Die Burger: Begin hier naslaan

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Skrywer: J.P Smuts
Publikasiedatum: 1983/10/27

BRONNEGIDS: ETIENNE LEROUX, redakteur Charles Malan en H.P. van Coller, vir die RGN gepubliseer deur Academica, Pretoria, 1983. R9,50.

Oor Etienne Leroux se werk bestaan daar uitgebreide dokumentasie, en dié materiaal het gedurende die laaste paar jaar makliker binne die bereik van navorsers gekom as gevolg van die versamelings wat opgebou is deur bronnesentrums soos NALN en veral SENSAL en die Etienne Leroux-projek van die departement Afrikaans en Nederlands van die UOVS.

Dit is juis die hoof van SENSAL en die leier van die Leroux-projek aan die UOVS wat hierdie bronnegids saamgestel het. Hull is bygestaan deur Rina Jacobs en Hermien Smith.

KRITIEK

Slegs gepubliseerde materiaal wat tot Mei 1982 verskyn het, is opgeneem. Die werk strek dus tot by Magersfontein, O Magersfontein! en sluit Onse Hymie uit.

Die redakteur gaan in meer as een opsig verder as die tradisionele bronnegids wat bloot 'n gesistematiseerde beeld gee van 'n samehangende korpus publikasies. In die eerste plek behandel hulle nie net bronne oor Leroux se werk nie.

Daar is ook hoofstukke oor literêre kritiek en die ontwikkeling van Leroux se oeuvre, biografiese aantekeninge oor die skrywer en 'n lys van sy publikasies.

Die samestellers sê verder dat hulle nie volledigheid nagestreef het nie, maar slegs inskrywings met moontlik navorsingswaarde oorweeg het. Gehalte het dus deurslag gegee by die keuring van die materiaal.

Hulle dui verder kortliks by inskrywings aan watter aspekte in die stukke klem kry en hoe die betrokke romans in dié bronne geëvalueer word. Dit het die belangrike voordeel dat die gebruiker van die gids kan vasstel of daar in 'n bepaalde stuk sake aangeraak word wat vir hom van belang is of nie.

Dit behoort uit bostaande alreeds duidelik te wees dat hierdie werk 'n belangrike en welkome hulpmiddel vir Leroux-navorsers gaan wees en ook vir alle lesers van sy werk wat wil weet waar hulle verdere leiding kan kry om hulle te rig by die interpretasie van ons verwikkeldste prosaïs se romans.

Dit is egter jammer dat die samestellers nie verder gegaan het met die evaluasie van die bronne en by die verdienstelikste studies aanduidings van belangrikheid en gehalte gegee het nie. As 'n mens in aanmerking neem dat net die opgenome studies en besprekings oor Sewe dae by die Silbersteins ongeveer 140 beloop, is dit duidelik dat so iets van groot waarde sou gewees het.

BEOORDEEL

Aangesien die redakteurs tog die stukke moes deurwerk om dit te beoordeel vir insluiting, en albei letterkundiges is wat Leroux se werk goed ken en in staat is om studies daaroor te evalueer, sou betreklik min verdere werk baie tot die bruikbaarheid van die gods bygedra het.

Dit is egter 'n relatief geringe punt van kritiek op 'n publikasie wat baie mense baie moeite gaan spaar en 'n belangrike hulpmiddel kan wees om groter begrip en waardering vir Etienne Leroux se werk te help skep.

J.P Smuts

Persoonlike gereedskap