Etienne Leroux - die pad na die onsienlike (Die Burger, 1990-01-03)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Die skrywer met die donkerbril is dood. J.P. SMUTS, hoogleraar in die letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en Etienne Leroux-kenner, bring hulde.

--

Die nuus van die dood van Stephen le Roux, beter bekend onder sy skrywersnaam Etienne Leroux, het vroeg op Oujaarsdag gekom en is met skok ontvang deur sy familie, vriende, lesers en almal wat die belange van die Afrikaanse letterkunde op die hart dra.

Dit is steeds moeilik om te glo en aanvaar dat ons belangrikste prosaïs nie meer met ons is nie. Jy bly oorweldig deur 'n gevoel van verlies van 'n onvervangbare persoon, maar jy kan ook nie anders as om met dankbaarheid terug te kyk op die bydrae wat hy oor 'n periode van amper 35 jaar tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het nie.

Meer as enige ander Afrikaanse skrywer het Leroux die roman in kaart geplaas. Met 'n elftal indrukwekkende werke waarin die fantasievlugte van die gees georden is deur 'n sterk intellek, het hy getoon dat die groot probleme van menswees ook in die Afrikaanse roman gestalte kan kry. Dit is werk van sulke blywende gehalte wat die voortbestaan van 'n klein taal soos Afrikaans dubbel en dwars regverdig.

Leroux se romans toon 'n noue samehang. Eers was daar die drie trilogieë, wat uiteindelik saam 'n monumentale negedelige romansiklus gevorm het, en daarna die laaste twee werke, wat deur hulle sterk satiriese inslag by mekaar aangesluit het.

Leroux het in 1955 gedebuteer met Die eerste lewe van Colet. Dié werk is destyds redelik koel ontvang, maar retrospektief gesien, besef 'n mens hoe belangrik dié debuut indertyd was. Veral deur die vrymoedige verkenning van die seksuele het Leroux hier reeds aanduidings begin gee dat die Afrikaanse prosa hom in die jare wat kom van sosiale taboes sou bevry en van die mees gedurfde en kompekse aspekte van menswees onder woorde sou probeer bring.

Dit word bevestig deur sy tweede roman, Hilaria (1957), waarin die Colet-geskiedenis verder gevoer word, en nog 'n tipiese Leroux-procédé na vore begin tree, naamlik die gebruik van 'n wyer verwysingsveld, wat 'n groter resonansie aan die verhaal verleen.

Sterkste van die vroeë werke is Die mugu (1959). In hierdie roman word die wegbreek van 'n middeljarige man uit sy geroetineerde bestaan verbeeld, maar dit word uiteindelik 'n wegbreek met die verskriklike implikasie dat jy iets kan aflê sonder om iets anders in die plek daarvan te kry. Leroux se preokkupasie met die buitestaander-figuur tree in hierdie werk sterker na vore, en hy begin ook gebruik maak van die Jung-verwysingsveld, wat die sleutel vorm tot die verwikkelde tweede en derde trilogieë wat hierop sou volg.

Leroux se vierde roman, Sewe dae by die Silbersteins (1962), is nie alleen 'n belangrike hoogtepunt binne sy oeuvre nie, maar trouens ook een van die bakens binne die hele Afrikaanse romankuns en selfs die Afrikaanse literatuur. Dit moet beskou word as die eerste werklik geslaagde komplekse en gesofistikeerde roman in Afrikaans. Dié roman het deur stimulasie en rigtinggewing 'n belangrike rol gespeel in die hele beweging van Sestig.

Binne 'n skynbaar oorbekende Suid-Afrikaanse ruimte - 'n Bolandse wynlandgoed - word die jong Henry van Eeden oor 'n periode van sewe dae ingewy in die verskillende fasette van menswees. Die sewe dae korrespondeer met die skeppingsperiode, en in dié tydperk groei Henry van paradyslike onskuld tot 'n ontdekking, erkenning en aanvaarding van die chaos in en om hom en die besef dat die suiwer enkeling onvermydelik geabsorbeer word deur die verworde wêreld van die massamens.

Twee jaar later het 'n verdere indrukwekkende roman gevolg, Een vir Azazel. Dié werk parodiëer die tradisionele speurverhaal, maar dit is 'n ernstige roman waarin sondebokskap en skuldverlegging die sentrale tema vorm. Dié roman bly die leser veral by deur sy aangrypende slottoneel, wat een van die groot momente in Afrikaanse literatuur verteenwoordig. Die tweede trilogie is afgesluit met Die derde oog (1966), wat terugspeel op die Herakles-mite.

Die laaste trilogie word gevorm deur die verrassende briefroman 18-44 (1967), die reisroman Isis Isis Isis (1969) en Na'va (1972), 'n sluitstuk waarmee die siklus in 'n belangrike mate tot eenheid saamgesnoer word.

Met sy tiende roman, Magersfontein, O Magersfontein! (1976), vernuwe Leroux radikaal. Dié roman is 'n verwikkelde satire wat op 'n geskakeerde wyse 'n breë spektrum van die samelewing krities bekyk en by tye meedoënloos blootlê. Leroux bou hier voort op 'n tradisie wat deur die bekende volkskrywer Langenhoven gevestig is, maar sy roman is baie komplekser as die werk van Langenhoven, die snykant veel skerper, die ontluistering feller. Die skrywer amuseer, maar hy is ook genadeloos: hy wil afkeer wek, protesteer en deur sy afbreking van valse waardes, hervorm.

Leroux se laaste roman is Onse Hymie (1982). Dit is 'n vlot en by tye skreeusnaakse satire, maar die erns in dié werk, waarin twee spanninge sterk op die voorgrond tree, moet nie misgekyk word nie. Dit is 'n genietlike roman en beslis een van Leroux se toeganklikste tekste.

Etienne Leroux het in sy lewe talle belangrike erkennings gekry. Die Hertzogprys is twee keer aan hom toegeken, vir Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein, O Magersfontein!, en hy het ook etlike ander gerekende literêre pryse ontvang. Vier van sy romans is vertaal, Sewe dae by die Silbersteins onder meer in Engels, Frans, Nederlands en Noors. Die tweede trilogie is ook in 1972 deur Penguin Modern Classics in een band gepubliseer. Die universiteite van Natal, die Oranje-Vrystaat en Stellenbosch het eredoktorsgrade aan hom toegeken.

Maar wat onthou 'n mens uiteindelik van 'n skrywer en waaraan dink jy die dag as jy die nuus van sy dood ontvang? As jy die voorreg gehad het om Stephen le Roux self te geken het, dink jy onwillekeurig aan die geleenthede van persoonlike kontak en die dinge wat daarvan dié beskeie persoon in gesprek uitgegaan het. Maar jy dink uiteraard ook aan sy werk. Nie aan álles wat hy geskryf het nie, maar aan daardie talryke gedeeltes in sy romans wat jou van die eerste lees bygebly het en by herlees nooit hul trefkrag verloor het nie.

[Paragraaf ontbreek - red.]

Persoonlike gereedskap