Die Swart Nar (Vrye Weekblad Boeke, 1989-09-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Etienne Leroux, die veelbekroonde skrywer van omstrede boeke soos "Sewe dae by die Silbersteins" en "Magersfontein, O Magersfontein!", werk na 'n lang stilswye weer aan 'n nuwe roman. KOOS PRINSLOO en RYK HATTINGH het met hom op sy plaas "Janee" naby Koffiefontein in die Vrystaat gaan gesels.

--

Stephen le Roux (die 67-jarige man agter die skuilnaam Etienne Leroux) sit agter 'n kliptoonbank in die ingangsportaalvan die groot wit opstal met die blou vensterrame en kosyne wat aan Griekeland herinner. Uit 'n klein yskassie haal hy blikkies Black Label, Coke in 'n literbottel wat hy iemand vra om oop te draai. Sy hande is nie meer sterk genoeg nie. Hy weet ook nie wat om met hulle te doen nie. Vroetel met drie tjekboeke in plastiekvouers voor hom. Soos tarotkaarte.

'n Bejaarde vrou verskyn met 'n souttert op 'n skinkbord. "Kleinbaas?" sê sy vir Stephen. Niemand is nog honger nie. Later aan etenstafel bedien sy en 'n jonger, meer onderdanige vrou onder bevel van Elizabeth le Roux aartappels, pikante soetwortels, broccoli, filet en tong, gestoofde appels met room en vla.

Elizabeth haal 'n bottel wyn uit die buffet. KWV Cabernet. "Nee, dis te grand vir hulle," lag Stephen. Die bottel word in elk geval oopgemaak. 'n Stuk van die kurkprop het afgebreek, en Stephen klap die bottel met beide hande. Onhandig. Amper ongeduldig. Elizabeth staan op om die bottel by hom te vat. Sy druk die stuk kurk met 'n mes af. Hy skink die wyn, vra die seën voor hulle eet. Vinnig, onhoorbaar, so asof hy nie wil hê die mense om die tafel moet hoor wat hy sê nie.

Na ete word koffie in die sitkamer bedien uit wit Rosenthal-porselein. Die wit, dowe kat lê op Stephen se stoel. Hy tel die kat onhandig van die stoel af. "Ek en die kat is nie vriende nie," sê hy terloops. Hy vertel van die aardbewings wat die gebied teister. Vensters word soms uitgeruk. Elizabeth vertel van die vorige mevrou Le Roux se koekblikke wat dan van die spensrak afval. Sy vertel ook van Stephen se gunstelingvroue: Martina Navratilova en Mynie Grové.

--

Kom ons begin by die Waterval.

KP: Stephen, daar is groot kontroversie nou oor 'n groep skrywers en letterkundiges se verwelkoming by die Victoriaval van die ANC se hersiene beleidsdokument oor die kulturele boikot. Wil jy nie 'n mening lug nie?

LE ROUX: Kyk, almal het as individue gegaan, 'n mens koppel dit nie aan die Skrywersgilde of so 'n soort van ding nie. Dit was die eerste probleem. Ek dink dit was 'n uitstekende ding wat gebeur het. Volgens wat ek kan aflei, was dit 'n taamlik emosionele ervaring gewees. Hulle het 'n besondere goodwill gekry van die ANC daar. Van wat Antjie (Krog) gesê het, lei ek af die ANC in die buiteland het amper 'n sagter benadering as die plaaslike ene. Dit kan wees omdat hulle so lank in ballingskap was, verstaan jy wat ek bedoel, en in lande gebly het wat vry is. Dat hulle nie soos hier onder apartheid en onderdrukking gestaan het nie...

KP: Ja, 'n mens moet onthou hulle sit in die buiteland en is blootgestel aan 'n gesofistikeerde politieke diskoers wat ons glad nie het nie en dat die boere sal moet begin leer om te praat.

