Die Burger: Leroux oor woorde wat aanstoot gee

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Skrywer: Louis Preller
Publikasiedatum: 1979/05/08

MAGERSFONTEIN SE RADIO-WEERKLANK Deur Louis Preller

Die bekroning van Magersfontein, o Magersfontein! met die Hertzogprys het ook sy weerklank in die radio-uitsendings van verlede week gehad. Mag ek, voordat ek daarby kom, vra waarom dié nuus hoegenaamd nie die Vrydagaand uitgesaai is nie, maar eers die Saterdagoggend?

In elk geval, Skrywers en Boeke het dadelik werk daarvan gemaak en Donderdagaand kon ons luister na 'n onderhoud tussen Morné Pretorius en die skrywer, Etienne Leroux. Dit was nou nie wat ek sou noem 'n sprankelende onderhoud nie. Dit het geklink asof mnr. Pretorius sy vrae versigtig voorlees, en Etienne Leroux is nie juis bekend as 'n uitgaande mens nie.

Menslike vragies, wat 'n sekere persoonlikheid kon gegee het aan die uitsending, het ontbreek. Byvoorbeeld: Hoe laat het u die nuus gehoor? Waar was u? Wie het u dit vertel? Wat was u aanvanklike reaksie? Ensovoorts. Goeie joernalistiek was die onderhoud dus nie, hoewel dit 'n hele aantal interessanthede voortgebring het.

Op 'n vraag of hy ontmoedig was deur die verbod, het mnr. Leroux bv. geantwoord: "Ek moet sê, destyds toe die boek verbied is en ek gevra is of ek weer gaan skryf, het ek vreeslik gebrag en gesê ek gaan skryf asof die wet nie bestaan nie. Maar moenie 'n fout maak nie, hoor. Dit het 'n effek op 'n mens. Jy het tog daardie gevoel: het die mense nie dalk reg gehad nie? En dan begin jy jou styl nagaan, jou manier van skryf. Jy is net basies onseker en ek glo dat alle mense wie se boeke verbied word, so voel."

Hy is ook gevra of die gevoel dalk ontstaan het dat wat aanstoot gegee het in Magersfontein, dalk maar kon gebly het en dat die boek dan deur almal aanvaar sou gewees het. Die prys sou gewen en almal gelukkig gemaak het.

Hierop was Etienne Leroux se reaksie skerp: "Dit sou ek onder geen omstandighede toegelaat het nie. 'n Ernstige skrywer bedoel elke woord wat hy skryf in 'n roman. 'n Man werk soms vier jaar aan 'n boek en jy skryf nie sommer 'n sin wat nie daar moet wees nie. Jy skryf sinne oor en oor en oor en oor. En as daardie woord gebruik word wat miskien aanstoot gee, dan pas dit so in die ritme van die verhaal of die paragraaf, jy kan hom net nie vervang nie."

Op 'n vraag of die toekenning 'n uitklophou vir die sensuurstelsel is, soos sommiges beweer het, was Etienne Leroux versigtig. Hy dink wel dat dit 'n klag van skrywers was dat die Akademie aanvanklik i.v.m. die sensuurbedeling geen sterk genoeg rol gespeel het nie, dalk selfs 'n bietjie afsydig gestaan het. Maar hierdie bekroning dui daarop dat die Akademie nou 'n baie sterk rol gespeel het i.v.m. 'n nuwe kyk op sensuur.

Oor nuwe werk wou mnr. Leroux niks sê nie: "Ek glo vas 'n skrywer moenie oor sy nuwe boeke praat nie, dan praat hy sy boeke weg."

Na die gesprek met Etienne Leroux is ook 'n onderhoud gevoer met die voorsitter van die Akademie, prof. A.P. Grové. Die meeste belangrike dinge wat hy gesê het, was ook in vorige verklarings deur hom wat wyd deur die pers berig is.

Interessant was egter sy reaksie oor die sogenaamde "stygende lyn" in 'n skrywer se werk. Dit was 'n beginsel wat blykbaar vroeër gegeld het wanneer 'n skrywer 'n tweede keer in dieselfde genre bekroon word. Maar daardie beginsel is lankal oorboord gegooi, aldus prof. Grové.

Daarmee wil hy nie te kenne gee dat Magersfontein geen stygende lyn toon nie. Hy wil alleen sê dat hierdie boek heeltemal anders is as Leroux se vorige werke t.o.v. die hele opset, die hele aanpak van sy probleem.

LIGTER TRANT

In ligter trant het Magersfontein reeds 'n bietjie vroeë Donderdagaand in die Afrikaanse diens sy opwagting gemaak. Dit was in Die Afrikaners is Plesierig, Fanus Rautenbach se nuwe pretprogram, wat in die plek kom van Die ABCD van Buurmanskap.

Ek was lugtig vir hierdie program, alhoewel die lys deelnemers imponerend is: Fanus self, Alwyn en Martie Lee, Louise ("Haas Das") Smit, Mike Heine en Danie Smuts, met Nic Swanepoel as regisseur. Lugtig, want die Afrikaanse diens se grappige aanbiedings het my nog altyd, op enkele uitsonderings na, glad nie geamuseer nie. Maar ek dink dat Fanus hier 'n wenresep en 'n wenspan het.

Nie al die onderdele was op dieselfde peil nie. Maar as geheel is Die Afrikaners is Plesierig (of ten minste die eerste aflewering daarvan) 'n gesofistikeerde aanbieding vir 'n gehoor wat ook fyner nuanses kan snap en daarvoor kan lag. Dit is ver van die ruwe humor wat soveel "verskeidenheidsprogramme" en "koffiehuiskonserte" in die verlede gekenmerk het.

In hierdie verband kan ek iets interessants byvoeg. Edwill van Aarde het met sy wedstrydprogram Afrikaanse Treffers gevind dat boeremusiek so ver uitval dat geen boeremusieknommer ooit in aanmerking kom vir die eerste plek nie. Nou word eenmaal om die ses weke of so 'n spesiale aflewering aan boeremusiek gewy om die beoefenaars daarvan 'n kans te gee. Maar dit is kunsmatige lewe inblaas in 'n soort musiek wat uitgedien en onpopulêr is. En hiervan moet ons aanbieders van ligte programme in die algemeen kennis neem.

Ewenwel, die nuwe pret program het begin met 'n liedjie gebaseer op "Afrikaners is Plesierig", maar gewy aan die Hertzogprys aan Etienne Leroux. Dit was spitsvondig en snaaks. As die reeks so voortgaan, sal dit baie luisteraars Donderdagaande om 7.35 na die radio lok.

Persoonlike gereedskap