Die Leroux van Koffiefontein (Insig, 2002-05-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

In Koffiefontein se poskantoor het 'n toonbankklerk met die raaisel van Etienne Leroux kennis gemaak. Vandag is die skrywer van Magersfontein, o Magersfontein!, nie meer van hierdie lewe nie, maar daardie einste klerk danksy hom 'n gesiene dramaturg: PIETER FOURIE onthou die pad wat hy geloop het met "Klein Stephen" - tot by Gert Garries - 'n Baaisiekel- babelas* wat pas by die KKNK opgevoer is.

Vir vakansiegangers op Onrusrivier was hy die alleenman op die rotse, in swart geklee. Vir die meeste van sy kollegas was hy 'n prikkelende raaisel: Hoe, wie en wat verken hy tot in die fynste detail van agter sy gitswart sonbril, dag in en dag uit?

Ons Suidwes-Vrystaters, die mense van sy heimat, het Etienne Leroux geken as "Klein Stephen", die anderste boer met die Oom Paul-baard. Stil, ja. Alleen, ja. Maar ontmoet hom op 'n veevendusie, 'n stoetveiling in Kimberley of Bloemfontein of in die kroegie van Koffiefontein se Central-hotel, en dié regsgeleerde gesels met landboukundige verantwoordbaarheid die mees deurwinterde boer katswink.

Begin 1958 beland ek, pas bevorder van posbode tot toonbankklerk, op Koffiefontein. Die anderste boer kom twee keer per week pos afhaal. Soms kom sy vrou, Renée. Wanneer daar niemand in die poskantoor is nie, staan ek dikwels agter die toonbank en prentjies teken of rympies skryf om die tyd te verwyl. Op 'n dag betrap Renée my op heterdaad. Sy wil die prentjie sien. Sy kyk. Ek bloos. Ek word Ja-nee toe genooi vir 'n braai, sê ja, word gevra om nóg prentjies saam te bring, sê ja, en besluit om sommer ook 'n rympie of twee in die koevert te glip. Die Saterdagmiddag láát (niks en niemand steur Klein Stephen tydens sy middagslapie nie) is ek op hul plaas.

So tussen die tjoppies en poetoepap deur beweeg'n paar prentjies en rympies van hand tot hand en die gemoedelike slotsom is: "Gooi maar die kwassie weg, maar hou die pen... Daar kan dalk eendag iets gebeur." Renée verskoon haar en stap na haar pragtige ateljee eenkant in die tuin.

Ek noem terloops dat ek in Bloemfontein in die Dan Pienaar-tehuis "vir Christelike jongelinge uit die platteland" geloseer het. "Wat?" roep Stephen uit en haal uit pure opgewondenheid sy sonbril af.

Dit was slegs enkelinge beskore - en dan net in seldsame oomblikke - om 'n mistieke oogkontak te beleef.

Ek kon aanvoel daar is musiek in sy ore en kon blink duiweltjies in sy oë sien dans. Steeds brilloos stotter hy soos 'n opgewonde kind: "Dis mos daar by die kragstasie se stoomtorings naby Harvey Road. Daar waar die shunters, die posbodes en die êppie-mechanics bly."

"Net so," bevestig ek verward.

"Die Olimpus van die ducktails! Ken jy hulle?"

"So te sê almal," knik ek.

"Jy is Mercurius!"

"Ek is wat?" vra ek.

"Ken jy hul Zeus?"

"Hul wat?"

"Hul leier," sê Stephen.

"O, ja. Die Brown-brothers van Monument Road." Dié pa en sy hand vol seuns het met hul fietskettings die vryheid van Bloemfontein aan hulself toegeken.

"Eureka!" roep Stephen, en ontdek half skuldig die bril in sy hand, sit dit op en skink vir ons nog 'n dop. Alles, maar alles was vir my totaal Grieks. Ná die tweede dop gaan die lig so effe vir my op: "Ek skryf 'n roman, Die Mugu. Daar's ducktails in, sheilas ook. Ek ken hulle uit koerantberigte, sien hulle saans rondhang in Bloemfontein op die Hoffman-plein voor die Ritz-bioskoop en die Cecil-hotel. Verder weet ek niks. Ek moet by hulle uitkom, hoor hoe hulle praat, hulle belééf."

'n Week later is dit die nag van belewenis in die motorhuis van sy lewenslange vriend dr. Jan Stegmann in Bloemfontein. Wat 'n nag! In sy opwip en die heupswaai van 'n sheila op die maat van "Jailhouse Rock" verstuit hy 'n enkel en loop weke daarna nog mank.

