Afrikaanse Skrywer is Uitdagend Vry (Beeld, 1982-09-01)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Die huidige stand van die Afrikaanse roman is goed, het Etienne Leroux vandeesweek gesê by die vakkongres van die Universiteit van Pretoria ter viering van dié Universiteit se Afrikaanswording vyftig jaar gelede. Hy het bygevoeg: die Afrikaanse skrywer skryf soos hy wil. Hy is nie aan 'n akademie, of 'n gilde of 'n kliek of 'n tydperk gebonde nie. Hy is uitdagend vry! Sy toespraak word hier weergegee.
Ek ken nie vandag die stand van die Afrikaanse roman nie; nog minder ken ek die stand van die roman.
Ek het gevind dat ek vir heelparty jare nie meer romans lees nie. Ek lees dikwels wat oor romans geskryf word, maar ek lees nie die romans nie. 'n Uitstekende jong skrywer, M.C. Botha, het onlangs gesê dat hy die romans van ouer skrywers vervelig vind. Ek is geneig om met hom saam te stem, maar toe onthou ek wat Jan Greshoff eenkeer vir my gesê het: van die beste romans ter wêreld is dikwels vervelig om te lees.
Wie wil vandag 'n vervelige esoteriese roman lees?
Terug na die volk, die neo-realisme? Miskien vir die meeste mense, maar intussen het uitstekende joernaliste hulle voorgespring en die "essays" van rubriekskrywers is dikwels beter as dit wat baie jong skrywers skryf.
Hoekom die Afrikaanse roman? Probeer ons vergelykenderwys vasstel of die Afrikaanse roman net so goed soos die Engelse, òf die Franse, òf romans in ander tale is? Wil u weet of die Afrikaanse romanskrywer net so goed as sy boeties in ander lande is? Wil u weet of die Afrikaanse taal 'n werklike groot roman kan dra? Wil u weet of daar 'n Nobelprys-romanskrywer in Afrikaans is?
Wil u weet of Afrikaans só Afrika is dat dit net soos 'n Afrika-volkstaal só stamgebonde is dat dit die mistiek van sy eie mense kan oordra? En dan is daar nog die vraag: wie is "ons eie mense" in terme van Afrikaans en die Afrikaanse roman? En dan nog 'n verdere vraag: wie, behalwe taalwetenskaplikes, stel belang?
Ek ken nie die antwoorde nie. Ek weet net dít: 'n goeie romanskrywer is op sy beste in die taal wat hy amper kan hanteer. Ek dink nie hy spreek slegs tot sy eie stam nie, hy spreek tot 'n enkele leser. En daardie enkele leser strek oor die hele wêreld.
Die vraag is hoe die Afrikaanse roman in terme van gehalte en genialiteit die sosio-politieke, die psigiese angs van die mens kan dra. Ek kan weer eens nie 'n oordeel uitspreek nie, maar ek voel tog dat die Afrikaanse roman deesdae vryer geskryf word, dat daar méér gewaag word, dat daar nie meer 'n ogie op die establishment gehou word nie. In die proses is Breytenbach, John Miles en Dan Roodt se boeke byvoorbeeld nog steeds op die lys van verbode werke. Hopelik word hulle later vrygelaat. André le Roux is vry.
Ten hemele skreeu
En dit bring 'n mens onmiddellik by die vraag: tot hoe 'n mate het die verskillende sensuurstelsels oor die jare die natuurlike gang van die Afrikaanse roman gekortwiek?
Miskien minder as wat 'n mens sou dink. Ek voel dat die houding van groot uitgewerye in die jare veertig tot vyftig miskien 'n strenger sensuurstelsel was. 'n Jong skrywer met 'n andersoortige benadering van die roman is eenvoudig doodgeknip deur 'n amptenaar van die maatskappy. Klein uitgewers soos Human & Rousseau het tot ons redding gekom. Taurus doen vandag dieselfde ding.
Destyds het die romanskrywer teen 'n soort wolkerige begrip van die algemeen aanvaarbare geveg. Vandag veg hy teen 'n wet wat honderde komitees in werking gestel het om hom tot die uiterste toe te beproef.
Maar noú ken hy sy kollektiewe opponent en hy kan ten hemele skreeu.
Maar die kern-vraag bly nog: is dit moontlik dat 'n ernstige romanskrywer in Afrikaans weens die sensuurstelsel tot swye, óf tot 'n soort kompromie gedwing kan word? Die antwoord op hierdie vraag rus op u eie gewete. En ook op die gewete van die skrywer.
Soos u weet, het ons 'n neiging hier in Suid-Afrika om bestek-opnames van skrywers en hul werke in dekades te sluisdam. Jy is òf 'n Dertiger, òf 'n Veertiger, òf 'n swak Vyftiger, òf 'n Sestiger, niemand stel belang in die Sewentigers nie, òf jy is 'n Tagtiger. Hierdie afdeling in literêre kluise is maar nog 'n aspek, 'n neweproduk, van apartheid. Dis die finale ironie: selfs die mees verligte Afrikaanse skrywers word 'n slagoffer van sy eie apartheid.
