Daardie brief was ook aan my gerig (Kol, 1968-10-05)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Beste Breyten,

Natuurlik voel ek dat jou brief aan mý gerig is. Net soos Bartho, Braam, Chris en al die ander voel dat jou brief aan húlle gerig is. Ek voel veral so omdat ons drie (jy, André en ek) daardie aand onsself tot in die dieptes van ellende geredeneer het sodat ons later volkome één gevoel het van verdriet in daardie Russiese eetplek in die Malebranche.

Laat my toe om te begin waar jy eindig in jou brief. Om Nee! te skreeu. Hel, Breyten, ek skreeu al Nee! sedert ek in die veertigerjare begin skryf het. Toe was 'n man stoksielalleen, die "establishment" was 'n heilige koei, en die groot uitgewerye was vriendelik, neerbuigend en vaderlik vermanend. Daar het 'n deurbraak gekom en mens is geneig om die deurbraak as ou nuus te beskou omdat die deurbraak in die res van die wêreld ons al weer voor is. Ons mense het maar moeilik daaraan gevat - selfs vandag nog het ons 'n baie groot skool van "verkramptes" wat 'n bedreiging sien in die deurbraak. Dis nie net wette nie, dis ons mense self. Ons is woestynmense en ons verander swaar. Ek het in Spanje en Griekeland dieselfde gevind - orals waar die son kwaai brand en waar die land se bodem nie baie ryk is nie, is die mense geneig om min toegewinge te doen, want daar is 'n harde werklikheid wat nie baie geïnteresseerd is in 'n vryheid wat beteken: wegbreek van die sekuriteit wat tradisie bied nie. Jou aanklag, Breyten, geld nie alleen vir 'n groepie skrywers nie, dit geld vir 'n hele volk. (En ek dink nou aan ons Boere.) Ek dink mens moet baie geduld hê en dan moet jy ook 'n bietjie geslepe wees. "Die boer is slim; hy maak 'n plan." Dis fout om te dink dat ons op politieke gebied te eerlik is: die buitewêreld begryp nie die nuanses van geslepenheid wat ons op ons boeremanier ontwikkel het nie. Neem jy my kwalik as ek dieselfde geslepenheid in my skryfwerk openbaar? Daar is 'n baie ou Keltiese tradisie in die dae van die heilige eikeboom toe baie aktuele strydpunte van die gees agter enigma's weggesteek is.

Laat my toe om nog 'n toegewing te doen. Ek is hart en siel teen alle vorms van sensuur. Dis 'n skande dat daar van Nadine Gordimer se boeke verbied is. Jou laaste digbundel is gevaarliker. Hulle kon jóú boek eerder verbied het. Dis 'n skande dat Athol Fugard se paspoort teruggetrek is, tensy ons almal weet dat Athol besig is om 'n bende terroriste te organiseer. Dis 'n skande dat jy en Yolande nie hier by ons kan wees nie. Dis 'n skande dat. ons nie vrylik Evergreen Review kan lees nie; dat The Beard heel moontlik nooit hier sal land nie; dat Bonnie & Clyde ons fliekkenners se aandag sal ontsnap; dat werke van Genet, Norman Mailer, Kerouac, Milier, Krim, Baldwin ('n willekeurige lys) onbekombaar sal wees weens amptelike sensuur en sensuur nie-amptelik toegepas deur versigtige boekhandelaars terwyl selfs in "Fascistiese Spanje" sulke werke bekombaar is. (Ek het in Valencia, hulle Potchefstroom, sulke werke gesien). (Nog 'n keer tussen hakies: hoekom besoek julle almal deesdae Spanje maar nie Griekeland nie? Is dit omdat die kolonelle vars is?) Sensuur is 'n skande, Breyten. Die woord kan nie aan bande gelê word nie. Daar is ek drie miljoen persent by jou en ek wens ek het jou dertigerjarige entoesiasme in my veertigerjare om dinamies op te tree.