Sy sin vir verkenning, ervaring en belewing was altyd daar. Die sensasie van sy eerste rit in die einste Jan Stegmann se 1958-Mercedes 300SL teen 160 m.p.h. (dis 256 km/h) tussen Koffiefontein en Petrusburg het hom lewenslank bygebly.

Met nuwe ywer het ek met my rympies en digterlike pogings voortgegaan tot Stephen en Renée my oorreed het om as hardebaard weer op die skoolbanke te gaan sit. In my matriekjaar kry ons opdrag om 'n opstel oor 'n mooi natuurverskynsel te skryf. Ek bel Stephen van die koshuis se tiekieboks af. " 'n Skrywer moet 'n eie stem hê en altyd verras. Skryf oor droogte!" was sy onmiddellike antwoord. Die reaksie van my Afrikaans- onderwyser was: "Hoekom jou tyd mors? Plak net 'n foto van jouself in die opstelboek." Stephen was ontstoke!

Altyd terug na die mites en die argetipes, ja, maar dan ingeweef in die hede en die persoonlike belewenis.

In die Kaap kry ek 'n oproep uit Koffiefontein. Hy kom Llandudno, na hul standhuis, toe en hy móét in Darrel's en Catacombes, dié twee berugste late night joints van die Kaap in die jare sestig, kom. Gevaarlik of te nie, ek moet 'n plan maak, dis noodsaaklik. Hy begin 'n nuwe roman, Isis, Isis, Isis, en wil op 'n nag daar besoek aflê as die plekke voluit pols. Ek sê hom nie dat ook ek dié plekke as 'n vreemdeling in Jerusalem sou betree nie. Dis egter nie 'n te groot probleem nie, want twee van my teaterkollegas, die legendariese Nerina Ferreira en Fitz Morely, word as kenners van die Kaapse naglewe ingespan as chaperones.

Wat 'n nag sou dit nie wees nie! Stephen en Renée daag op saam met twee van die Kaap se mees deurwinterde kultuurgeeste, Basil en Sue Robinson van Ashbey's Galleries. Ek word vergesel deur prof. Dennis Cowan, vader van Lesotho se grondwet, en Wendy Penny, 'n 19-jarige Florence Nightingale van die Groote Schuur-hospitaal. Professor Cowan is uitgedos in 'n wit Tuxedo, maroen strikdas, 'n meerskuimpyp en 'n sagtebanduitgawe van Milton's Verse in die hand. Daardie nag se gebeure is in die fynste besonderhede geboekstaaf in die openingstonele van Isis, Isis, Isis.

Ook kon ek myself as "Pieter Jordaan, die narcistiese regisseur getooi soos 'n blomkind", ontdek.

Mense van dié nag het karakters in Isis, Isis, Isis geword. Die omgekeerde het gebeur een onvergeetlike aand toe 'n karakter uit Een vir Azazel in lewende lywe voor Stephen kom staan.

Dit was tydens een van Doks Briers se nasionale leeskringsaamtrekke op Welkom. Lank ná middernag gesels skrywers en hul aanhangers van oral in die plaaslike Holiday Inn 'n hond uit 'n bos uit. Tienuur was alle ander kroeë al toe en skielik verskyn 'n dors vreemdeling in ons midde: 'n reus van 'n man - nie lank nie, maar hoog, ver by twee meter verby. Stephen se bril het tot op die punt van sy neus gesak terwyl hy, asof in 'n beswyming, stadig uit sy stoel orent kom met die woorde: "My God! Dis Adam Kadmon Silberstein." Wat hierna tot amper dagbreek tussen dié mynwerker en Stephen gebeur het, sou 'n toneel in enige Leroux-roman kon wees. Die hoogtepunt was egter toe Adam Kadmon vir Stephen met een arm optel en hom reg voor hom op die kroegtoonbank plaas, 'n piksoen gee en trots stamel: "As ek nie so getrek was nie, sweer ek ek het nou net oom Paul Kruger gesoen!"

Nóg 'n heuglike toevalligheid was om saam met hom aan te sit by die indrukwekkende kliptafel in Ja-nee se kroegie toe die nuus breek dat die Hertzogprys toegeken is aan die verbode Magersfontein, o Magersfontein!. Die geskiedenis van dié werk was net so absurd en bisar soos 'n fragment uit 'n Leroux-roman. Dié nag het die plaaslyn-telefoon herinner aan die borshare van 'n seun in laat puberteit: twee kortetjies, drie langes en die res sukkel om deur te kom.

