Die sagmoedige oë agter Leroux se donkerbril (Die Burger, 1990-01-04)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Die uitgewer KOOS HUMAN kyk terug op sy jarelange vriendskap en samewerking met die skrywer Etienne Leroux, wat gister begrawe is.

--

Dit was my voorreg om Stephen le Roux (soos sy vriende en familie Etienne Leroux op sy naam genoem het), meer as dertig jaar lank te ken, waarvan die laaste sewe en twintig goed. Ek het Stephen in 1957 ontmoet toe Jan Greshoff my genooi het om by 'n aandete in sy huis kennis te maak met die "aankomende" jong skrywer, wie se Die Eerste Lewe van Colet reeds in 1955 verskyn het, maar waarvan ek, tot my skande, nie behoorlik kennis geneem het nie.

Ons eintlike vriendskap het in 1962 begin met die publikasie van Sewe Dae by die Silbersteins. Dit bly 'n goeie verhaal hoe die manuskrip by Human en Rousseau beland het. Hoewel hy self vir die produksiekoste van Colet moes betaal (ander uitgewers het dit van die hand gewys) het Stephen lojaal aan sy eerste uitgewer gebly, wat later deur HAUM oorgeneem is. Stephen het gevra of die boek voor die einde van die jaar kan verskyn, maar die destydse bestuurder het gesê dit is onmoontlik. Daarop het Stephen die vorige bestuurder, Gerry de Melker, gevra om uit te vind of ons die boek nog voor die einde van 1962 sou publiseer, en so het ons Stephen se uitgewers geword.

Dit was die eerste Leroux-manuskrip wat ek gesien het en almal was in die selfde uiterlike vorm. Binne 'n roomgeel legger met die titel van die manuskrip in dik swart koukieletters voorop geskryf, was die manuskrip, slordig getik op kwarto-velle en met vele, vele korreksies. Die eerste van die beduimelde stapel bladsye was natuurlik die titelblad met die titel en daaronder, voorafgegaan deur 'n aantal dotjies, die naam Etienne Leroux. Dit was nog die dae voor fotostaatmasjiene en mens sidder om by die gedagte van so 'n manuskrip wat per pos gestuur is.

Ons het 'n prosedure met die werk aan 'n manuskrip gehad. Stephen het afgekom Kaap toe en dan het ons twee (en later ook Eddie du Plessis en Riël Hauman) die manuskrip van 'n kant gepak. Vooraf is ook toegesien dat leon Rousseau met 'n kennersoog daardeur lees. Hierdie sessies het uiteraard met heelwat na-uurse plesierighede gepaard gegaan. Stephen beweer êrens dat hy dikwels die slot van sy romans op my aanbeveling verander het, maar hy vlei my bietjie. Ons het soms kollektiewe advies oor strukturele sake gegee (waarby Opperman mettertyd betrek is), maar oor die algemeen het ons nie probeer om die skrywer se boek vir hom oor te skryf nie.

Dit bring my by die taalkundige versorging van 'n Leroux-manuskrip. Daar is al baie gesê en gekla oor sy taal en woorde soos slordig, verkeerd, en dies meer rondgestrooi. Ek self het my nie veel daaraan gesteur nie. Die spelling was bepaald nie op die vlak van die Woordelys en Spelreëls nie, maar die klagtes oor taalgebruik self is myns insiens oordrewe. As mens elke roman byna woord vir woord met Stephen deurgegaan en jou eie besware teen sy verdediging opgeweeg het, het jy gou besef watter waarde hy heg aan die klank en ritme van 'n sin, en hoe dikwels hy met 'n oënslynlik verkeerde woord 'n spesifieke doel beoog het.

Stephen het 'n eie soort Afrikaans geskryf. 'n Afrikaans van vandag, nie 'n geïdealiseerde plattelandse "boere-Afrikaans" sonder die invloed van Engels nie. Stephen het nie boplaas-Afrikaans geskryf nie, hy het Hillbrow- (en Bloefontein-) Afrikaans geskryf. Hoe kan die wêreld van Welgevonden bestaan in iets anders as Stephen se besonderse Afrikaans, anglisismes en al?

