Dogters van Silbersteins skepper mag pa se boeke nie lees nie (Sondagstem, 1967-08-27)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Etienne le Roux, die omstrede Afrikaanse skrywer (hy skryf onder die naam Etienne Leroux) verklaar onomwonde dat hy godsdienstig is, 'n diaken in sy Kerk was en nou nog nie sy twee dogters, wat 18 en 16 jaar oud is, toelaat om van sy boeke te lees nie.

In 'n onderhoud met die tydskrif "New Nation" verklaar die skrywer van "Sewe Dae by die Silbersteins" - dit is die eerste boek van die Sestigers wat nou in Amerika verkoop nadat dit in Engels vertaal is - dat hy 'n Nasionalis is en 'n goeie begrip van die Nasionale Party se beleid het. Hy is egter nie lid van die party nie.

Etienne le Roux het ook gesê dat die kritiek wat hy en mede-Sestigers van persone soos Professor Weiss gekry het, daarop neerkom dat die kritici aan 'n vervloë wêreld vaskleef en dat die Sestigers hulle daar uitskop. Hulle sien dit nou as 'n soort van verraad.

Hoewel die Sestigers beskuldig word dat hulle te veel deur buitelandse idees beïnvloed is, glo die skrywer nie aan die stelling nie. Hy het verklaar dat hulle net besiel is met 'n vryheid in hul skrywe, maar basies nog Suid-Afrikaans is.

ONS TAAL

Op 'n vraag wat sy mening is van die stelling dat Afrikaans as 'n taal deur Engels bedreig word in die Republiek, het Le Roux geantwoord dat daar geen gevaar hoegenaamd is nie.

Hy het gesê dat sodra daar goeie literatuur in 'n taal is, dit nooit sal uitsterf nie. As Amerika "Sewe Dae by die Silbersteins" as die moeite werd beskou, is dit 'n bewys dat Afrikaans as 'n taal ryp genoeg is om goeie werke op te lewer.

Die ontvangs wat sy boek in die Verenigde State gaan kry, is vir hom 'n werklik toets, het Le Roux gesê, want hy wat uit 'n Suid-Afrikaanse omgewing kom, voel nog dat sy landgenote 'n sekere verpligting teenoor hom voel. Dit sal nie oorsee die geval wees nie.

OOR 50 JAAR

Etienne le Roux het ook gesê dat Afrikaans as taal 'n voordeel bo ander tale het want dit is buigbaar en vars en daar word gedurig nuwe frases en woorde bygevoeg.

Toe daar aan die skrywer gevra is hoekom hy nog nooit die rasseprobleme van Suid-Afrika in sy werke ingebring het nie, het hy verklaar dat daar werklik nie rassestremmings is nie en dat dit tog oor 50 of 100 jaar alles verby sal wees. Die blankes in Afrika het 'n moeilike probleem omdat alles eintlik teen hulle is. Maar hy bekommer hom nie juis daaroor nie, want hy is 'n skrywer en nie 'n politikus nie.

Asof in aansluiting by Etienne le Roux se woorde het 'n ander Sestiger wat nie net omstrede werke gelewer het nie, maar heelwat omstrede verklarings gemaak het - André P. Brink - die afgelope week in 'n artikel in die genoemde tydskrif geskryf dat enige skrywer wat moraliteit as iets anders as 'n "ja baas" huwelik, huisgodsdiens of 'n bietjie vryery op die plaas voorstel, gebrandmerk word.

André Brink kla ook verder in sy artikel dat werke van die jonger skrywers deur briewe aan die pers, preutse dissipels, die radio en skole, wat hul leerlinge verbied om die werke te lees, gestrem word.

Die skrywer gaan selfs sover om die verklaring te maak dat daar 'n uitmuntende slinkse plan is om die jonger liberale skrywers deur 'n gestadigde insinuasie as voorstanders van die kommunisme te bestempel.

VICTORIAANS

Brink waarsku laastens in sy artikel dat wanneer die klimaat, om Afrikaanse boeke so maklik as Engelse boeke te verban, eers geskep is, Afrikaanse skrywers dalk hul toevlug tot ander markte sal moet neem.

Dit is egter steeds eienaardig dat een van die voorste Sestigers soos Etienne le Roux sy byna volwasse dogters verbied om die lektuur uit hul vader se pen te lees omdat, soos hy dit gestel het, hy hulle 'n goeie Victoriaanse opvoeding gegee het.

Persoonlike gereedskap