Dis 'n Boeiende, Maar Onmenslike en Vreemde Fantasmagorie (Die Burger, 1962-11-30)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Dis 'n Boeiende, Maar Onmenslike en Vreemde Fantasmagorie
Deur W.E.G. Louw
Sewe Dae by die Silbersteins - Etienne Leroux se vierde roman - is volgens 'n eerste oordeel 'n vreemde fantasmagorie, sterk intellektualisties van inslag, ewewigtig van bou en met 'n simboliek wat hom nie by die eerste oogopslag laat "kraak" nie. Dit is bowenal, glo ek, 'n merkwaardige boek - een soos daar nog nie baie vantevore in Afrikaans geskryf is nie.
As Henry van Eeden, wêreldwyse jong man en die enigste seun van sy ouers, aangewys word as die toekomstige eggenoot van Salome Silberstein, op haar beur dogter van die skatryk Jock Silberstein, hereboer van 'n Bolandse wynplaas Welgevonden, is dit vanselfsprekend dat hy met sy toekomstige skoonouers sal kennis maak.
In geselskap van sy vrygesel-oom, die wêreldwyse J.J. van Eeden, bring hy hulle 'n besoek wat sewe dae duur.
Van die oomblik dat hy die stewige ingangspoort van Welgevonden binnegaan, bevind hy hom in 'n wêreld en tussen mense, waarvan 'n aantekening vooraan ons byna oorbodig verseker dat hulle denkbeeldig is. Met reg sê dié aantekening ook dat álle gebeurtenisse onwaarskynlik is.
Omdat dié skatryk Joodse boeregesin elke dag - en veral elke aand - op 'n ongelooflike weelderige skaal onthaal, volg daar, behalwe die besigtiging van dié hoogs moderne en gerasionaliseerde wynbedryf, wat die plaas sy inkomste besorg, in hoofsaak 'n reeks van aandpartytjies, waardeur Henry dan dié dan daardie aspek van die lewe beter leer ken.
SEWE AANDE
Die eerste aand is dit die "rykes", op 'n informele dansparty; die tweede aand is dit die "kunstenaars", dié keer in fantasie-kostuum wat iedereen 'n eie, sy dit onmenslike individualiteit besorg; die derde is dit die "boere", die landelike aristokrasie, met hul belangstelling in stoetbeeste e.s.m.; die vierde is dit 'n vreemdsoortige V.V.O.-cum-"morele herbewapeningsgeselskap", wat beëindig word deur 'n opstand in die naturellelokasie; die vyfde is dit 'n groep "intellektueles" - grappig genoeg: "joernaliste (!), geestelikes, oorspronklike denkers" e.s.m. - 'n aand wat beëindig word deur die dood van 'n "heiden", sir Hendry Mandrake; die sesde is dit 'n heksesabbat - ja, letterlik; en die laaste aand is dit 'n deftige, mondiane onthaal, 'n soort verlowingsfees, waarop hy uiteindelik met sy bruid sal kennis maak.
Behalwe die komende en gaande gaste wat telkens wissel, is daar 'n vaste kern van vertrouelinge - 'n regter, 'n dokter, die familielede e.s.m. wat druk gesels, ingewikkelde filosofiese en teologiese vraagstukke uitpluis, eet, drink, gemoedelik owerspel pleeg, baai en hulle op talle ander interessante en minder interessante maniere onledig hou.
SLOT?
Ná 'n lang middagslaap en 'n bad, maak Henry hom elke dag teen die aand se kant gereed vir die nuwe partytjie wat sal vorlg. (Grappig genoeg, trek hy hom meestal "verkeerd" aan vir die besondere geleentheid: as die rykes in hul oopnekhemde en slenterbroeke opdaag, is hy in aandklere; as die boere in aandklere bymekaar kom, kom hy, volkome onvanpas, in boeredrag, ens.)
Maar Salome, sy bruid, die eintlike doel van sy besoek, kry hy - glo ek - uiteindelik tóg nie te sien nie. Of, tog wél?
Die "saaklike" slot het by die eerste kennismaking vir my altans 'n mistifikasie gebly.
Wat dit alles moet beteken? Die skrywer sélf gee 'n motto aan voor in die boek, wat klaarblyklik as "sleutel" bedoel is:
"'Ons is nie alleen nie,' sê Jock Silberstein. 'Ons besef aldag meer ons gesamentlik aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by die aanskouing van die valse beeld van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn."