Laatnag kom Renée se oproep om hom geluk te wens tog deur. (Stephen en Renée was toe al etlike jare vriendskaplik geskei en Stephen weer getroud met Liesbet, 'n hoogs talentvolle dog temperamentele pianis.) Liesbet weier om hom na die foon te roep en plaas die gehoorstuk terug op die mik. Ek kyk op na 'n kaal muur waar Renée se meesterlike muurskildery, geïnspireer deur Rebecca van Daphne du Maurier, soveel jare gepronk het, maar nou uitgewis is deur verterende verf, en besef: Die voetpaadjies van die liefde kronkel dikwels deur eksotiese dog onvoorspelbare woude.

Tog was Renée, wat dié unieke, smaakvolle plaashuis met die hulp van 'n enkele plaaswerker letterlik eiehandig geskep het, daardie aand en tot vandag nog as 'n derde oog teenwoordig.

Tussen die feesvierings deur treur ons oor die bedreiging van vooruitgang: die Central-hotel, die ou markplein, Reinach se winkel en die Springbokkafee, vroeër bekende landmerke op Koffiefontein. Die bewaring van ons argitektoniese erfenis was vir hom heilig. 'n Paar jaar later het ons juis in só 'n gebou, De Oude Werf op Stellenbosch, langs mekaar gesit toe sy Die eerste siklus en my Ek, Anna van Wyk deur HAUM- Literêr vrygestel is.

Hy het een van Die eerste siklus se eerste eksemplare vir my gegee met die inskrywing: "Vir Pieter, die posbode wat toe die hoof (van Kruik-drama) geword het."

Drie jaar later het ons in 'n hotelkamer op Langebaan ná 'n swerftog deur die Sandveld ons laaste gesprek gehad.

Stephen het uit die bloute opgemerk dat hy my beny omdat ek 'n volksdrama soos Faan se trein en 'n meer letterkundige werk soos Ek, Anna van Wyk kon skryf, en dat albei goed ontvang word deur die media en die publiek.

Hy was gefrustreerd omdat dit hom nie gegun is om 'n doodgewone, realistiese storie óór en vír Jan Alleman te skryf nie. Sy lesers het elke keer 'n werk op die vlak van Sewe dae by die Silbersteins of Magersfontein, o Magersfontein! verwag.

Stephen het 'n werklike behoefte gehad om só 'n roman te skryf. Skielik kom dit deerniswekkend hoopvol: "Dink jy nie ek is met Onse Hymie al op pad nie?" Ek swyg bedagsaam, eintlik skuldig, omdat ek dié werk toe nog nie gelees het nie. Hy begryp die oomblik woordeloos. Ek het hom daarop gewys dat hy in Magersfontein, o Magersfontein! reeds twee "klein mensies" geskep het wat smeek om verder ontgin te word: Gert Garries, die seningtaaie plaaswerker, en Le Grange, die spietkop met sy gesagafdwingende, elmbooglengte wit handskoene van kunsleer.

Stephen het saamgestem dat dié twee kamee-karakters inderdaad in 'n ander konteks ontwikkel sou kon word as aangrypende hooffigure. Die vonk is onmiddellik in my losgeslaan en ons het begin gesels oor Tom Stoppard se bekende drama Rosencrantz and Guildenstern are Dead, wat gegrond is op twee kamee-figure in Hamlet. In dié drama word die bordjies verhang en word Hamlet 'n kamee-karakter.

Stephen het van my idee gehou en my selfs aangemoedig om 'n volksdrama oor dié twee karakters te skryf.

Ek het twaalf jaar lank oor die gedagte gebroei voordat ek Gert Garries - 'n baaisiekel-babelas geskryf het, want dit is 'n geweldige uitdaging en verantwoordelikheid om met Stephen se karakters om te gaan sonder om die statuur van sy werk aan te tas.

Maar soos só baie van Stephen se karakters het ook Gert Garries hom nie laat vasknoop in 'n enkele werk nie. Sy verhaal sal uiteindelik 'n tweeluik wees. Die tweede deel, Gert Garries en die Magersfontein-baaiskoup, spook reeds in my kop...

* Gert Garries - 'n Baaisiekel-babelas is by vanjaar se KKNK opgevoer met Anthony Wilson en Dawid Minnaar in die rolle van Gert Garries en Le Grange, en Marthinus Basson as regisseur.

Op 'n INSIG-voorblad net meer as 'n dekade gelede was daar 'n indrukwekkende, amper demoniese foto van Etienne Leroux met die onderskrif "Aap van God".

Persoonlike gereedskap