Etienne Leroux (Rapport, 2009-07-04)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Stephanus Petrus Daniel le Roux (1922-1989) is op Oudtshoorn gebore, word groot op Rietvlei naby De Rust in die Klein Karoo. Ná wisselende laerskole gaan hy vir die hoërskool na Grey-Kollege in Bloemfontein. Daarna studeer hy (1940-1945) regte aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die grade B.A. en LL.B. behaal. Hy beoefen sy beroep as regsgeleerde slegs 'n jaar lank in Bloemfontein en vestig hom in 1947 op 'n deel van die familieplaas naby Koffiefontein waaraan hy weldra die naam Janee gee en waar hy aan die hoof staan van 'n uitgebreide boerdery. In 1948 trou hy met die skilder Renée le Roux (Malherbe). Uit hul huwelik word drie kinders gebore. Ná hul egskeiding trou hy in 1970 met die musikus Elizabeth Joubert.
In die eensaam nagte op die plaas begin Leroux verwoed lees en skryf, maar vir sy eerste werk kry hy nie 'n uitgewer nie. Sy vroeë werk word gelees deur die Nederlandse digter Jan Greshoff wat hom van raad dien en sorg dat sy eerste roman, Die Eerste Lewe Van Colet, in 1955 gepubliseer word. Dit is egter eers met Die Mugu (1959) en veral met Sewe Dae by die Silbersteins (1962) dat die groot deurbraak vir hom as skrywer kom. Met die toekenning van die Hertzogprys in 1964 ontstaan 'n landwye polemiek waarin Leroux se roman moreel afgekeur word en sy uitgewers deur die stormloop na die boekwinkels vir talle herdrukke moes sorg. Voornemende lesers het by boekwinkels gevra vir 'n eksemplaar van Sewe dae by die Liebersteins, die naam van 'n goedkoop wyn wat indertyd in groot glashouers verpak is.
'n Nog groter "vloedgolf van protes" kom wanneer sy roman Magersfontein, o Magersfontein! (1976) verbied word. Die daaropvolgende hofsake lei uiteindelik tot die aanvaarding en 'n milder toepassing van wetgewing oor publikasies. Nog voor dít word ook dié roman met die Hertzogprys bekroon.
In sy bedanking maak Leroux gebruik van 'n reeks skeeps- en visbeelde om sy roman en die Akademie se waagmoed te verbeeld: "Al het ruwe storms ook al hoe gewoed, lê die Akademie nog steeds veilig geanker in die hawe genaamd Literêre Prestige. Die weerbarstige skuitjies keer telkens na die moederskip terug, mits hulle vangs goed is en daarvoor betaal word. Ek het in Magersfontein omtrent 6 025 visse gebring, waarvan 25 onverteerbaar en verbode was vir die toesighoudende owerhede. Die Akademie het my egter beloon as Skuit Nommer Een, omdat ek die grootste lading in terme van tonnemaat gedra het. Die feit dat ek met my vrag in gebiedswaters gesink het, het die Akademie nie daarvan weerhou om aan my 'n meriete-toekenning vir my poging te gee nie. Dis net daardie 25 aweregse visse, soos Gert Garries, stout meisies en die politici wat die boot laat sink het."