LE ROUX: ...En verder ook. Ideologies stem ek heeltemal saam. Daar is net daardie ding van die selektiewe boikot, dit bly nog vir my 'n probleem. Jy weet, of boikot maar nie net nog 'n vorm van sensuur is nie. Want ek voel, die ding moet so werk: wat help dit om kultureel te boikot en die mens wat juis verligte denke moet kry, van hulle word dit weggehou. Gooi die mens, die verkramptes en nasionaliste, gooi hulle liewer toe met die regte kultuur, met die nuwe denke, alles, verstaan wat ek bedoel. In plaas van om hulle daarvan weg te hou. Ek dink 'n mens verander as jy toegegooi word met verligte kennis. As jy niks gevoer word nie gaan jy nog halstarriger word. En dan is daar nog 'n bietjie van 'n morele issue vir my daarso, jy weet om kennis te weerhou, jy weet die blote beginsel.

Maar wat wel gebeur, is, die skrywer kan hom nie uithou van die verhandelingsproses op die oomblik nie. Dit sal heeltemal onnatuurlik wees as jy heeltemal buite staan. Jy is deel van alles wat nou plaasvind.

'n Ding wat my al byvoorbeeld getref het ná hierdie Waterval-ding, is die optogte, die geweldlose optogte. Dis verbasend watter invloed dit gehad het. Die hele wêreld het omtrent verander. Bevryding. Skielike bevryding. Dis 'n ongekende ding, 'n geweldlose optog.

KP: Maar Stephen, dis 'n ongelooflike gevoel. Ek was by die optog in Johannesburg. En daai feeling wat ek in die kerk gekry het, en jy weet die kerk maak my baie benoud, die gemeenskapsgevoel van daai mense wat daar staan en sing. Jy is blootgestel aan 'n lewende kultuur.

RH: Dan word kerk kerk.

KP: Dit was 'n warm gevoel. Nie van vervreemding nie. Nie vereensaming nie.

LE ROUX: Maar kyk, dis waar. Iets moet gebeur en 'n gesprek moet kom. Die mense het 'n warm gevoel vir mekaar, en hy strek en niemand kan dit keer nie. Dit is die gevolg van die Watervalbesoek. Of die Watervalbesoek het in elk geval baie daarmee te doen gehad.

KP: Ek dink partykeer die Watervalding is uit verband geruk, so asof mense dink hier is 'n groep skrywers wat iets verteenwoordig terwyl dit nie waar is nie.

LE ROUX: Jy weet, daar moes iets daar met julle gebeur het, amper soos die besoek aan die grotte van Ulysses. Jy weet dat hulle daar ingaan, en hulle kom uit, ander mense. Iets het plaasgevind. 'n Groot transformasie het plaasgevind. Maar niemand weet wat gebeur het nie.

KP: Sou jy sê jou skryfwerk is 'n poging om deur die afsondering te breek?

LE ROUX: Nee nee nee, om die waarheid te sê, ek het gevind as ek weer te veel met skrywers en intellektuele in aanraking kom, dan is daar 'n soort van geestelike masturbasie wat plaasvind.

RH: I'll drink to that.

LE ROUX: Dis nie oorspronklik nie, terloops.

KP: Wat is?

LE ROUX: Neem nou hierdie afsondering. 'n Mens kry 'n sekere afsydigheid. Byvoorbeeld, om hier 'n koerant te lees is anders as om byvoorbeeld in 'n stad die koerant te lees. Jy begin agter die reëls te lees. Dit dring dieper deur.

Bly jy te lank in afsondering, begin jy in kringe dink. Dan moet jy weer gaan. Dis amper 'n Jungiaanse proses as jy daaraan dink. Van die libido, van die geestelike energie wat afgaan en dan weer terugkom en afgaan en weer terugkom en elke keer as hy afgaan en opkom dan bring hy materiaal saam.

RH: Gaan hy elke keer verder af? Is dit nodig vir die skeppingsproses dat hy elke keer dieper delf, of delf mens een keer dieper vir die res van jou lewe?

LE ROUX: Dit weet ek nie, weet jy. Want om baie diep te delf is 'n helse gevaarlike proses, want jy werk dan met baie primitiewe goed, en dis gevaarlik. Maar as die simbole opkom na die oppervlak, en hy word nie 'n wanhoopsimbool nie, dan is dit OK. Of 'n mens elke keer dieper gaan, weet ek nie. Dit hang af in watter stadium van jou lewe jy is. As ek nou moet baie diep delf... Ek dink nie ek sal dit op die oomblik kan vat nie. Ek is relatief ná my dood, en dan het 'n mens reeds die vrees vir die dood. As jy jonger was en jy het nog nie heeltemal so sterk die doodsbesef nie, dan kan jy taamlik diep gaan, want dan is jy geestelik sterk genoeg. Ek dink nie ek gaan nou so diep soos ek destyds gegaan het nie.

