Die Burger: Etienne Leroux

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Skrywer: Onbekend
Publikasiedatum: 1990/01/03

Met die dood van Etienne Leroux het 'n skrywer wat op unieke en onvergeetlike wyse in sy romans die kronieke van 'n veranderende Suid-Afrikaanse wêreld opgeteken het, stil geword.

Hy was 'n uiters gevoelige registreerder van eietydse denke en literêre strominge, en het aan die romanvorm 'n nuwe gestalte gegee, in Afrikaans, maar ook deur die wye erkenning wat hy internasionaal geniet het.

In sy skrywerskap het Etienne Leroux werktuie ontwikkel om die twintigste-eeuse mens beeldend te ontleed soos nooit tevore in die Afrikaanse prosa nie. Hy het die enkeling getoon in sy vereensaming, in 'n wêreld van onbegryplike stelsels en strukture. Hy het hom geteken as slagoffer, in D.J. Opperman se woorde, van "handelaars en ratte wat die siel... om dertig silwerlinge so verniel..." Hy het hom gevolg in sy moeisame en geteisterde reis na dieper en suiwerder selfbesef. Hy het hom vergesel op sy pelgrimstog na lewegewende geloof.

Die mens-in-die-roman is nie los te sien van sy samelewingsverbande nie. Leroux het die vermoë gehad om die oerbronne waaruit 'n samelewing gevorm is, oop te dek, maar kon tegelyk die tekstuur van 'n tydperk rekonstrueer in sy kenmerkende mores en modes: in populêre wysies, gangbare gespreksidioom, spys en drank. Sy romans karteer 'n verskeidenheid van Suid-Afrikaanse samelewings: die verskerwing van 'n ouer, gevestigde bestel deur die Tweede Wêreldoorlog, die sosiaal-kulturele problematiek van die dekades daarna - jeugbendes, morele herbewapening (én verval), kommersialisering, die verlies van historiese sin, mediabeheptheid.

Leroux se betrokkenheid by mens en samelewing was dié van die satirikus wat, in sy ontmaskering van menslike ondeug en maatskaplike verdorwendheid, skok en striem. Dit het die omstredenheid van sy werk veroorsaak, 'n omstredenheid wat telkens weer oorleef is. Daar is 'n visioenêre en profetiese gehalte in die romans van Etienne Leroux wat die leser lei om die triviale, die tydelike te deurskou. Daar is 'n mitiese kwaliteit in sy werk wat by die lees en herlees daarvan steeds nuwe betekenisse daarin laat groei.

Daarom sal daar steeds nuwe generasies lesers vir die boeke van Etienne Leroux geskep kan word, daarom bly sy werk onvoltooid, bly dit lééf.

So sal ook die herinnering aan die mens Stephen le Roux bly leef. Sy ironiese, helder gees het vir ewewig en suiwering van oordeel gesorg. In die prys wat hy gestel het op vriendskap, wellewendheid en lojaliteit was hy geëerde mentor, geliefde kameraad.

Persoonlike gereedskap