Die Derde Oog Sien Amerika Hier By Ons! (Tydskrif vir Letterkunde, 1967-05-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

By die eerste lees van Die Derde Oog word 'n mens getref deur die Amerikaansheid daarvan. Amerikaanse woorde word gebruik: shopping centre, tycoon, Camp, honey, pop-art, blue jeans ens. Amerikaners word genoem: Benjamin Franklin, Edward G. Robinson, Joan Baez, J. P. Morgan, Jean Harlow, Liberace, Jane Mansfield, Clara Bow, Marilyn Monroe, Kim Novak e.a.; Amerikaanse danse word genoem: die watusi, locomotion, surf, slop, frug. Amerikaanse tydskrifte word genoem: Esquire, Ladies' Home Joumal, Physique Pictorial, Strong Man. Die hele boek wemel van dinge wat 'n mens uit hierdie en ander tydskrifte vereenselwig met Amerikaanse instellings, Amerikaanse gebruike - met die "American way of life".

Die D-diens, die F.B.I. en die C.I.A.

Die geheime D-diens in Die Derde Oog is dekadent. In Fred Cook se boek The F.B.I. Nobody Knows, is die "degenerate element" in Amerika se Federal Bureau of Investigation aan die kaak gestel. Ook Amerika se geheime Central Intelligence Agency word gereeld aangeval. Die C.I.A. was onlangs weer onder skoot omdat dit uitgelek het dat hy studente-organisasies finansier en inspan in sy wêreldwye inligtingsnetwerk. Die Derde Oog se Brigadier Omassis E., hoof van die D-diens, sê op bl. 22: "...ons teenwoordigheid maak hulle onrustig. Hulle voel dat ons bestaan nodig is, maar hulle beskou ons optrede as immoreel." In die Time Magazine van 21/2/67 sê 'n ondersteuner van die C.I.A.: "When they say that this kind of work is immoral, what they are saying is that it is immoral to have anything to do with telling the President what the world is really like". Die Brigadier sê ook: "Vir die polisieman en speurder word alles vergewe, maar die gemeenskap duld nie die sukses van die Diens nie". 'n Personeellid van die C.I.A. sê in die Time-artikel: "The C.I.A. has become a dirty household word; it has become fashionable to knock it". In 'n Esquire-artikel van Maart 1961 wys John V. Lindsay op die "ambiguity" van die C.I.A. "The C.I.A. is both witness and judge..." en hy vind dit jammer dat "... the C.I.A. was shaping policy". Die D-diens wat kastig in diens van die gemeenskap staan, doen nie net verkenningswerk nie, maar vertolk en beoordeel self sy waarnemings en skryf vir die gemeenskap voor watter "beleid" gevolg moet word. Op die end is die Brigadier geklee soos 'n "bedryfsleier" en het hy selfs "geestelike leiers" en wetenskaplikes in die holte van sy hand. (Hier het ons waarskynlik 'n sinspeling op die mag van georganiseerde arbeid wat veral in Amerika 'n ontsaglike invloed uitoefen.)

Die D-diens en die Playboy-klubs

"The buzz of cocktail chatter and the clink of ice cubes shrink the vast room with its monumental fire place, panelled walls, beamed 22-ft. ceiling and two suits of mediaeval armour. Soft, round girls curl up with boy friends on couches beneath immense paintings by Franz Kline and Larry Rivers. The men are relaxed, confident, plainly well off. A scene straight out of Playboy magazine? Precisely" (Time Magazine 3/3/67) And out of Die Derde Oog! Die losie van die D-diens is baie soos Amerika se Playboy-klubs ingerig - net nog meer uitspattig - en die nooientjies van die Diens net sulke lekker "party girls" soos die Playboy Bunnies. "... hul borsies beur tergend bokant hul rokkies uit, hul boudjies roer onder styfpassende rokkies ( daar's "oulike" foto's by die Playboy-artikel in die Time Magazine van 3/3/67) ... hulle houdinkies en armpies gereed om een na die ander die jongmans van die Diens te ontvang wat langs hulle gaan lê." Hugh Hefner, die brein agter die Playboy-organisasie "likes the young pouty type without complications of excessive intelligence". Die Brigadier vereis "geen besondere kwalifikasie behalwe die klaarblyklike nie". Hope de Goede, "volkome oorgegee aan die bekoring van die Diens", word geboei deur "'n nuwe gedagte", die gedagte wat Hefner jarelank en maand na maand formuleer het in sy rubriek Playboy Philosophy: "'n voller lewe, seks as 'n soort religie, 'n betekenisvolle diensbaarheid" (Die Derde Oog, bl. 36). Die beskrywing van die Brigadier (skraal met die gesig van 'n askeet) pas Hefner haarfyn. Die Brigadier slaap op 'n "driedubbelbed"; Hefner het 'n ronde bed wat 8½ vt. in deursnee is.