RH: Is daar vrae waarvoor jy nog antwoorde soek? Vrae wat graag beantwoord wil word?

LE ROUX: Man, op die oomblik is daar nie vrae wat ek vir myself soseer wil antwoord nie. Ek is net ontsettend bekommerd oor die wêreld op die oomblik. Groot verandering gaan plaasvind en daar is geen keer daaraan nie. Daar gaan 'n gevoel van verlies wees, maar aan die ander kant weer voel jy so damn skuldig oor die ou wêreld wat jy moet afsweer. Ek praat nou sosio-polities. Dit gaan 'n traumatiese ervaring vir almal wees.

Want in 'n sekere mate moet jy jou hele jeug nou afsweer. Ek was deel van 'n wêreld wat onregverdig opgetree het. Kyk, al jou jeugherinneringe gaan terug na 'n soort apartheidswêreld. En nou moet jy wegbreek daarvan. Dis noodsaaklik dat jy moet wegbreek. Maar nou is jou jeug afgesny. En jy het 'n skuldgevoel oor jou jeug. Want ons almal, ons, ons ouers, is deel van hierdie onheilige situasie in Suid-Afrika. Niemand is vry nie, behalwe die mense wat die slagoffers was.

KP: It takes two to tango.

LE ROUX: Dis waar ja. Kyk, ons het daai ding van die Boer en Engelse gehad. Die Engelse wat die Boer onderdruk het, sy taal misken het, sy menswaardigheid hom ontneem het, maar intussen het ons toe dieselfde ding gedoen. Die slagoffers voel nou presies soos ons destyds gevoel het, maar daar lê 'n mate van hoop tog, dink ek. Daardie gevoel tussen die Afrikaners en die Engelse het verdwyn. Daar is nog so 'n paar plekkies, maar eintlik is dit weg. As daardie versoening tussen die Boere en die Engelse kon gekom het, hoekom kan daardie versoening nie nou kom nie? Die versoening tussen die onderdrukker en die slagoffer. Dit is moontlik dat daardie versoening kan kom. Maar hoe om daardie haat wat vir geslagte daar is, weg te neem?

RH: Hoe voel jy oor die sogenaamde alternatiewes? Die Kerkorrels en Letoits, wie's daar nog?

LE ROUX: Ek was toevallig by Antjie-hulle op Kroonstad en toe was Kerkorrel-hulle daar gewees. Here, en het ons uitgekap.

(Antjie Krog vertel daar was glo twee skoolkinders by dié Voëlvry-konsert wat gestry het of die ou man in swart met die donkerbril rêrig blind is!)

KP: Stephen, hoekom het jy so lank stilgebly?

LE ROUX: Ná die verbod op Magersfontein... Dit het my wragtag geslaan... Dit het iets aan my gedoen. Toe skryf ek Onse Hymie. Baie meer op die oppervlakte as my ander boeke. Minder globaal. Toe was ek 'n bietjie teleurgesteld omdat Onse Hymie nie orals goed ontvang is nie. Jy weet, hulle wil nog 'n bleddie watsenaam hê, man. Ek het nie lus om nog 'n... wat is daai boek se naam, 'n Magersfontein te skryf nie.

KP: Stephen, kan jy die titel van die nuwe boek gee?

LE ROUX: Ja, Die kaping. Dis 'n klompie wat 'n skip kaap.

KP: Wat waarheen op pad is?

LE ROUX: Wat op pad is na 'n Hugenotefees in die Kaap.

RH: Sjoe, hier gaan ons weer.

LE ROUX: Maar hulle is almal amateurs, hulle weet nie hoe om 'n skip te kaap nie.

RH: Hoe verskil die skrywer se beskouing van homself vandag met dié in die sestigerjare? Wat is die rol van die skrywer, sou jy sê?

