Etienne Leroux Gesels (Die Burger, 1976-11-17)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Magersfontein en die ironie
Etienne Leroux het op sy plaas Janee, naby Koffiefontein, met Ronél van der Merwer gesels oor sy jongste roman, "Magersfontein, O Magersfontein".
--
Etienne Leroux se jongste roman, Magersfontein, O Magersfontein, was by sy uitgewer voor die onluste in Soweto begin het en in die roman het hy hierdie geweld wat soos 'n "watervloed" oor Suid-Afrika spoel, voorsien.
'n Skrywer kan die rigting waarin 'n situasie of gebeure afstuur, visionêr sien en ervaar, het Leroux gesê. Hy het die huidge geweld en situasie lankal reeds uitgespel, onder meer in Sewe Dae by die Silbersteins (1962) waarin die kerk en die lokasie aan die brand gesteek word.
Etienne Leroux glo dat die betrokkenheid van die Afrikaanse skrywers in die verlede te eng en te tydsgebonde was op die gevaar af dat hul werke maklik eensydig kan wees of vinnig dateer.
"Ons leef egter in so 'n interessante tyd, waarin dinge so vinnig verander dat 'n skrywer dit eenvoudig moet benut. Ek sou graag oor Soweto en Angola wou skryf, maar 'n mens moet dáár wees om dit self te beleef. Ek sit te afgesonder hier," sê hy.
Leroux meen 'n skrywer kan die probleem van plek- en tydsgebondenheid deur ironie oorbrug soos in Magersfontein... die geval is. Deur ironisering kan die skrywer feite en situasies relativeer waardeur dit die beperking van hier-en-nou afskud en 'n meer universele geldigheid verkry.
IRONIE
Ironie is natuurlik ook 'n handige verdedigingsmeganisme vir 'n skrywer. Hy kan agter ironie skuil en niemand kan sê dis die skrywer wat dit of dat sê nie, "Ek is seker die enigste skrywer wat in my boek van 'n 'kaffir' kan praat en niemand kan my verkwalik nie."
Die pers skep ook vir die hedendaagse skrywer probleme, sê Leroux. Koerante maak deesdae soveel van kenners gebruik om politieke kommentare te skryf "en só avant-gardisties" dat dit geweldige eise stel aan die skrywer om in sy werk met 'n perspektief te kom wat geldig is en nog nie al te vuil gevat is deur te veel hande nie.
Leroux het nie onmiddelik planne vir 'n nuwe boek nie. Hy sal egter waarskynlik net wag tot Magersfontein... se verkope goed op dreef is, voordat hy weer begin.
"Die probleem is natuurlik waarheen nou ná Magersfontein," sê hy. Dis moontlik dat sy jongste werk weer die begin van 'n reeks kan wees en dat hy hierna een van die wêreldoorloë as mitiese onderbou gebruik - hy het 'n mite as "kapstok" nodig, beken Leroux - en dan oor "die Derde Wêreldoorlog" skryf. Hy oorweeg dit egter ook om 'n bietjie "vingeroefeninge" te doen met die kortkuns.
Magersfontein... lê Etienne Leroux baie na aan die hart. Hy vertel dat hy geweldig gespanne was die week net na die roman verskyn het en voordat die eerste resensies gepubliseer is. Maar dit lyk of die meeste kritici gaan saamstem dat dit sy beste werk tot dusver is, en daar is reeds belangstelling om dit te vertaal.
SAAMLEEF
Hoewel Leroux die boek nie weer gelees het nadat dit ter perse gegaan het nie - hy lees nooit weer sy eie boeke as dit gepubliseer is nie - gesels hy oor sy karakters soos net 'n man kan wat met hulle saamgeleef het, en hy is byvoorbeeld baie jammer dat hy die kleurlingkarakter Gert Garies laat doodgaan het. "Nou kan ek hom nie in 'n volgende boek gebruik nie."
Hy vertel oud-regter Kowie Marais was die een wat hom op die idee gebring het. Regter Marais het hom eendag die slagveld gaan wys en 'n interessante, hoewel heeltemal onwaar verhaal oor Magersfontein vertel.
"Maar ek het die gebruik en dit was 'n begin."
Hy het geweldig baie navorsing oor die geskiedkundige slag by Magersfontein gedoen en 'n geweldige klomp inligting ingewin. "Dis die eerste roman waar ek eenvoudig skopgrawe vol goeie stof moes uitgooi," vertel hy.