Maar, en nou kom ek by jou vraag: Dink jy om te skryf, is 'n roeping, 'n plig, 'n beroep, 'n tydverdryf? En hiermee sluit ek aan by al daardie vrae van jou wat op 'n skrywer van toepassing sou wees. En ek dink ook aan André met sy vrae. Hoekom kan Graham Greene in Antibes bly en van sy beste werke skryf wat volkome vreemd is aan Engeland? (The Power and the Glory oor Suid-Amerika; die "comedy of manners" van die rykes om die Cote d'Azure) Hoekom kon Hemingway, 'n Amerikaner, die Spanjaarde húlle mistiek oor die bulgevegte formuleer? En Simenon, soos 'n verkleurmannetjie, in sy ernstige werke verhuis van land tot land ? Skryf is nie 'n roeping, 'n plig, 'n beroep of 'n tydverdryf nie. Dis 'n vak. 'n Goeie skrywer is internasionaal aanvaarbaar. Saam met die wetenskaplikes is ons internasionaal, mits ons 'n sekere peil kan bereik. Jou politieke sienswyse, jou sosiale gewete, jou manmoedigheid in die bed, jou voorbeeldigheid in jou eie klein samelewing (en Parys se samelewing kan ook in 'n sekere sin klein wees) is nie ter sprake nie. Al gaan die hele goddêm wêreld ten gronde kan die goeie skrywer skryf net waaroor hy lus het. Trouens, die swakste letterkunde kom te voorskyn gedurende tye van oorlog wanneer almal vir "vryheid" veg. Dis die dae van slim propagandiste en, Breyten, soek jy en André in hierdie stukke van julle nie op dié oomblik verhewe propagandiste nie? Jóú verset, Breyten, lewer 'n kunswerk. Joune ook, André. Maar die aard van ons verset is nie dieselfde nie. Hoekom moet julle my verset op 'n ander vlak beskou as 'n ontvlugting, 'n wegsteek agter esoteriese simbole?

Sal ons almal ophou om stront te praat? Sal ons liewers, selfsugtig, die lewe verken? Sal ons aanvaar dat in hierdie eienaardige beroep (dis nou 'n beroep, Breyten) die vereistes bo-menslik is?

Ek sal jou lys vrae beantwoord. Die antwoorde is nie belangrik nie. Wat wel van belang is, is dat ons met begrip kan verskil. Dat ons, as skrywers, soos uile, altyd simpatie vir mekaar sal hê en vir mekaar sal sorg. Dat ons, in hierdie tye van vakbonde, ons eie vakbond sal stig. Al sit jy en Lewis Nkosi en al die verlatenes in die tronk - ons, as skrywers, is saam met julle. Ek sal julle optrede miskien veroordeel; ek sal julle selfs skiet met 'n .303 as julle my veiligheid en my familie bedreig, maar ons het 'n bloedband as skrywers.

Ek kan jou volgende vraag antisipeer.

En op daardie vraag, helaas, het ek geen antwoord nie.

Maar, op die vrae wat jy gestel het, die volgende:

Wat is 'n Christen? (Is jy 'n Christen?) Daar is 'n 10001 sektes wat hierdie vraag op 'n 10001 maniere sal antwoord.

Het jy al ooit 'n swart skrywer ontmoet as gelyke of meerdere?:

As ernstige skrywer, volgens die formule van Hemingway, beskou ek alle skrywers as my minderes. Next best is James Baldwin 'n groot bedreiging.

Nadine Gordimer is mooi en ek hou van Alan Paton.

Viëtnam is in die Ooste en dis die plek waar Amerikaners vryheidskampe stig nadat hulle dorpies uitwis ter wille van sekuriteit. Die Noorde is nie 'n toonbeeld van onskuld nie. My gevoel is: laat Viëtnam 'n Viëtnamese waarheid vind - ál is dit hamer en sekel of coca-cola.

Amerikaanse of Russiese letterkunde? Weens die waaksaamheid van ons hoeders het ek nie 'n behoorlike kennis van beide nie. Lenin, Mao, Ché et alia - wêreldberoemde resepte vir 'n utopiese koek. 'n Goeie skrywer, wat sy sout werd is, kan beter skryf as hulle. Moet ons hulle "waarheid" aanvaar? Ek verkies Jung. Bram Fischer? Seun van 'n goeie Vrystaatse familie wat nie die vierde Raadshuis met sy Ioniese kapitele kon aanvaar nie.

Nelson Mandela. Politikus. In gevangenis. As jy politikus en revolusionêr wil wees, moet jy 'n gevangenis aanvaar as jou tweede tuiste. Daar is genoeg voorbeelde uit die verlede sonder om baie dramaties oor die hele geleentheid te raak.