Dis die eienaardigheid van die Afrikaanse taal dat hy met "apartheid" 'n internasionale woord geskep het; en dat hy met daardie demoniese woord ook sy ondergang kan bewerkstellig.
Op dieselfde wyse kan apartheid skrywers van mekaar vervreem, en hulleself in die proses vernietig. Die Afrikaanse roman kan maklik 'n voertuig word van mense wat dekade-gewys eenders dink.
Die Afrikaanse skrywer moet skryf soos hy wil.
Hy is nie aan 'n akademie, òf 'n gilde, òf 'n kliek, òf 'n tydperk verbonde nie. Hy is uitdagend vry!
Dit kom vir my voor asof die hedendaagse Afrikaanse romanskrywer méér op hoogte is van die moderne roman in ander tale as sy voorgangers. Ek dink hy is wyer belese en hy ken al die truuks in verband met die romantegniek.
Het die meeste ernstige Afrikaanse romanskrywers 'n professionele of 'n akademiese agtergrond? Dit lyk so. Sekerlik die meeste van hulle is verbonde aan die media, òf aan universiteite. Deesdae borrel en baar die universiteite digters: die romanskrywer is die ongewone pil van die pilmasjien. D.w.s. die aweregse pil, die pil wat té lank is vir die lekkerbekkige fynproewers. Die pilmasjien lewer digkuns, kortkuns, en dan by wyse van aberrasie romankuns.
Ek het tot dusver net na die sogenaamde ernstige roman verwys. Maar wat van die ligter roman, die sogenaamde "entertainment"? Albei het iets in gemeen, behalwe hulle bestaansreg. In die eerste plek moet alle uitgewers geld maak want hulle is sakeondernemings. Die ligte roman bring die geld; die ernstige roman, met swak verkope, word deur die ligte roman gedra.
In die tweede plek peil albei 'n sekere behoefte van die leserspubliek. Daar is elke dag iets kontensieus, iets sensasiewekkend, en iets wat hard klap in terme van die hedendaagse bestaan. Die ligte roman suiker die pil met 'n soort romantiese ontvlugting; die ernstige roman gee sy pil bitter en wrang.
Die gewone Afrikaanse romanleser sal natuurlik die soet pil verkies. Hy sien sy eie dilemma in die storie, daar word iets van sy eie kleindaagse bestaan geskets (verneukery, moord, verkragting, bloedskande, ontug, die aaklige rykman, die onskuldige onderwyseres wat vervolg word omdat sy 'n vriendskapsverhouding met 'n jong seun het, ensomeer).
Maar die gelukkige einde is gewoonlik 'n sine qua non. Hoe dan anders? Die gelukkige einde kom na 'n bekende loutering wat hy kan verstaan.
Moet ons neerkyk op die ligte roman en boeremusiek?
Ek was as kind onderhewig aan albei.
En dit het my tot verset gedwing, maar ek ly nog steeds aan hierdie gesellig-populêre volkskunde.
Hoe kan 'n mens die naelstring knip?
Afrikaanse romanskrywers van vandag, behalwe die oueres, het nie dié probleem nie.
Maar hulle het tóg 'n soortgelyke probleem. Indien jy van die parogiale wil wegbreek, indien jy by wyse van satire òf ernstige verset die nuwe verligte wêreld wil ingaan, dan moet jy minstens 'n bloedband-kennis hê van dit waarvan jy wil wegbreek.
Die wêreld van vandag is 'n voortsetting van die wêreld van gister. Elke romanskrywer het 'n verlede van 'n paar dekades. Sy verset téén vandag is 'n verset téén sy eie verlede. In sy hart dra hy verstaanbare vooroordele. Die ernstige roman se oplae is maar min, en word dikwels later as oorskotte verkoop. Die ligter roman maak baie geld, en verdwyn dan in die niet. Maar die skrywer se naam, en nié die roman nie, is die lokmiddel vir die volgende "bestseller".
Daar word nooit na die ligte roman in diepte gekyk nie, maar na die suksesvolle formule. (My inligting is gebaseer op Books as Literature vs. Books as Commodity, 'n artikel van George Woodcock in The Sewanee Review.) In dieselfde artikel word genoem hoeveel van die beste Amerikaanse ernstige skrywers nie die Pulitzerprys gekry het nie, en hoeveel van hulle éérs lank ná die tyd. Daar word ook genoem dat amper vergete skrywers vandag "bestsellers" geword het, byvoorbeeld Hesse, Brecht, D.H. Lawrence, George Orwell, ensomeer. Dit beteken eintlik dat goeie romans tydloos is en dat dit nie 'n skande is om op 'n stadium "bestsellers" te word nie.
In Suid-Afrika is die posisie van die romanskrywer heelwat anders. Die Afrikaanse skrywer van ernstige romans kan hier makliker 'n uitgewer kry as in meeste plekke van die wêreld.
