nobelprys gekry het, het hy genoem dat dit eintlik Graham Greene toekom. Graham is 'n skrywer wat die onmoontlike reggekry het: om kontemporêr te skryf, reg in die middel van 'n politieke situasie, en tog met 'n agtergrond van 'n geloofservaring. Sy kritici het altyd gesê: 'There is always the confessional in the background.' Ek dink nie dat Graham hiervan gehou het nie. Hy is die grootste individualis wat ek ken, en hy wil nie gekatalogiseer word nie. (Ek weet dat die woord 'gekatalogiseer' hom woedend sal maak.)"
In die jare wat kom, sou Leroux Antibes en Greene 'n hele paar keer besoek, en in die jare sewentig sou Greene ook 'n besoek van ses weke aan Leroux in Suid-Afrika bring. Deur hul rebelsheid, stroomop-geaardheid en ironiese kyk op dinge was hulle geesgenote wat veel vir mekaar te sê gehad het, maar inherent in albei was daar ook 'n onuitroeibare eensaamheid en 'n opperste individualisme.