Boeke

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Die Boeke van Etienne Leroux

Tydens sy professionele skryfloopbaan, tussen 1955 en die publikasie van sy laaste onvoltooide roman in 1990 ('n jaar na sy dood), het Etienne Leroux twaalf romans die lig laat sien. Die volgende lys sluit slegs boeke deur Leroux in, en nie boeke oor Leroux nie.

Die Eerste Lewe Van Colet (1955)
Die roman trek nie veel aandag in Suid-Afrika nie, en word eers in 1975 in 'n hersiene weergawe uitgegee. Meer as een keer word Colet vergelyk met James Joyce se A Portrait of the artist as a young man. Sien ook Die Eerste Siklus.

Hilaria (1958)
Vir die eerste maal gebruik Leroux Jungiaanse psigologiese idees teen 'n mitologiese agtergrond in 'n roman. Die sikliese gang van die natuur vorm 'n belangrike patroon in die werk, en Leroux se gebruik van die bewustheid-stroom tegniek (stream of consciousness) ontlok verdere vergelykings met Joyce. Sien ook Die Eerste Siklus.

Die Mugu (1959)
In 'n voortsetting van ooreenkomste met die werke van Joyce kan die wandelinge van Gysbrecht Edelhart gedeeltelik gesien word as parallel aan dié van Stephen Dedalus in Ulysses. Sien ook Die Eerste Siklus.

Sewe Dae by die Silbersteins (1962)
Bekroon met die Hertzogprys in 1964. Sewe dae ondersoek die temas van goed en kwaad, orde en chaos. J.C. Kannemeyer beskryf die boek as "one of the most tightly constructed of all Afrikaans novels". Sien ook Die Silberstein Trilogie.

Een vir Azazel (1964)
Met 'n vermenging van die objektiewe en subjektiewe vlakke van simbolisme ondersoek Leroux skuld en morele oordeel, en die gemeenskap se behoefte om 'n sondebok te vind. Bekroon met die CNA-prys in 1965. Sien ook Die Silberstein Trilogie.

Die Derde Oog (1966)
Die mite van Hercules, 'n kombinasie van die twee weergawes van Sophocles en Euripides, toepaslik gemaak op die moderne mens se soeke na sy alter ego. Sien ook Die Silberstein Trilogie.

18-44 (1967)
Leroux se persoonlike gunsteling van al sy werke, hoofsaaklik weens die roman se tegniese kompleksiteit.

Isis Isis Isis (1969)
'n Reisverhaal soos geen ander in Afrikaans nie, en 'n behandeling van die Jungiaanse individuasieproses.

Na'va (1972)
Met hierdie verhaal van 'n fantasmagoriese begrafnisfees sluit Leroux sy belangrikste trilogie af (saam met Sewe dae en Isis).

Magersfontein, o Magersfontein! (1976)
Die roman bring 'n vernuwing in Leroux se werk, en handel onder andere oor die verskil tussen verwagting en realiteit. Die werk word verban in Suid-Afrika, en ontketen 'n storm van literêre verontwaardigheid. In 1980 word dit deur die Appèlraad oor Publikasies op hersiening weer ontban. Magersfonteinword met die CNA-prys sowel as die Hertzogprys bekroon.

Tussengebied (1980)
'n Bundel met literêr-teoretiese kanttekeninge wat Leroux by sy eie werk verskaf. (Dankie aan Carel vdM vir die voorblad.)

Onse Hymie (1982)
'n Satiries-filosofiese verhaal wat profeties kyk na die aard en verval van apartheid Suid-Afrika in al sy kompleksiteite.

Die Suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman (1990)
Hierdie onvoltooide roman word posthuum in faksimilee-uitgawe uitgegee.

Persoonlike gereedskap