Etienne Leroux Sestig: 1922 - 1982 (Vrystaatse Biblioteke, 1982-04-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Dr. H.P. van Coller
Dept. Afrikaans en Nederlands
UOVS

Etienne Leroux (skuilnaam van Stephen Petrus Daniël le Roux) is op 13 Junie 1922 op Oudtshoorn gebore. Ná sy skoolopleiding aan die Grey-kollege in Bloemfontein, studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die grade B.A. en LL.B. behaal. Na 'n paar jaar se werk in 'n prokureurskantoor in Bloemfontein, en nadat hy ook 'n tyd lank in die buiteland was, gaan boer hy in 1944 op die familieplaas "Janee" naby Koffiefontein.

Ná die verskyning van sy eerste romansiklus (Die eerste lewe van Colet, Hilaria en Die mugu), publiseer hy in 1962 die omstrede Sewe dae by die Silbersteins - die eerste Sestigerwerk wat ook oorsee gepubliseer is. Daarná volg verskeie romans, waaronder Een vir Azazel, 18-44 en Magersfontein, o Magersfontein! In 1980 publiseer Leroux die bundel, Tussengebied, waarin hy literêr-teoretiese kanttekeninge by sy eie werk verskaf. Tesame met hierdie bundel het ook verskyn 'n aantal vroeë kortverhale en 'n reeks outobiografiese sketse in Tussenspel.

Die Hertzogprys is by twee geleenthede aan Leroux toegeken: in 1964 vir Sewe dae by die Silbersteins, en in 1979 vir Magersfontein, o Magersfontein! Vir die laasgenoemde werk het Leroux in 1977 ook die CNA-prys ontvang. In 1981 is die Perskorprys aan hom toegeken vir sy bindel Tussengebied.

Op 13 Junie vanjaar is Etienne Leroux se sestigste verjaarsdag op luisterryke en bykans ongeëwenaarde wyse herdenk: tydskrifte is aan hom opgedra, huldigingspublikasies sien die lig en feesetes word oor die lengte en breedte van die Republiek gereël. Hierdie verheerliking van wat al geringskattend genoem is "die mens-agter-die-boek" is tewens bevestiging van sy statuus as skrywer. Benewens die letterkundige toekennings wat hy ontvang het - die Hertzogprys te midde van stormagtige omstadighede - word 'n ere-doktoraat in 1978 aan hom toegeken deur die Universiteit van Natal. Min ander Afrikaanse skrywers kan daarop aanspraak maak dat hul om suiwer literêre redes in die buiteland nie alleen gelees word nie, maar in feite bestudeer word, sélfs aan Europese universiteite.

Die opname van drie van sy werke in Penguin Modern Classics is ook 'n besondere huldeblyk aan 'n skrywer wie se werk as hermeties en esoteries bekend staan. leroux se werke is vir buitestaander uiteraard hoofsaaklik in vertaalde vorm toeganklik, maar adem so 'n onmiskenbare (Suid-)Afrikaansheid dat met goeie reg beweer kan word dat Leroux 'n belangrike bres geslaan het vir die (Suid-)Afrikaanse taal- en kultuur.

Leroux se invloed op die (Suid-)Afrikaanse letterkunde én letterkundetoneel kan moeilik na waarde geskat word. Sy talle uitsprake oor die taak en probleme van 'n kontemporêre Suid-Afrikaanse romanskrywer het wyd gekring en diskussie gestimuleer. As biegvader van talle jong skrywers was hy indirek verantwoordelik vir verskeie debute. Leroux se voortdurende stroom neologismes het ons woordeskat verryk en sy "slordige" Afrikaans was (dankbare) filoloë se voer. Maar sy oeuvre het veral eksegete en kritici gestimuleer. 'n Mens sou sonder vrees vir teëspraak kon beweer dat daar meer kritiese studies, besprekings, verhandelinge en proefskrifte om Leroux sentreer as om enige ander Afrikaans outeur. leroux se oeuvre het eise aan die Afrikaanse prosakritiek gestel wat vergelykbaar is met die situasie rondom Opperman in die poësie. Dit is daarom ook nie vreemd dat bykans al ons "groot" kritici hul hand, metafories gesproke, die een of ander tyd aan Leroux gewaag het nie. In vele gevalle (Kannemeyer, Van Rensburg, Brink, Botha) is die Leroux-studies van hul knapste werk. Soos in die hoogbloei van die hermeneutiek is die paring van 'n goeie literêre teks en 'n knap kritikus 'n uiters gelukkige moment en het dit telkens in die onderhawige geval hoogtepunte in die Afrikaanse literatuurkritiek tot gevolg gehad. Die keersy kan egter nie onvermeld bly nie: weinig Afrikaanse skrywers het nog op soveel onbegrip en kwaadwillige kritiek gestuit, en weinig Afrikaanse skrywers het, sonder eie toedoen, gesorg vir so 'n polarisasie tussen literatore en publieksgroeperinge.

Juis as gevolg van hierdie literêre solidariteit was Leroux-studies aanvanklik nog te eensydig - ophemelend, té eksegeties, té veel weergawe van wat "bedoel" word en word die vakman Leroux eers in die afgelope paar jaar in die visier gestel.