Omdat dié uitspraak sélf taamlik kripties en duister is, het ek 'n paar ander "sleutels" bymekaar gesoek, o.m.:
"Daar is so baie dinge wat jy sal moet leer en verleer. Al daardie dinge wat jou nou beskerm. Jou onkunde, jou onskuld byvoorbeeld. Maar só kan jy nie deur die lewe gaan nie. Só eenvoudig is die lewe nie. Daardie staat van valse grasie" - ék sou sê: "genade", W.E.G.L. - "hou in die een of ander stadium vir ons almal op. Dis die tragedie van ons menswees, dat jy verplig is om eendag meteens bewus te word van die donkerte in die hart van die mens, en, teen jou sin, let wel, kennis te neem van goed en kwaad." (bl. 28)
OOK ANDERS
Of, ook ánders gestel:
"...en dis die tragedie van volwassenheid dat jy jou onskuld moet verloor, en eerder ten gronde moet gaan in die kwaad as om in onskuld te leef, dat jy die duiwel eers moet leer ken voor jy die poorte van die hemele kan ingaan." (bl. 29)
'n Mens moet glo maar sélf kies. Wat met dié jong Henry gebeur, is, vir my gevoel, 'n bewuswording van die "donkerte in die hart van die mens", 'n kennis neem "van goed en kwaad".
Met só 'n gegewe - só fantasties ingeklee en uitgewerk - is dit verstaanbaar dat 'n mens geboeid verder lees. Al plaas jy meermale 'n vraagteken in die rand, en al is élke verwysing - getuienis o.m. van die skrywer se esoteriese belesenheid - nie dadelik duidelik nie, kom jy onder die indruk van wat Leroux sê, of soms ook probéér sê.
Selfs op die eerste vlak - dié van die uiterlike gegewe - sal dié boek waarskynlik gretige lesers vind.
Maar ek moet eerlik waar erken dat dié boek - net soos Colette, Hilaria en, in mindere mate miskien, Die Mugu - 'n mens meermale ook prikkel en tot teenstand wek.
MENSE EN WOORDE
Dit was, ten eerste, klaarblyklik nie sy bedoeling om "mense" te skep nie. Hy werk met idees en begrippe. Maar ek kan nie help om dit as 'n tekort te ondervind, dat daar onder al dié tientalle persone nie een werklike "mens" is nie - nie Henry nie, nie die siniese J.J. nie, nie die heerssugtige en diepsinnige Jock nie, nie die ou Joodse "hertogin", met haar geprewelde Jiddish nie, selfs nie die kwieke sir Henry nie, al kom hy - in die nabetragting van sy vrou - miskien nog die naaste daaraan.
Die "figure" is slim bedag, maar in laaste instansie keihard en yskoud.
In die tweede plaas irriteer in 'n andersons goed begrepe, genuanseerde en selfs skerpsinnige taalgebruik talle woorde òf deur die verband waarin hulle gebruik word - "grasie" hierbo is 'n voorbeeld - òf deur hulle vorm - die Engelshede: "blackmoor", "akimbo", "cottage" e.s.m. - 'n mens. Dit is dissonante dié wat nie opgelos word nie,
Trouens die eerste paar bladsye - álle begin is immers swaar! - bevat lomphede waaroor 'n mens agterna, as jy in Leroux se besondere taalgebruik tuis begin raak het, nie anders as jou wenkbroue kan lig nie.
Om saam te vat: Sewe Dae by die Silbersteins is, glo ek, simptomaties van 'n ontwyfelbare roering in die Afrikaanse prosa; maar dit is m.i. nog nie 'n groot of gawe boek nie.
Dit is 'n boek nietemin wat die ernstige aandag - én studie, waartoe die tyd my in dié stadium ontbreek - verdien van iedereen wat hom in die Afrikaanse romankuns interesseer.
Dit is, glo ek, grootser van opset as van verwesentliking. Maar dat iemand dit aangedurf het, presies só soos Etienne Leroux dit hier doen, is al iets.
Nee, meer: 'n hele boel!
W.E.G.L.
Etienne Leroux: Sewe Dae by die Silbersteins, Human & Rousseau, Kaapstad, 1962. Prys: R1,80.