Neo-sekulêre orde

Op bl. 115 sê die "gewyde", "bekeerde", " verheerlikte", "hervormde" eendstert wat die woorde "Jesus Saves" agter op sy leerbaadjie dra: "God is dood. Ons ken nie meer die Gewyde, Onskendbare nie". Hy is "bekeer tot die Christelike neo-sekulêre God-was-daar-maar-God-is-dood" (bl. 109), waarskynlik deur dié teoloë van wie ons in die Time Magazine van 8/4/66 lees: "Even with Christianity... a small band of radical theologians has seriously argued that the churches must accept the fact of God's death, and get along without Him... Princeton theologian Paul Ramsey observes that ours is the first attempt in recorded history to build a culture upon the premise that God is dead". Die eendstert wat homself "oorgegee" het aan "die radikale Christelike etiek", 'n gewone sedeleer sonder "misterie", sê ook: "Christus sou die sekularisasie van ons tyd begryp het... Hy is van hierdie wêreld... Sy taal is nie van engele en satans nie maar van behuising, stemreg en lewensruimte." Time Magazine sê i.v.m. hierdie "New Christianity" en "secular rebellion": "Protestant faith now means not intellectual acceptance of an ancient confession, but open commitment - perhaps best symbolized in the U.S. by the the civil rights movement - to eradicating the evil and inequality that beset the world". Die eendstert stel dit so: "Daar is niks behalwe ons aardse verpligtings en Christelike liefde vir alles en almal". "Some contemporary ministers and theologians... suggest that the church should stop using the word God for a while, since it is freighted with unfortunate meanings... By talking almost exclusively about Christ, the argument goes, the church would be preaching a spiritual hero whom even non-believers can admire". "Die sekulêre orde is die orde van die nuwe Jesus..." sê die eendstert. "I don't know whether I'll ever believe in God", het 'n Amerikaanse tiener gesê, "but Jesus is my kind of guy" (Time Magazine 8/4/66).

Motorkunstenaars

Bee-Bee-Doo, die seksgodin wat in die shopping centre aanbid word, lê begrawe in Forest Hills "... onder 'n eenvoudige swart grafsteen ontwerp deur Alan Marshall, die skepper van die Flaminco 7, die Raven en al daardie sportmotors waarvoor sy so lief was - 'n laaste huldeblyk in stoflike vorm aan iemand met 'n goddelike gestalte" (bl. 89). Lesers wat dit vreemd vind dat 'n ontwerper van die bakwerk van sportmotors as 'n "skepper"/kunstenaar/beeldhouer voorgestel word, kan gerus Tom Wolfe se artikel The Kandy-Kolored Tangerine Flake Streamline Baby lees. Dit het oorspronklik in Esquire verskyn en is later ingesluit in die boek met dieselfde titel. Die Alan Marshall van wie ons in Die Derde Oog lees herinner sterk aan "complete artists" soos George Barris, Ed Roth en Dale Alexander wie se werkswinkels/garages in werklikheid "studios" is waar motors soos die Mysterion en Silhouette voortgebring word. Wolfe sê van Barris: "He's not building cars, he's creating forms... In his showroom... Barris has a corner practically papered with photographs of cars he has customized or handmade for Hollywood people: Jane Mansfield, Elvis Presley, Liberace..."