KENSKETSING VAN SY OEUVRE

Etienne Leroux se werke tot en met Na'Va vorm 'n merkwaardige eenheid: dit is 'n geheel van dele met 'n standhoudende kern, naamlik die psigologiese opvattings van Carl Gustav Jung te wete die versoening van Bewuste en Onbewuste en die bereiking van die nuwe self. Hierdie individuasieproses, soos Jung dit noem, figureer in Leroux se werke dikwels as 'n religieuse ervaring, 'n mistieke eenwording met Christus. Die basiese tema word voortdurend herhaal, maar ook ontwikkel. In die eerste siklus is psigologiese en mitologiese parallelle bloot oppervlakkig aanwesig (Hilaria) of redelik verskuild (Die mugu). In die tweede siklus groei die mitologiese uit tot Die derde oog waar feitlik alles wat op die verhaalvlak gebeur, 'n mitologiese teenhanger het. Dit is nie meer "flardes mites" soos in Die mugu nie, maar as't ware verskeie intakte mites. In die laaste siklus herlei die knolskrywer wat as verteller optree alles tot die mitologiese, eintlik die teenoorgestelde proses van die eerste siklus. Hy probeer nou om in elke gebeurtenis dieper betekenisse te lees; sodoende word hy die Hermes-figuur wat die boodskap van die gode uit alles probeer aflees. Die laaste siklus lyk daarom oper en eenvoudiger en dit het 'n oppervlakte-struktuur wat die banaliteit van die huidge tyd uitdruk. Onder hierdie oppervlakte skuil egter die ewige waarhede wat as korrektief dié oppervlakte se teenhanger is. Daar mag nooit uit die oog verloor word nie dat Leroux 'n satirikus is wat 'n morele boodskap in al sy werke verkondig hoewel die satiriese rapiersteke in Sewe dae by die Silbersteins later plek maak vir die knuppel van satire in Magersfontein, o Magersfontein! Leroux se groot siklus is egter 'n raak diagnose van ons eie tyd en word as sodanig gekenmerk deur 'n toenemend-betrokke stem wat op gevarieerde wyse die een oorkoepelende waarheid van reddende hergeboorte verkondig.

In Leroux se oeuvre vind die hele moderne era neerslag, sê F.I.J. van Rensburg. Tog ontkom 'n mens nie aan die indruk nie dat dat dit primêr die moderne in sy Suid-Afrikaanse gestalte is. Daarvoor is talle bewysplase in Leroux se werke aan te voer. Die boeiende jukstaponering van bv. 'n Bolandse rykmansbestaan en 'n Europese Middeleeuse of Renaissancistiese sfeer gee trouens dikwels aanleiding tot van die geslaagdste effekte in Leroux se werk. Hierdie jukstaponering is ook 'n satiriese middel: die huidige tyd word telkens gekontrasteer met 'n vroeër ideëler toestand (bv. Magersfontein) óf daarmee in verband gebring (Sewe dae) waardeur die satiriese norm van die outeur duidelik blyk.

Hoewel Leroux veral die Afrikaner in sy moderne gedaante beskryf - Die derde oog en Na'Va is nog steeds toekomsvisioene - slaag hy ook daarin om as't ware die Afrikaner se hele geskiedenis saam te bal in sy oeuvre, hoewel op implisiete wyse. In sy werk ontwikkel die Afrikaner van Kaapse ingesetene en binnelander (Die eerste lewe van Colet) tot Bolander (Sewe dae); en mettertyd tot wanaangepaste stedeling (Die derde oog) en oplaas tot bemiddelde en verveelde wêreldreisiger. Magersfontein vul 'n belangrike hiaat en is 'n veel eksplisieter peiling van die Afrikaner se geskiedenis, plek-plek selfs 'n ontmitologisering daarvan. Getrou aan sy werkswyse word die kontemporêre herbelewing- en interpretasie van "'n mite" - deur Leroux getransformeer tot patetiese travestie van die oorspronklike in sy werk. Elize Botha noem Leroux tereg kommentator op die Suid-Afrikaanse sosiale werklikheid.

Geoordeel volgens alle geldige kriteria in die literatuurwetenskap, staan Leroux se status as skrywer bo verdenking. Vir hom kan daar vanjaar geen groter huldiging wees as dat die Afrikaanse leser sy werke opnuut óf vir die eerste keer sal lees nie. Oor die literêre kommunikasie proses het Leroux self die volgende te sê gehad:

"'n Mens kan 'n gesprek met 'n boek voer. Jy kan dit weer en weer lees. Jy sal altyd iets van jouself daarin vind. Dit sal die skeppende vermoë in jouself prikkel. Dit sal jou uit die vallei haal en op 'n bergspits plaas vanwaar jy miskien vir die eerste keer sal besef waar jy bly en, as jy gelukkig is, jou help om al daardie vrae te beantwoord waarvoor jy in die verlede geen antwoord kon kry nie" (Tussengebied, p.49).

Vir 'n kontemporêre Afrikaanse leser bied Leroux se werk 'n kaleidoskopiese blik op sy eie tyd en samelewing. 'n Ontmoeting met 'n Leroux-werk sal dalk onthutsend wees, selfs skokkend. Hy wat hom egter die moeite troos om volhardend te soek na die boodskap in al Leroux se satiriese werke sal ook sy eie gesig in die spieël waarneem. Soos Jean Weisgerber gesê het:

"Satire is a roundabout way to the truth."

En is die waarheid nie juis wat ons vandag nodig het nie?

[Foto en biografiese inligting beskikbaar gestel deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum.]

Persoonlike gereedskap