Nie gebrek aan pryse
Ek dink dit is te danke aan die benadering van ons Afrikaanse uitgewersmaatskappye. Die Afrikaanse taal is só belangrik dat geen geniale vonk in daardie taal verlore mag gaan nie. 'n Goeie romanskrywer word nie gemaak nie, géén skrywerskool kan iemand leer om 'n ernstige roman te skryf nie.
Die kern van 'n roman is ewigdurende vernuwing want hy moet tred hou met die malligheid in die kop van die mediaan. Sy slordigheid, sy omgang met die taal, sy vooroordele, sy heksejagtery, sy rumoerigheid, sy dodelike eenvoud, sy verkramptheid, en tog sy dapperheid, sy verset, sy besondere individualisme wat anders en apart is, sy ontvlugting in rugby, kontakspel, en selfs sy bereidwilligheid om dood te gaan, en selfmoord te pleeg.
Dit kos 'n goeie ernstige romanskrywer om hom met liefde en haat vas te pen. Dit ontvlugtingsboek om die hoek, in die Griekse kafee, is sy boek. Ek wonder of die Afrikaanssprekende werklik 'n toegewyde leser van die ernstige roman is (dit kan natuurlik ook van die Engelse leser aangaande die Engelse roman gevra word)? Hoeveel mense lees koerante? In terme van ons bevolking, hoeveel mense lees?
Maar ek dink nie die ernstige romanskrywer het rede om te kla nie.
Ofskoon daar nie 'n gebrek aan uitgewers is nie, is daar ook nie 'n gebrek aan pryse nie. Vir so 'n klein landjie wemel dit eenvoudig van pryse, en opdragte waaraan 'n prys verbonde is, vir skrywers.
Van die Pulitzer-prys word in die voorgenoemde artikel byvoorbeeld gesê dat van die beste romanskrywers (1917-1977) byvoorbeeld Scott Fitzgerald, Sherwood Anderson, John Dos Passos, Gertrude Stein, Henry Miller, en Nathaniel West volkome geïgnoreer is. Ander skrywers het later tot hul reg gekom, máár nadat hulle skryftyd eintlik verby was, d.w.s. vir vroeëre werke, ek dink ons het ook maar dieselfde ondervinding hier. Dis niks vreemd nie.
Wat is eintlik die huidige stand van die Afrikaanse roman?
Ek dink die Afrikaanse skrywer van vandag skryf beter en vryer as ooit in die verlede. Daar is geen gebrek aan talent nie. Oud en jonk. Ek dink hulle skryf beter as hulle voorgangers, wat hulle slegs kon meet aan "folklore". Die Boeremusiek is verby; die moderne romanskrywer is nie bereid om hom te verbind aan 'n anakronisme nie.
Maatlint nou metriek
Die Afrikaanse romanskrywer word vandag behoorlik objektief gemeet.
Dit stem ooreen met die wolmark (u moet onthou ek is 'n wolboer). Die skeersel word nie meer elegant voorgestel vir 'n potensiële koper nie. Die dae van die beste vliese bó en die beste vliese ónder is verby. Objektiewe meting wys al dadelik vir die koper wat hy gaan kry.
Vergelykenderwys is ons kritici vandag baie meer paraat en is die dae van die "volkskrywer" verby. Ek dink die dae van die heilige koeie is verby. Die maatlint het metriek geword. 'n Mens kan nie meer wegkom met sewe-en-'n-sikspens nie.
Ten slotte, omdat dit my as komediant of as satirikus tref, waar staan ons vandag? Ek het destyds gesê dat 'n satirikus eintlik 'n moralis is; 'n soort sedemeester wat kranksinnig in sy eie kleinhoewe word. Die verset kom van binne. Die radikale aanslag binne die groep is net so sterk as die radikale aanslag van buite. Miskien sterker en dodeliker. Dis nie lekker om jou "eie" mense dood te maak by wyse van satire nie. In die proses gaan ietsie in jouself dood. Jy is besig om die uitskotte in jou samelewing te prul. Dis amper 'n Fascistiese siening. Maar dan kyk jy na jou verdeling en dan sien jy die uitskotte, mank en parmantig.
'n Mens voel dat jy hulle as hanslammers kan grootmaak, maar jy wéét hulle sal ál die blomme opvreet en ál die melk opdrink.
Die huidige stand van die Afrikaanse roman?
Soos reeds gesê, ek dink die Afrikaanse romanskrywer skryf beter as ooit. Brink, Rabie, Kruger word in vreemde tale vertaal. Elsa Joubert wen nie alleen die hoogste literêre pryse in Afrikaans nie, maar sy kry die hoogste erkenning in die buiteland; André Brink het volkome internasionale erkenning, miskien één van die beroemdste Afrikaanse skrywers.
Die huidige stand van die Afrikaanse roman is goed.
Wie stry?