Lekker begrafnisse

In sy Death of a President skryf Manchester dat die begrafnisondernemer wat die lyk van Kennedy gekis het tipies is van dié ondernemers wat in Evelyn Waugh se satire, The Loved One, gehekel word. Die kapel van Vernon Oneal in Dallas "... had a wall to wall carpeted slumber room, piped religious music, a coffee bar for hungry loved ones, and a fleet of white hearses - white because the owner felt that death should never be depressing". In Die Derde Oog lees ons van die lyk van Bee-Bee-Doo: "... haar gesig skrilhelder geverf tot kunsmatige lewe deur Abercombie & Phiz, die vrolike Amerikaanse begrafnisondernemers." Na Boris Gudenov se dood, word daar vir hom 'n begrafnispartytjie gehou wat deur die Brigadier gelei word, hoewel daar 'n hele paar biskoppe teenwoordig is. Nadat 'n ingeboude outomatiese orrel It's the End of a Perfect Day gespeel het, stel die Brigadier 'n heildronk in en ledig een kelkie na die ander. Hy lees nie uit die Bybel nie, maar "nuwe verse van die groot digter" (bl. 167), en lewer dan 'n toespraak. Die eendstert tokkel op sy kitaar en die tieners dans die watusi.

Gevaarlike kinders

Demosthenes en Hope de Goede se vier aangenome kinders is vernielsugtige klein monstertjies wat alles aftakel. In die shopping centre kyk Demosthenes "... na die tieners... en na die ouers wat ter wille van hulle kinders alles veroorloof". In die fotobundel America and the Americans, skryf John Steinbeck onder die opskrif "The Pursuit of Happiness": "In nothing are the Americans so strange and set apart from the rest of the world as in their attitudes toward the treatment of their children. In most Americans this is more than a symptom - it is a syndrome which often becomes trauma; and it is not surprising that even Americans are often frightened by their child-raising activities, and even more by the products. Indeed, in America paedotrophy has caused what amounts to a national sickness." Hy wys verder op die "extreme permissiveness" van die ouers, die kinders se "reign of terror" en hul belangrikheid in die verbruikersmark: "Children dictate what foods are to be served, what clothes are worn..."

Tieners wat die toon aangee

Die Esquire van Julie 1965 vra: "Does to-day's teen-ager influence the adult world?" - en kom tot dieselfde gevolgtrekking as Thomas Wolfe wat sê: "... all those teen-age styles of life have started an influence on the life of the whole country." Die eendstert help die "verdwaalde" kaptein om in die middestad en by die shopping centre uit te kom, en gee hom later dié raad: "Jy moet tred hou met die lewe. Jy moet die ritme ken: die ritteltit van ons tyd". Dan steek hy "sy dun, gespierde armpie déur die dikke van die kaptein en lei hom ongemerk na die deur van die shopping centre" (bl. 73) - sy wêreld in. Op bl. 85 lees ons: "Kaptein Demosthenes de Goede aanvaar sy lotsbestemming dat hy deur tieners begelei moet word en gaan saam met hulle..." Begelei beteken hier meer as vergesel; dis eerder lei in die musieksin: die toon aangee.

Die ritteltit-ritme van ons tyd

Op bl. 75 skryf Etienne Leroux van "die altyd aanwesige musiek" in die shopping centre. In die Time Magazine van 21/5/66 lees ons: "The big beat is everywhere... It has become the international anthem of a new and restless generation, the pulse beat for new modes of dress, dance, language, art and morality... A surprisingly large segment of 20-40-year-olds are now facing up to the music and, what is more, liking it. Mostly the appeal is the relentless beat... Even evangelists have adapted to the new beat..." In sy artikel The Fifth Beatle skryf Wolfe van tieners met transistorradio's "plugged into their skulls". Hulle wil altyd musiek in die agtergrond hê, en wanneer daar nuus of 'n advertensie uitgesaai word... "(then) they start turning the dial, looking for the atmosphere they lost". In Die Derde Oog wag een van die shopping centre-karakters "vir die agtergrondmusiek om die gepaste stemming te bereik". In die Esquire van Februarie 1967 lees ons in 'n artikel oor The New American Woman... "she almost always needs music playing".

