Een vir Azazel
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Stofomslag ontwerp deur Willem Jordaan, foto op agterblad deur Desmond Windell. Eerste uitgawe Augustus 1964 deur Human & Rousseau Uitgewers. Opgedra aan John Kannemeyer. Bekroon met die CNA-prys in 1965.
Flapteks: Ná sy opspraakwekkende vierde roman, Sewe Dae by die Silbersteins, wat in 1964 met die Hertzogprys vir prosa bekroon is, kom Etienne Leroux nou met 'n ewe boeiende roman. Een vir Azazel speel weer op die Welgevonden-landgoed van die Silbersteins, maar dit is agtien jaar na die gebeure in die vorige boek. Jock Silberstein se plaas is nou geskenk aan 'n Stigting, hoewel die Silbersteins en hul skoonseun, Henry Silberstein-van Eeden, nog daar woon. Salome is oorlede by die geboorte van haar enigste kind, Adam Kadmon Silberstein, 'n reus en 'n idioot. 'n Meisie, Lila, word vermoor, en die hakkelende speurdersersant Demosthenes H. de Goede ondersoek die misdaad, begelei deur dr. Johns. Met hierdie fantastiese gegewe lewer Leroux 'n roman wat in diepsinnigheid en rykdom van intellektuele krag die lesers van sy werke opnuut sal verras en aangryp. Die titel verwys na die Joodse sondebok. Om bepaalde redes is afgewyk van die spelling Asásel, soos dit voorkom in Levitikus 16.
Levitikus 16 (1953 Afrikaanse vertaling van die Bybel):
8. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel.
9. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei;
10. maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.
Kommentaar oor Een vir Azazel:
[Bron: Stofomslag van 18-44]
"... a disturbing and moving book that lingers in the mind." - The Star
"Een vir Azazel gaan weer baie tonge aan die roer sit. Maar in sy soort is hy skitterend - skitterend tot in die verbysterende toe." - F.I.J. van Rensburg in Die Vaderland
Na Engels vertaal as One for the Devil.
Sien ook Die Silberstein Trilogie.