'n Manuskrip waaraan ons nie in Kaapstad gewerk het nie, was Magersfontein, o Magersfontein! Dit het ons in 'n hotelkamer in die Burgerspark-hotel in Pretoria gedoen - 'n hotel waarin daar daardie dae oral plakkate te sien was wat 'n ballonvaartwedstryd adverteer. Nie een van ons het die herrie voorsien wat sou volg op die publikasie van hierdie boek nie. Die tyd het gekom dat 'n ondernemende joernalis 'n bietjie "investigative journalism" onderneem na die ware redes vir die heksejag.

Die Staatskoerant met dr. Connie Mulder se lasgewing het op 7 September 1977 verskyn en regter Lammie Snyman se uitspraak is op 21 November dieselfde jaar gelewer. Die uitspraak van die Transvaalse Hooggeregshof oor ons appèl is op 8 Junie gelewer en hoewel prof. Kobus van Rooyen aan my gesê het dat ons die slag verloor maar die oorlog gewen het, was dit wynig troos vir skrywer of uitgewer. Op 12 Maart 1980 is die tweede uitspraak van die Appèlraad gelewer wat die boek vrygespreek het.

In hierdie periode het Stephen hom heeltemal opsy gehou en wou niks met die logistiek van die hele saak te doene hê nie. Vir hom was dit egter 'n uiters ontstellende belewenis wat hom jare lank 'n soort skryfkramp gegee het. Die roemlose en vergete bendetjie wat vir hierdie geskiedenis verantwoordelik was, sal nooit in staat wees om te besef wat hulle hierdie man aangedoen het nie.

Stephen het selde oor sy boeke gepraat, voor of ná publikasie, en dikwels belangstelling verloor in baie aspekte daarvan. So het hy 'n studie van heksery gemaak met die oog op Een vir Azazel, maar nadat die boek voltooi was, nie weer oor die onderwerp gelees nie.

Oor Magersfontein, die plek, die persone en die slag, kon hy nie uitgepraat raak nie, en my vrou, Trewhella, wat 'n geskiedkundige is, sê dat sy nooit die slag van Magersfontein regtig goed verstaan het voordat Stephen dit op een snikhete Saterdagmiddag op die slagveld vir ons uitgelê het nie. Ook op pad daarheen het hy telkens plekke uitgewys: "Hier het Gert Garries gestaan en..."; "Hier is die advertensiebord waaragter La Grange, die speed-cop, geskuil het."

Die Magersfontein-besoek het, soos al Stephen se besoeke aan die slagveld, 'n merkwaardige episode opgelewer toe my gehuurde motor by die ingang tot die begrafplaas plotseling 'n oorverdowende knal gee en rook oral uitbondel. Met 'n temperatuur van seker diep in die dertig het Elizabeth le Roux en ek by 'n nabygeleë plaas gaan bel terwyl die Skots-Korniese Trewhella en die onversteurde Hugenote-Stephen op die graf van die Comte de Villebois-Mareuil gesit en filosofeer oor hoe mense uit sulke uiteenlopende wêrelde uiteindelik momenteel bymekaar is.

Hierbo het ek die woord onversteurd gebruik. Selfs al het hy seker dikwels allesbehalwe onversteurd gevoel, het Stephen baie selde blyke daarvan gegee. Agter die donkerbril het die sagmoedigste twee groen oë geskuil wat met sy fynbesneë gesig die toonbeeld was van 'n minsame, sjarmante heer. Uiters korrek in sy optrede, 'n bedagsame gasheer en 'n sprankelende gespreksgenoot - dit was hy. Maar bowenal was hy vir sy vriende 'n vriend en kameraad van wie ons die weerga nie maklik sal vind nie.

Persoonlike gereedskap