Die Besoeker (Verse van die Ongeloof, 1989-01-01)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Die volgende gedig is deur Daniel Hugo geskryf na aanleiding van 'n besoek in 1984 van Gerard Reve aan huis van Etienne Leroux.
I
diep in die Vrystaat praat ons oor erotiek
die nag is donker, daarom simpatiek
die beroemde skrywer vertel ons hoe
hy tuis die geil jongetjie oorkant afloer
die klein blondekuif - dan wys hy meteen
presies hoe hy sy pen in sy hand neem:
'kyk, so raak ek dan al my saad kwyt'
in 'n uiterste gebaar van eensaamheid
II
ons sit in die skrywer se rondawel
oor die literatuur en redekawel
die gasvrou bars onaangekondig in
sê: ons bring skande oor die huishouding
(sy is gewoond aan die attensies van mans
maar hierdie besoeker versteur die balans)
ek gaan na my kamer afgejak en kwaad
- het ek hom hoor sê 'lieverd', terwyl ons praat?
III
ek neem hom na die vliegveld - voor ons tot siens
sê, gesels hy oor geloof en godsdiens
deur die groot glasvensters kan ons diep inkyk
in die vlakte se dubbelsinnigheid
'beoefen jy die herenliefde', vra hy
'n oombijk ontwyk die bedoeling my
dan begryp ek - as ongelowige gee
ek my ganser antwoord: 'van harte nee'
Uit: Verse van die ongeloof, Pretoria, HAUM-literêr, 1989.