LE ROUX: In hierdie opsig miskien, ek praat nou van die Afrikaanse Sestigers, elkeen was op sy eie manier in verset gewees teen die establishment. Daar was nooit werklik enige georganiseerde beweging van enige aard nie. Daar was geen konstitusie of dekreet of verklaring nie. Elke man het net op sy eie aangekarring. Elkeen op sy eie manier. Wat daardie tyd eintlik baie interessant gemaak het. Jy het voluit self gegaan, en net as die establishment ons aanval, dan het ons saamgekom. Dit was 'n heerlik losse individuele ding.

Maar dit bly nog 'n moeilike vraag. Ek dink tog dat omtrent alle skrywers, ernstige skrywers, het 'n kritiese oog op die hele bestel, en hy skryf om te verander.

Maar jy weet, daar is 'n ander vraag ook byvoorbeeld. 'n Mens kan terugkeer na James Joyce. Wat is daai onleesbare boek van hom?

RH: Finnegans Wake.

LE ROUX: Finnegans Wake. Sou 'n skrywer vandag byvoorbeeld so 'n boek skryf, sal dit vandag as relevant beskou word?

RH: Ek twyfel.

LE ROUX: Ek betwyfel dit ook. Dit sal beskou word as 'n vorm van elitisme.

RH: Maar tog dink ek die Afrikaanse skrywer sit daar in 'n dilemma. Selfs al is jy hoe betrokke by die bevrydingstryd of wat ookal, dat jy tog 'n sekere leser het. Om te gaan sit en dink jy gaan vir die, as ek jou woord kan gebruik, die slagoffer skryf. Wie gaan jou lees? Wat kan jy in elk geval vir die slagoffer sê?

LE ROUX: En jy sit in elk geval steeds in jou middelklashoekie. Jy is daar in jou boksie nog. Man, my gevoel is dit. (Lang stilte.) As ons wegkom van apartheid en ons het 'n oop gemeenskap, dat almal bly waar hulle lus het, dan kan jy nou weer kom en jy kan soort van spanning - 'n ding wat ek nog altyd oor wou skryf - in 'n sosiale situasie uitbeeld - net een ete waar mense saam is. Die oomblik as ons saam bly, jy weet één gemeenskap vorm, dan is daar heerlike situasies. Sonder dat dit enigsins politiek is. Dan het jy 'n nuwe soort van suburbia, met dieselfde soort ding wat jy in die verlede gehad het, maar nou is jou samestelling net breër. En jou interaksie gaan baie interessanter wees. Die bronne is nou baie groter. Dit moet natuurlik kom. Jy moenie selfbewus wees nie. Op die oomblik is almal nog te selfbewus.

KP: Stephen, wat dink jy van iets soos Antjie Krog se Lady Anne wat so dringend besig is met...

LE ROUX: Dit is pragtig.

KP: ...met die politieke vrae? Want 'n mens kry die gevoel dit is verskriklik opreg.

LE ROUX: Dis waar, maar ek moet sê in daardie opsig het die digter 'n groter voordeel as wat 'n prosaïs het. Dis heeltemal 'n ander soort van dissipline.

KP: Ek hou nie van die onderskeiding tussen poësie en prosa nie...

LE ROUX: Nee nee, maar hoekom ek die onderskeid getref het, dis makliker vir die digter. Dis al wat ek eintlik wou sê.

KP: Dis daai tussengebiede wat vir my exciting is. Érens tussen prosa en film is daar vir my 'n vreeslike kreatiewe grysgebied. Daai menstruasiekaart wat Antjie insluit in haar bundel, dis die ding wat vir my die potentste in die hele bundel is. Dis die ding wat 'n mens laat besef dit is 'n vrou hierdie, die digter én lady Anne. Ek as man kan dit nooit ervaar nie.

LE ROUX: Wat skryf betref, het Greshoff 'n vreeslike onafhanklikheid by my tuisgebring. Maar dit was al klaar in myself ingebou. Ek kon nooit met enige organisasie of iets saamgaan nie. Hy het reggekry om vir my te sê hou so aan. Wees 'n bleddie rebel man.

KP: Here, 'n mens het net daai aanmoediging nodig.

LE ROUX: Net dit. (Lang stilte.) Moenie skaam wees vir jou rebelsheid nie. (Nog 'n lang stilte.) Hoe oud is julle?

KP: Ons is 32.

RH: Al drie gebore in die jaar van die hoenderhaan.