Geen privaatheid of behoefte daaraan nie

Die Esquire van Mei 1966 bied besonder interessante leesstof t.o.v. Die Derde Oog. (Op die voorblad is 'n slapende nooi. Haar oë is toe, maar op haar voorkop het sy 'n derde oog wat 'n mens wawydoop aanstaar.) 'n Subtitel by 'n artikel oor seksvoorligting lui: " Why is the American bedroom so crowded? Two people there should be enough." In Die Derde Oog toon die karakters geen behoefte aan privaatheid nie. Elke keer as mnr. en mev. De Goede bed toe gaan om nie te slaap nie, hardloop hul kinders deur die kamer. Die Transvaler van 25 Februarie 1967 meld dat Jane Mansfield in 'n skeisaak betrokke is en dat haar kinders glo dikwels gesien het hoe sy owerspel pleeg met haar agent of iemand. Brigadier Ornassis E., 'n "skraal mannetjie", slaap op 'n drie-dubbelbed. G'n wonder hy't "die gesig van 'n askeet wat al baie sonde gesien het" nie. Gudenov se seun is 'n regte klein "Peeping Tom" wat sy pa gereeld afloer. Gudinov se "heiligdom" is 'n "glaskamer" met 'n "glasdeur". "On all levels of society, privacy has become a lost Eden... few really practise it' (Time Essay (22/4/66).

Kunsmatige seksuele stimulasie

Arme Hope gooi prikkelmiddels in mans se drank. Die 1966-Januarie-uitgawe van Cosmopolitan bewapen sy leseresse met prikkelresepte: "New Cookie Cures for Frigidity". Die Februarie-uitgawe bied "Six Immoral Chocolate Desserts" en spoor vroutjies aan "to go gloriously, orgiastically all the way chocolate".

Homoseksualisme

Al die mans in Die Derde Oog is verwyfd. Selfs Boerseun Demosthenes neem deel aan die inwydingsorgie saam met die ander mans van die Diens, en kyk later met groot belangstelling na die fris kêrels in Physique Pictorial en Strong Man. Newsweek van 25/4/66 sê: "Most critics agree that homosexuality does permeate mass culture via the twilight zone of pop known as Camp".

Die Kaptein as "superhero"

In Newsweek van 25/4/66 lees ons: "From the Bogart hero - visceral, ruthless, virile - evolved the current form of the pop movie, the James Bond superhero. It is the idea of the stylized person who is invincible and inviolate. He has no faults, no introspection, no self-realization." Dis kaptein De Goede dié, "kampvegter" duisend wat deur die Brigadier gekies word om verkenningswerk te gaan doen "waar menige van ons bevrees is om te gaan", magtige kaptein De Goede wat in die shopping centre ontpop as "pop"-held en deur 'n kudde tieners gevolg word. Weens sy Afrikaansheid (De Goede is op een vlak 'n karikatuur van 'n verstokte Afrikaner wat slegs op 'n plek soos Welgevonden-as-Afrikanerstan rus en vrede kan vind) verskil die kaptein tog in sekere opsigte van die moderne rolprentheld. Die "superhero" is ook "completely in the pop mainstream of anti-tradition, anti-authority. He lives for now and laughs at himself". Die kaptein, daarenteen, dien die gemeenskap, gehoorsaam die owerheid, leef om eendag af te tree en het geen humorsin nie. Sy Afrikaansheid maak van hierdie (soos James Bond) Beretta-draende superheld wat 'n halwe bottel whisky drink terwyl hy skeer, 'n komiese figuur - en dit geld vir die hele boek. Waar die Amerikaansheid kruis met iets wat ons as tipies Afrikaans herken of aanvoel, daar geniet ons Die Derde Oog as satire.

