Die Burger: Eenvoudige dennekis vir Leroux

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Skrywer: Onbekend
Publikasiedatum: 1990/01/04

BLOEMFONTEIN - In 'n eenvoudige dennehoutkis is die befaamde skrywer Etienne Leroux (67) gistermiddag op 'n klipkoppie by Koffiefontein na sy laaste rusplek.

Van die voorste Afrikaanse skrywers en letterkundiges het van oor die land gekom om op die snikhete en stowwerige Vrystaatse dorpie eer aan hom te betoon.

Met die teraardebestelling op die familieplaas Wagenmakersdrift het sy ou skrywersvriend Jan Rabie 'n bossie "mitologiese" plante - roosmaryn, wilde-olyf en loerierblaar - op die kis geplaas.

"Hy was mos so in die mitologiese dinge. Ek het die bossie spesiaal in my tuin op Onrus in die Kaap gepluk en in 'n plastieksakkie vir Stephen gebring."

Leroux is langs sy pa, mnr. S.P. le Roux, 'n voormalige Minister van Landbou, en sy ma, mev. Bessie le Roux, begrawe. Mev. Le Roux is twee maande gelede oorlede.

Sy kis, met 'n bos rooi rose daarop, is teen die styl koppie uitgedra terwyl die swart en bruin werkers hartseer gesing het.

Die diens in die NG kerk op Koffiefontein id deur ds. Meiring de Wet van die NG gemeente Petrus Steyn gelei.

Onder die sowat 200 gaste was 'n dertigtal van sy swart en bruin werkers, oud-hoofregter P.J. Rabie, die Vrystaatse LUK mnr. Flippie Olivier, 'n neef van Leroux, asook boere en vriende van die distrik.

Onder die skrywers en letterkundiges was Antjie Krog, Petra Pieterse, Abraham de Vries, Lochner de Kock, proff. Elize Botha, hoof van die departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Suid-Afrika, Hennie van Coller, hoof van dié departement aan die Vrystaatse Universiteit, dr. John Kannemeyer van die RGN se Instituut vir Taal- en Kunsnavorsing, dr. Charles Malan van die RGN en André P. Brink, hoof van die departement van Afrikaans-Nederlands aan die Randse Afrikaanse Universiteit.

Ds. De Wet het gesê: "Oom Stephen het iets verstaan van die diep nadink en om dit te herleef en neer te skryf. Ek glo hy het God in sy diep nadink raakgesien."

Die Skriflesing was uit Ps. 73 en die teks uit verse 16 en 17.

'n Bruin evangelis, mnr. Mattheus Geeff, het na die diens in die kerk namens die gekleurde werkers gesê: "Al die werkers het groot respek vir baas Stephen gehad."

Koos Human, Leroux se uitgewer, het bedankings in die kerk namens die familie gedoen.

Jan Rabie het na die begrafnis gesê Leroux was een van Afrikaans se geliefste skrywers.

"Jy voel so klein by sy graf. Van die oues is net ek nou oor."

Antjie Krog het gesê sy het Leroux die afgelope twee jaar beter leer ken, "maar wie kon hom ooit werklik ken? Hy en Elizabeth (sy vrou) was baie geheg aan mekaar. Ek weet nie hoe sy sonder hom gaan klaarkom nie."

Mnr. Stephanus le Roux het gesê dit was altyd sy pa se wens om in 'n dennehoutkis begrawe te word.

Die draers was mnre. Stephanus le Roux (seun), Paul Ashton (skoonseun), Carl-Pierre Rabie (susterskind), Edwin de la Harpe (susterskind), Flippie Olivier (neef) en prof. Hennie van Coller (vriend).

Persoonlike gereedskap