LE ROUX: Ek was nooit verskriklik bewus van verskillende ouderdomme nie. Ek het eers, toe ek op universiteit was, ouer vrouens uitgeneem. Ek was dol oor ou vrouens. En op 'n latere stadium to skiet ek terug. Toe ek hier so 48 word toe skiet ek hier vir die tieners.

KP: O Ryk, daar wag vreeslike goed vir jou. (Dawerende gelag.)

LE ROUX: Maar sê nou vir my. Ek moet daai fokken skip nou gekaap kry. Ek het almal op die skip, en hulle kom orals bymekaar, en nou moet hulle die skip kaap, nou soek ek 'n saak, man. En jy jy kan nie sê laat Mandela nou vry nie, want almal is nou besig daarmee.

Ek sal jou sê wat ek wel in my boek doen, maar ek praat nie graag oor my boek nie, net hierdie ding: ons het besluit ons gaan Samoua bevry. Of ons eis die bevryding van Somoua. Nou weet ek nie. Is Samoua 'n vry land?

KP: Waar is Samoua?

LE ROUX: Ek weet nie. (Nog dawerende gelag.)

LE ROUX: Nou kyk, ek probeer in 'n simbool skryf. Nie allegories nie, ek skryf in die simbool in. En dan, die Hermes-karakter in my boeke is altyd myself. Jy weet, jy kan hom nie heeltemal vertrou nie. Hy is 'n helse geslepe bliksem, die Hermes.

RH: Maar is daar nie ook 'n Prometheus êrens nie? Dat daar vuur gesteel word en jy voel dat jy gekasty word vir dit wat jy geskep het nie?

LE ROUX: Ek sal jou dit sê, in my skrywersloopbaan is ek darem moerse hard gestraf. Daar was elke keer 'n bleddie kabaal elke keer as ek 'n damn boek skryf. Sonder dat die mense die boek gelees het!

Ek beland altyd in die snaaksste situasies.

Wat interessant is, jy weet, as 'n man alleen reis, en jy sit byvoorbeeld in enige land in die wêreld en jy sit alleen, dan trek jy mense na jou toe. Dit hinder hulle om iemand alleen te sien sit. En so kry 'n mens die fantastiesste ervarings. Ek het al in situasies beland en dit is net die Here wat my beskerm het. Ek laat altyd iemand iets vir my aandra. Ek lyk hulpeloos. Dan doen mense iets vir my. Ek buit dit seker uit.

KP: Ou skelm.

LE ROUX: Ek het jou mos gesê, jy moet 'n Hermes-karakter nooit vertrou nie.

KP: Ja, ek het jou verlede jaar gewatch op Welkom (by die leeskringseminaar).

LE ROUX: Jy weet mos wat daar gebeur het?

KP: Nee.

LE ROUX: Ek beland saam met hierdie man. Hy was omtrent sewe voet gewees. En hy sê: Hierdie oom is glo 'n skrywer, maar ek het niks daarmee te doen nie. Skielik sê hy vir Elizabeth: Ek hou vreeslik baie van die oom, ek is baie lief vir hierdie oom, mag ek hom soen? En hy vat my en lig my so op. En daar hang ek in die lug. En hy haak af en hy gee my 'n soen, maar hy het so 'n groot mond, dit vat my van hier tot daar. (Hy beduie oor sy ken en neus.) Maar dis die tipe goed wat met my al gebeur het.

Wat ek wel gekry het, is ontsettend baie briewe van mal mense. Mense wat in gestigte was. En snaaks genoeg, ná die Silbersteins.

RH: Silbersteins vat 'n mens diep die donker in.

LE ROUX: Maar interessant, hulle ontdek nou daar is nooit 'n oplossing in my boeke nie. Daardie tydjie van evil is eintlik baie grillerig, en ek het nooit 'n oplossing gegee in die Silbersteins nie...

Elizabeth: Yes. (Terug van die dorp, tref sy die voorportaal.)

KP: Yes.

Elizabeth: Ek het 'n avontuurlike oggend gehad. Die dokter wil 'n eenheid in die ouetehuis aan my verkoop...

Stephen: Die dokter?

Elizabeth: Ja, en ek het een rassistiese grap gehoor, en ek het een vuil grap gehoor...

KP: Daar bedonner jy ons hele storie.

Persoonlike gereedskap