'n Mens kan ook nog die mening waag dat Bee-Bee-Doo 99% Marilyn Monroe is; dat die brigadier op een vlak 'n pragtige kombinasie is van die outydse wrede en gevreesde "gangster"-leier en die moderne "double agent"; dat die kommersialisering van die huwelik - nog 'n verskynsel van die 'gone'-wêreld - veral in California hoogty vier (lees Love in America - die Saturday Evening Post van 7/1/67); dat omtrent al die vroumense in Die Derde Oog 'n byekorfkapsel of soortgelyke haarstyl verkies - die "pop"-haarstyl van 'n paar jaar gelede, die haarstyl van tieners soos die Jersey-meisietjies met hul "exploding hair... bouffant heads, beehives and Passiac pompadours" wat New York se Peppermint Lounge beroemd gemaak het (lees The Peppermint Lounge Revisited van Tom Wolfe); dat die verslaafdheid aan "Purple Heart"-tablette heel eerste in Amerika kop uitgesteek het (vandag is dit LSD); dat 'n mens in "Brand, tycoon, brand" 'n eggo hoor van die negerkreet tydens die 1965-onluste in Amerika: "Burn, baby, burn!"; dat die manier waarop De Goede sy vrou en kinders om die lewe bring al donkiejare deur Hollywood gebruik word; dat winkels nog net in Amerika deur die nag oop bly; dat "die dood van tradisie" nêrens so opvallend is as in Amerika nie (lees die Time Essay van 22/4/66: On Tradition, Or What Is Left Of It); dat die sake-tycoon Gudenov ook "a face in the crowd" geword het, verdwerg en verslaaf deur die omvang van sy sakebelange... soos Fred Cook sê van Amerika se groot geldmanne: "... they have become submerged behind the facades of their innumerable corporations and foundations. This is a relatively new world - a world of infinite and impersonalized bigness in which the institution, not the man, sets the standards" (The Corrupted Land, bl. 13). Daar's nog ander tipies Amerikaanse dinge, maar kom ons kies liewer kortpad na die grootste Amerikaanse simbool in Die Derde Oog: die shopping centre.

Die shopping centre as "pop"-sentrum

Die shopping centre, die Gudenov-wêreld, verteenwoordig myns insiens die Amerikaanse "pop"-kultuur. "Pop" is nogal moeilik om te definieer. In Newsweek van 25/4/66 word die volgende leidrade gegee: "Pop is what's happening" ... "Pop is an affectionate way of referring to mass culture, the whole man-made environment" ... "pop is happiness, it's todayness; the feeling we can't afford to wait for years for appreciation" ... "pop-artists are anti-establishment, anti-tradition, anti-formal" ... "Dadaism was a rebellion, an attempt to jolt by the use of commonplace objects - pop is the further commercialization of Dada" ... "pop artists are calling attention to the abstract quality of banal images" ... "intellectuals still hate pop. Average people like it. It's easier to understand" ... "youth is recognised as the real aristocracy of pop" ... "another sub-species of pop is the love of trivia" ... Die "pop"-wêreld is 'n middelklas-met-geld-wêreld. In dié verband sê Gernrich, die ou wat die "no-bra-bra" uitgevind het: "... haute couture was based on the tastes of aristocracy. Now all styles stem from the people, particularly the young". Die "pop"-kultuur is in 'n groot mate 'n reklame-kultuur. "Instead of being a source of disgrace, to be commercial these days is to be fashionable." ('n Teenstander van "pop"-kuns het daarna verwys as "Advertising art which advertises itself as art that hates advertising".) Etienne Leroux bestee baie bladsye aan die shopping centre, want "pop" en alles wat dit inhou, maak 'n groot gedeelte van die "American dream" uit. "In five years pop has grown from a label for what appeared to be a minor phase in art history to a mass psyche. It has captivated the Great Society, thrived in its prosperity and exploited its restlessness." Alles wat hier oor "pop" gesê word, tref ons in die shopping centre aan, alles behalwe die "happiness" wat hierbo genoem word. Origens is alles daar: van die reuse-foto's van Bee-Bee-Doo ("pop"-kuns is bekend vir die "giant scale" daarvan) tot die onderbroeke, vliegpapier en ander "trivia" wat op bl. 150 gelys word. Daar's die uitbuiting en kommersialisering van alles. Daar's die "intellectual", die brigadier, wat eers vyandig staan teenoor die Gudenov-wêreld, maar uiteindelik ook daardeur ge-"captivate" word en dan praat van "ons gewone ('average') mense". Daar's die "man-made environment"; die "restlessness"; die leidende rol wat tieners, veral die eendstert, speel. Ook in die shopping centre word die lewe "vereenvoudig" ("easier" gemaak) - "sodat almal dit kan verstaan " (bl. 171). Die kuddekultuur is 'n kitskultuur.