Is Suid-Afrika 'n polisiestaat? Niks minder as noem-my-enige-land-in-die-wêreld-vandag nie.

Die morele implikasies van hartoorplantings? Asseblief!

Was Ingrid van haar kop af? Ingrid is jy of ek.

Waarom skryf Adam Small op Afrikaans? Adam en ek het 'n relletjie aan die gang. Hy is 'n goeie digter omdat Afrikaans sy taal is, soos myne (ék skryf dit net swakker). Hy het ook 'n sosiale gewete en hy voel baie soos julle oor die pligte van 'n skrywer, ensomeer.

Ek was altyd onder die indruk dat die roman met "social significance" terug dateer na die dertigerjare toe 'n goeie skrywer soos Nathaniel West misken is en Dos Passos ten hemele opgeblaas is. Ek was ook onder die indruk dat ons skrywers in die Weste die reg verower het om elkeen sy eie wêreld te skep en volgens sy eie reëls die menswees te verken. In teenstelling met ons Russiese broeders wat deur staat, maatskappy en sosialistiese skrywerskringe verplig word om iets blywends in die mistiek van hulle materialisme te probeer transformeer. Ek was ook onder die indruk dat die skrywer geen antwoord op vrae ten opsigte van sy politieke opvattings, persoonlike lewe; rol in die maatskappy, houding ten opsigte van brandende vraagstukke aan iemand verskuldig is nie. Ons moet oppas dat ons nie, buite die skryf om, eise gaan begin stel aan skrywers nie. Dan beweeg ons netjies Oos waar 'n skrywer 'n Taak het en, die hemel weet, dan hou ek op met skryf want in hierdie oorgeorganiseerde eeu waarin ons leef, word daar té kwistig take uitgedeel. Snaaks genoeg: jou vrae, en wat jy impliseer met al die vrae, is dieselfde soort wat die behoudendes in ons land stel - net hulle verwag ander antwoorde as jy.

Dis 'n moeilike wêreld waarin ons leef, Boerboetie, en ek verstaan hom nie aldag nie. Ek het so 'n vae gevoel dat daar dwarsdeur die wêreld iets verkeerd is en ek probeer maar op my "esoteriese" manier dieper in die ondergrond peil om te sien waar die mutasie ontkiem. Ek kan met die beste wil ter wêreld nie vreeslik entoesiasties raak oor hierdie of daardie saak nie, want die antwoorde stel my nie tevrede nie. Miskien is dit omdat ek nog nooit 'n sosiaalpolitieke argument gewen het nie. By die Linkses argumenteer ek Regs; by die Regses Links - en elke keer verloor ek. Ek begryp die romanse verbonde aan Ché; ek begryp ook die amptenaartjie in Bolivia vasgevang in sy eie soort wêreldjie. Ek weet geweld het deesdae "fashionable" geword; ek weet dis "with it" om eerste by 'n revolusie te wees en nie laat te kom nie. Ek het 'n gevoel vir hierdie soort dinge en ek begryp, dink ek, wat aan die gang is, want my Juliana Doepels het dit al lankal gedoen in haar stryd teen Julius Johnson - lank voordat hierdie idee onder die duskant-dertigerjariges posgevat het. Dus, soos jy kan sien, kan selfs ek in my ivoortoring soms profeties wees.

Wel, Breyten, dis my antwoord op die gesprek wat ons 'n paar maande gelede gehad het. Ek het die grootste bewondering vir jou werk. Ek het die grootste agting vir jou eerlikheid en ek beny jou jou dinamiese gees. Ek dink jy is die Sestiger met die meeste talent en al kan jy nooit (miskien nooit) in hierdie goddelike land van ons bly nie, sou ek jou graag een aand weer wou sien, êrens in Prins Albert se wêreld, waar die son oor ons droë Karoo onder gaan en mens in afsondering vir 'n oomblik met 'n glasie Oude Meester in jou hand die gevoel kry vir ons besondere mistiek wat so maklik afgetakel word as mens eers begin vrae stel.

Sterkte terug.

Jou vriend,
Etienne Leroux.

Naskrif: Ek het julle briewe gekombineer in my antwoord. Jammer dat ek julle nie "apart" gehou het nie.

Persoonlike gereedskap