Breytenbach Moes Die Hertzogprys Ontvang Het, Voel Etienne Leroux (1968-05-19)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

"As persoon voel ek dat Breyten Breytenbach die Hertzogprys moes gekry het," het die bekende skrywer Etienne Leroux wat self al die Hertzogprys verower het, aan my gesê. Hy het pas weer begin nes skop op sy plaas Janee, Koffiefontein, nadat hy ses weke in Europa was.

Sy mening oor die prys het hy baie versigtig geformuleer: "Die Akademie ken die prys toe. Dit is tog hul prys. Hulle het hul beoordelaars wat moet besluit

"As hulle besluit hierdie een of daardie een moet dit kry, is dit nie vir my om te sê hul keuse is verkeerd nie. Wat my betref, is dit 'n huishoudelike saak, maar as persoon voel ek dat Breyten die prys moes gekry het."

Dit hinder hom dat daar gesê word Breyten het dit of dat gedoen, daarom behoort hy nie die prys te kry nie. "Wat hy doen of sê, het niks met sy kunsvermoë te doen nie. Die publiek neem emosioneel deel aan die toekenning van die Hertzog-prys. Die Sestiger-naam het al 'n vloekwoord geword. As 'n man 'n kontensieuse figuur geword het, oefen die publiek druk uit. Wat my betref is dit verkeerd.

'N AANKLAG

"André Brink se bedanking uit die Akademie omdat Breyten nie die Hertzog-prys gekry het nie, is 'n aanklag teen die beoordelaars van die akademie. Ek sal nie graag hierdie aanklag maak nie. My aanklag is teen daardie lede van die publiek wat nog nooit een van die twee (Breyten en Boerneef) se werke gelees het nie en tog deelneem aan 'n twisgesprek."

Etienne voel dat mens nie 'n kunstenaar moet oordeel volgens sy politieke menings nie. Dit is algemeen deur die eeue bekend dat kunstenaars bietjie naïef in hul politieke beskouings is. Hulle is nie politici nie en moet net geoordeel word na hul kunsvermoë.

NIE POLITIEK

Oor honderd jaar lees mens nog wat hulle skryf en sien wat hulle skilder, maar niemand stel dan belang in wat hul politieke sienswyse was nie.

"Voltaire is 'n goeie voorbeeld. Hy is geskop van land tot land maar as mens vandag sy werke lees, kom sy politieke menings nie eens by jou op nie."

Etienne sê openlik dat hy Breyten in Parys gaan opsoek het en baie beïndruk is, hoewel hy nie met sy politieke sienswyse saamstem nie.

Mense wat na aan Etienne beweeg, sê dat niemand dr. Chris Barnard van kommunistiese neigings beskuldig het toe hy 'n Russiese kollega opgesoek het nie. Etienne het Breyten net as kunstenaar opgesoek.

"Ek het Breyten die mees sjarmante en dinamiese persoonlikheid gevind wat ek nog ontmoet het. Van al die Sestigers het hy die grootste indruk op my gemaak. Hy is uiters intelligent en het 'n sterk persoonlikheid. In die geselskap van skrywers neem hy die leiding. Basies is hy 'n man met 'n baie sagte hart. Hy is 'n baie goeie skilder.

MOOI VROU

"Breyten se Oosterse vrou is ook baie mooier as wat sy op foto's voorkom. Sy is hoog ontwikkeld, intelligent en sjarmant. Sy is totaal verwesters en die egpaar is baie lief vir mekaar."

Etienne het met baie nuwe idees teruggekom en sal eersdaags met 'n nuwe boek begin.

Persoonlike gereedskap