Die Groot Vernuwer (Insig, 1999-12-01)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
ELIZE BOTHA
Etienne Leroux kan met reg in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis die naam dra van Die Groot Vernuwer. Reeds in 1961 skryf NP van Wyk Louw in die boek wat 'n groep verspreide jonger en ouer skrywers tot 'n beweging saamgebind het, "Vernuwing in die prosa", van Leroux as die vashoudende eksperimenteerder wat met elke boek 'n nuwe worp na een of ander radikale vernuwing doen. Dit was na aanleiding van Leroux se eerste trilogie: "Die eerste lewe van Colet, Hilaria" en "Die mugu".
Daarna, in 1962, het die deurslaggewende "Sewe dae by die Silbersteins" verskyn, 'n roman wat die landskap van die Afrikaanse prosa ingrypend verander het. Maar "Sewe dae" het ook ingegryp op die verhouding tussen die skrywer en die gemeenskap, op die verwagtinge wat lesers van 'n literêre kunswerk koester.
'n Ongekende polemiek is ontketen. Ook die apparaat en strategieë van die literêre kritiek moes verander, om met groter doelgerigtheid te bou aan 'n kundige en toereikende leserspubliek, om die nuwe en uitdagende werk teen die vyandskap van 'n gekrenkte samelewing en hul politieke leiers te beskerm.
Elke roman van Etienne Leroux, selfs van die laaste onvoltooide fragmente, is herkenbare parodieë van tradisionele romanvorme. Ontwikkelingsroman, plaasroman, "Künstlerroman", reisroman, historiese roman, skelmroman - almal het onder sy ontleedmes deurgeloop, soos ook die Suid-Afrikaanse samelewing, ja die mensdom self, wat onderwerp daarvan gevorm het.
Die ontleedmes bring nuwe kennis aan die lig; roman na roman van Leroux was 'n anatomiese les. Deur Leroux se werk is die romanvorm, die romankritiek én die gedrag van romanlesers vernuwe. En tog: al die tegelyk vernietigende en suiwerende insigte wat deur sy romans gedra word, die openbarende momente in die belewenis van sy karakters, ontstaan uit die feeste en vierings, partytjies, uitbundige optogte wat die hartklop van elke roman is. Sodat nie net die literêre nalatenskap nie, maar ook die herinnering aan 'n man genoem Stephen, ingebed is in 'n ervaring van feestelike samesyn.
Soos die knolskrywer aan die einde van sy groot elegie, "Na'va", versamel hy nog steeds al sy "vriende, familielede, aanverwante, geliefdes en kennisse" as hy reguit kyk in die oog van die son.
- Elize Botha is die boegbeeld van die Afrikaanse letterkunde.