In sy boek oor DADA kyk Hans Richter met 'n baie kritiese oog na "pop-art", en in sy bespreking van die "intellectual and moral situation" waaruit en waarin hierdie nuwe kunsvorm tot stand gekom het, wys hy op dinge wat oor en oor in Die Derde Oog herhaal en beklemtoon word. Richter praat byvoorbeeld van "an empty existence", van die "cultural pessimism that led to Pop Art, the surrender to nothingness... the readiness to accept nothingness" (bl. 213). "Daar is niks," sê die eendstert op bl. 114. Ander karakters praat van "leegheid en niks", vind dinge "betekenisloos". Op bladsy 204 haal Richter psigiater Fraenkel aan: "... we have destroyed within ourselves the instinctive certainties of the animal world to which we belong (ek dink dis min of meer wat Leroux met "die dood van oerbelewenis" bedoel), while at the same time losing our sense of social coherence and tradition (in Die Derde Oog is almal eensaam, en op die end word gedrink op "die dood van tradisie"). "Nothing is left to tell man what he should do (die eendstert sê niks is reg of verkeerd nie), and soon when he no longer knows what he should like to do, he will be in a state of total confusion..." In die shopping centre tref ons 'n kaptein De Goede aan "wat in die chaos magteloos deel van die chaos bly." Ons lees ook van "verwarring", "sekulêre chaos", "eksistensiële chaos", 'n "onverstaanbare warboel." Richter sê verder (op bl. 205): "This is not a rebellion, but the opposite: an adjustment to so-called popular taste... uncompromising revolt has been replaced by unconditional adjustment." Die brigadier wat op bladsy 123 sê "Ons durf nie ons besef van heiligheid verloor nie", "adjust" sy beleid en teen die end word almal "versoen" met die sekulêre waarheid wat o.a. daarop neerkom dat die heroïese nie meer bestaan nie. De Goede voel dit op bl. 116 só aan: "... dat volwaardigheid nie meer bestaan in 'n grootse offer vir 'n grootse saak nie, maar 'n deemoedige aanvaarding van geringe dinge, want alles is gering en niks is meer groot nie." Richter sê ook: "... the stress on the moment and the momentary state of the self. In this there may be a new 'aesthetics of the moment' as expressed in all Neo-Dada's manifestations, whether they are called Happenings, Neo-Realism or Pop Art!" (bl. 212). 'n Mens kan ook praat van 'n etiek van die oomblik, of 'n "etiek van die situasie" soos Etienne Leroux dit op bl. 148 stel: "Alles word onmiddellik herlei tot die vergewensgesinde etiek van die situasie wat alles verklaarbaar en verskoonbaar maak..." "The traditional rules are giving way to 'situation ethics' - meaning that nothing is inherently right or wrong", but must be judged in context on the spur of the moment (Time Essay, 22/4/66). Die eendstert sê: "Niks is reg of verkeerd nie behalwe in verhouding tot die situasie..." Op die end is die meisies gereed "om die mans op suiwer menslike grondslag te ontvang - seks as seks, liefde as liefde, waarheid as waarheid soos elkeen dit op daardie oomblik sien". Die Time Essay sê verder: "This is particularly true among the young and many adults simply go along with what they feel they cannot change." Op bladsy 138 lees ons van 'n "onontkombare patroon". Die brigadier sê op bladsy 158: "Onthou moet word dat ontwrigting nie die skuld is van die enkeling nie, maar van die noodlot waaroor ons geen beheer het nie." "Behind all this there is a loss of faith in any value outside the experience of the Self" (Richter, bl. 212) ."Dis die mens wat tel," sê die eendstert; die brigadier praat van 'n "dertiende taak wat elke mens alleen aandurf... net ter wille van homself" ( bl. 159). "Pop"-skilder, Andy Warhol, het eenkeer gesê: "Some day everybody will probably be thinking alike..." Dis presies wat teen die end in Die Derde Oog gebeur.

Waarom beeld Etienne Leroux so 'n stuk Amerikaansheid uit en waarom plaas hy dit in Kaapstad? Hierdie vraag asook die vraag in hoeverre Die Derde Oog self 'n voorbeeld van "pop-art" is, word in die Augustus-aflewering behandel. - Red.

Persoonlike gereedskap